NR NO

189

JUNIE JUNE 2009

INHOUDSOPGAWE - CONTENTS

BLADSY / PAGE

VOORSITTERSVERSLAG 2009

2

SAFVCA: CURRENT POSITION REGARDING EU TRADE NEGOTIATIONS

4

ARBEIDSAKE: VERBLYFREG OP PLASE (Tweede artikel)

5

OORLAAIDE HARDESKYF SINDROOM

7

IPV RAADSLEDE VIR 2008/2009

9

CULDEVCO: WAAR STAAN ONS?

10

DAGBOEKDATUM: TEGNIESE INLIGTINGSDAG

12

NUUSBRIEF uitgegee deur die

NEWSLETTER issued by the

INMAAKVRUGTE PRODUSENTE VERENIGING

CANNING FRUIT PRODUCERS’ ASSOCIATION

Hoofstraat 258

258 Main Street

Posbus 414

P O Box 414

PAARL 7620

PAARL 7620

TELEFOON:

021-8721401

TELEPHONE: 021-8721401

FAKSIMILEE:

021-8722675

FAX:

E-pos:

[email protected]

Web page: www.canningfruit.co.za

021-8722675

REDAKTEUR / EDITOR : WIEHAHN VICTOR Reproduction of articles from this Newsletter to acknowledge DIE KRAT and author. Herdruk van artikels in hierdie Nuusbrief moet DIE KRAT en die skrywer erken.

____________________________________________________________________

2.

VOORSITTERSVERSLAG: 2009 Ek doen graag verslag oor die aktiwiteite van die Inmaakvrugte Produsente Vereniging oor die afgelope jaar. In vergelyking met die wêreld, wat ernstige negatiewe ekonomiese toestande ervaar, hoop ek dat die prentjie van ons Vereniging ietwat beter vertoon. Dat die ekonomiese druk ons gaan beïnvloed is nie te betwyfel nie, maar die uitwerking daarvan sal eerder in die volgende jaar gevoel word. Die effektiwiteit van die Vereniging moet egter gemeet word om sy prestasies met sy doelstellings te vergelyk. Dit is juis as gevolg van die knyp waarin die Inmaakvrugtebedryf hom sedert 2003/04 bevind dat die Departement Handel en Nywerheid se Inmaak Sagtevrugte Taakgroep tot stand gebring is en waarin die Vereniging ‘n aktiewe rol speel. Fase 1 is gedurende die afgelope jaar afgehandel teen ‘n koste van +R680 000 vir die Vereniging. Teen einde Junie sal besluit word of daar met Fase 2 voortgegaan sal word met die doel om marktoegang, bemarking, mededingendheid en transformasie te bevorder. Noue samewerking met alle rolspelers in die bedryf, is van kardinale belang sodat die Vereniging aan sy doelstellings kan slaag. Op Staatsvlak word gereelde vergaderings en onderhandelings met die Departement Handel en Nywerheid en die LNR gehou. Navorsingsprioriteite word met produsente, inmakers en die LNR bepaal en is ons wêreldleier inmaak kultivars ‘n voorbeeld van die sukses, wat op hierdie vlak behaal word. Teling en evaluasie, onderstamme, na-oes en verwerkingstegnologie, die uitdun van die nuwe generasie inmaakperskes en ‘n oesskattingsmodel, is van die navorsing, wat tans gedoen word. Culdevco, waarin die Vereniging ‘n 17% aandeel het, is verantwoordelik vir die kommersialisering van nuut vrygestelde kultivars en het die Vereniging die afgelope jaar sy eerste dividend ontvang van ±R110 000. SAPO is verantwoordelik vir plantverbetering en hier het die Vereniging ‘n verpligting van 20% tot die dienste wat SAPO lewer. Die Vereniging het ook ‘n 20% aandeel in die maatskappy wat die vaste bates van SAPO besit. Die verskaffing van goeie plantmaterial is onontbeerlik om die Inmaakvrugtebedryf se mededingendheid te verseker. Die Vereniging het ‘n aandeel van 15% in SIT Africa bekom, wat met die bestryding van die Meditereense Vrugtevlieg gemoeid is. Die raad is van mening dat die tegnologie om Vrugtevlieg suksesvol oor die langtermyn te beheer, beskikbaar is en dat produsente aangemoedig moet word om goeie bestuurspraktyke toe te pas. As onderhandelaar was die Vereniging die afgelope jaar betrokke by die hou van vergaderings met die komitees van die verskillende inmakers. ‘n Nuwe komitee is by Boland Pulp tot stand gebring en kontrakte tussen die verwerkers en produsente word beding. Dit dra grootliks by tot die geordende bedryf wat ons in Suid-Afrika het, veral in vergelyking met ons oorsese kompetisie. Goeie samewerking tussen SAFVCA en die IPV verseker ook dat die bedryf ‘n hoë profiel handhaaf met betrekking tot onderhandelings oor beter marktoegang, veral in die Europese Unie.

3. Twee vergaderings word jaarliks tussen die Vereniging en SAFVCA gehou, tesame met arbeid, om gemeenskaplike kwessies te bespreek soos produksies, aanplantings, innames, spuitstofontledings, markoorsigte, uitvoerstatistieke en handelsooreenkomste. Drie Raadsvergaderings, wat alle streke betrek, is gehou. ‘n Goeie tegniese inligtingsdag is in Stellenbosch gehou, terwyl die Ledevergadering in November 2008 ongeveer 120 belangstellendes gelok het. Die goeie bywoning deur produsente van die Vereniging se vergaderings is redelik uniek in die vrugtebedryf, en dit vergemaklik die Vereniging se taak om sy produsente op hoogte van sake te hou. Relevante inligting van ‘n tegniese aard word deurgegee en word lede ook blootgestel aan kundige sprekers uit verskillende agtergronde. Die Krat het vyf keer die afgelope jaar verskyn en produsente word deur middel van hierdie nuusbrief met die jongste nuus op datum gehou insake die Inmaakvrygtebedryf, plaaslik en ook oorsee. Die webwerf van die Vereniging is onlangs opgradeer. Besoek dit by www.canningfruit.co.za waar die doelstellings van die Vereniging, statistieke ten opsigte van aanplantings, graderingsregulasies, die spuitstoflys en tot resepte te kry is. Die verskillende produsentekomitees het gereeld vergader om oesskattings, navorsing en ontwikkeling, georganiseerde landbou, chemiese spuitstowwe, graderingsregulasies en verwerkte produkte te bespreek. Vergaderings word gereeld met ander produsenteverenigings (vars en droog) gehou. Finansieel het die Vereniging beter gevaar as die vorige jaar en kan ons vandag gesonde finansiële jaarstate voorlê, met ‘n skoon ouditverslag van ons ouditeure, PriceWaterhouseCoopers. Hierdie verbetering kan toegeskryf word aan goeie oeste met goeie pryse en ek glo elke lid van die Vereniging kry goeie waarde vir sy geld, wat hy aan heffings betaal. Die produksiekoste opname is opgradeer en alhoewel almal nie saamstem met al die syfers daarin vervat nie, gee dit ‘n goeie beeld met betrekking tot ons insetkostes. Die IPV se gebou word deeglik in stand gehou en is die dak die afgelope jaar vervang, terwyl ons die geleentheid benut het om kosteloos kantoorruimte te skep as gevolg van aanbouings, wat op die boonste verdieping plaasvind. Die Vereniging bied nog steeds sekretariële dienste aan die Koejawel Produsente Vereniging en verdien ons ‘n redelike inkomste daaruit terwyl die koejawelprodusente die kundigheid binne die IPV bestuur benut. In samewerking met die Kaapse Vroue Forum is ongeveer 1000 persone opgelei as Gesondheid- en Veiligheidsverteenwoordigers. Die Bestuurder is genooi om ‘n Internasionale Simposium in Argentinië toe te spreek. Die SIAL Voedselskou in Parys is bygewoon om die nuutste markinligting te bekom. Die 9de Wêreld Inmaakvrugte Konferensie in Australië is in Maart 2009 bygewoon. Deur genoegsame blootstelling bevorder die Vereniging sy belange en kan ek u verseker dat die meeste ander lande groot respek het vir die Suid-Afrikaanse Inmaakvrugtebedryf. Die verslag gee terugvoer oor die afgelope jaar se aktiwiteite, maar dit is juis die toekoms waarin ons al ons energie moet belê. Dat ons in die komende jaar uitdagings gaan ervaar, is nie te betwis nie, maar ek glo dat ons met ‘n toegewyde bestuur en personeel, ywerige raadslede en lede, wat die Vereniging aktief op vele terreine ondersteun, die toekoms positief kan benader. - ANTHONY DICEY

4.

Current Position Regarding EU Trade Negotiations Expanded access into the European Union (EU) for canned fruit products has for some time become part of the negotiations for a so-called SADC Economic Partnership Agreement (EPA) between the EU and Angola, Mozambique and all members of the Southern African Customs Union (SACU) i.e. South Africa (SA), Botswana, Lesotho, Namibia and Swaziland (BLNS countries). Trade between SA and the EU is currently governed by the bilateral Trade, Development and Cooperation Agreement (TDCA) which is compatible with World Trade Organisation (WTO) criteria, while EU trade with the other aforementioned countries has been controlled by the non-WTO compatible Cotonou Agreement which allowed protection of the African economies and open-access for most of their exports into the EU. This especially suited Botswana and Namibia, which are not Least Developed Countries (LDCs) as the others in the region, and thus benefit from the Everything But Arms (EBA) initiative of the EU that allows all their trade (except that in armaments) duty free into the EU. The EU stated it wanted to negotiate the WTO-compatible EPAs to prevent problems from WTO circles and presented the EPAs as developmental vehicles which it could strengthen with funding and various programmes. Many of the African countries have had problems with the EPA proposed by the EU and especially so from late 2007 when SA, Namibia, and later Angola, refused to initial an Interim EPA (IEPA) claiming that certain EPA elements the EU wanted were not suitable for developing economies and acted against their interests. Namibia initialled this IEPA along with BLS and Mozambique but with caveats that its “concerns” must be solved before it signed a Final EPA. In early 2009 the new EU Trade Commissioner, Baroness Catherine Ashton, displayed new flexibility and helped get new momentum into the negotiations by solving six of the main eight “concerns” held by SA, Angola and Namibia. By May it seemed as if Mozambique and all the countries of SACU apart from SA were ready to sign the IEPA, producing a solid platform for continued efforts to find EU consensus with SA and Angola in parallel with the ongoing finalisation of the EPA with those who had signed the IEPA. A final EPA could thus include SA or if it remains outside with its TDCA the latter could synergise its terms concerning EU imports with those of other SACU members - thanks to new EU flexibility that the industry’s lobbying has helped stimulate. In either case SA’s agricultural exports should get greatly improved access into the EU and the lobbying efforts have helped position our products as a priority in such a case. In May the EU unfortunately failed to incorporate the “solutions” found at Swakopmund into the IEPA text along with other issues. Namibia used this to refuse to sign the IEPA and now joins SA and Angola in discussions with the EU (in parallel with the discussions with the countries that signed the IEPA), to try for a solution along the lines noted above before December 2009. In the last months of 2009 the main focus will probably be on EU/SA discussions, especially as a partially signed IEPA can be deposited with the WTO, thereby helping many broader EPA to recede into the background. It seems important that negotiators find formulae that incorporate items from the three sets of issue areas involved, i.e. trade, political and developmental. The EU has been focussing on “pure” trade issues but the SA has tended to stress political/developmental related issues as possibly more important than what SA can gain from EU in trade access. Support to help the negotiations find a mutually acceptable solution by the end of 2009 could be useful and here ongoing industry lobbying and mobilisation of support from key markets such as the UK and Germany should be especially useful. If no such solution can be found by the end of 2009, prospects are strong for a hold on any expanded SA market access and possible EU support to capacity building in the South African agri-sector in a six to twelve month stalemate.

Report of SAFVCA

Compiled by:

JOHN MARE

5.

ARBEIDSAKE: VERBLYFREG OP PLASE (Tweede Artikel)

In die KRAT uitgawe van April 2009 is daar hoofsaaklik gehandel met die agtergrond tot die promulgering van Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (ESTA) en is die vraag: “Wie word deur ESTA beskerm?” ook kortliks bespreek. In hierdie opvolgartikel word daar gepoog om verder lig te werp op hierdie onderwerp en word daar veral gefokus op die praktiese implikasies van ESTA vir beide die boer, grondeienaar asook werknemers. Die konsep: “OKKUPEERDER” is belangrik en daar moet deeglik kennis geneem word van wie ‘n “OKKUPEERDER” is soos wat dit deur die ESTA Wet gedefinieer word. Hierdie definisie vorm die basis van al die spesifieke regte wat die WET aan beide die Werkgewer/Grondeienaar asook Werknemer verleen. Hier is dit veral belangrik om daarop te let dat die beginsel wat van toepassing is wanneer daar na ‘n sg. “okkupeerder” verwys word, veral rondom die vraag wentel of daar op enige stadium deur die plaaseienaar/grondeienaar of sy/haar amptelike verteenwoordiger enige toestemming aan die plaaswerker verleen is om op die plaas te woon. (U word na die vorige artikel – KRAT April 2009) verwys vir ‘n meer breedvoerige bespreking in dié verband). Vanweë die sensitiewe en hoogs-emosionele aard van behuising op plase, is dit raadsaam dat die Werkgewer/Grondeienaar in alle opsigte baie versigtig moet wees wanneer enige situasie rondom behuising hanteer word. Dit is veral belangrik dat die Werkgewer/Grondeienaar deeglik rekord hou van alle datums, gesprekke, konsultasies en ooreenkomste rondom behuising tussen Werkgewer/Grondeienaar en die Werknemer. Dit geld ook vir enige optrede deur die Werkgewer of Werknemer en enige onderneming gegee deur die Werkgewer/Grondeienaar. Fundamentele regte van Okkupeerders en Grondeienaars Geen argument is volledig indien daar nie gelet word op die Grondwet van Suid-Afrika en veral met betrekking tot die fundamentele regte wat die Grondwet aan landsburgers verleen nie. In hierdie verband is dit noodsaaklik om te weet dat die Grondwet van Suid-Afrika voorsiening maak vir die volgende fundamentele regte wat ook op toepassing van enige okkupeerder en grondeienaar gemaak kan word, naamlik: • ‘n Basiese reg tot menswaardigheid • ‘n Basiese reg op vryheid en sekuriteit van die persoon • ‘n Basiese reg op godsdiensvryheid, oortuiging, mening en uitdrukking • ‘n Reg tot vryheid van assosiasie • ‘n Basiese reg tot privaatheid • ‘n Basiese reg op vryheid van beweging Bogenoemde regte moet te alle tye gehandhaaf word. My ervaring is egter dat met gespanne situasies rondom behuising op plase daar dikwels ‘n ontkenning is deur beide partye (Werkgewer, maar ook Werknemer) van een of meer van die bostaande fundamentele regte. Dit – uit die aard van die saak – gee aanleiding tot ‘n destruktiewe gesprek en ‘n onnodige gespanne situasie tussen die Werkgewer/Grondeienaar en die Werknemer(s)/Okkupeerder(s).

6. Wie is ‘n Langtermyn-okkupeerder? Die antwoord hierop lê aan die kern van die vraag: Wie mag van die plaas/grond afgesit word en wie nie? Die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997, definieer ‘n langtermynokkupeerder as iemand wat 10 jaar of langer op ‘n plaas woon en wie die ouderdom van 60 bereik het OF wat nie langer vir ‘n Werkgewer/Grondeienaar kan werk as gevolg van swak gesondheid, ongeskiktheid vir werk of ‘n werksbesering nie. Dit dien daarop gelet te word dat die tydperk van 10 jaar ‘n tydperk van ononderbroke diens moet wees en dat daar ‘n bepaalde ouderdomsvereiste is, nl. 60 jaar. Die Wet maak geensins voorsiening vir slegs een van die twee kriteria nie, maar wel ‘n kombinasie van die twee. Indien enige persoon (in terme van die definisie van “okkupeerder”) voldoen aan die een van die bostaande kategorieë, mag so ‘n persoon se verblyfreg nie beëindig word nie, behalwe in die volgende gevalle: • Indien daar ‘n onherstelbare en fundamentele verbrokkeling plaasvind in die verhouding tussen die okkupeerder en die Werkgewer/Grondeienaar (bv. Doelgerigte beskadiging van Grondeienaar se eiendom deur die okkupeerder, aanranding van die Werkgewer deur die Werknemer); • Indien die okkupeerder doelbewus en sonder enige reg ‘n ander persoon, wat op die plaas/grond woon, aanrand en/of skade aandoen; • Indien die gedrag van die okkupeerder van so ‘n aard is dat dit ‘n bedreiging vir ander okkupeerders inhou; • Indien die okkupeerder op ‘n onwederregtelike en ongemagtigde wyse mense help om nuwe huise/skuilings op die plaas op te rig; • Indien die okkupeerder die eiendom van die grondeienaar sou beskadig; • Indien die okkupeerder ‘n belangrike voorwaarde en/of ooreenkoms met die Grondeienaar rakende sy/haar verblyf op die plaas sou verbreek of na sou laat om daaraan te voldoen. Dit is hier belangrik om te meld dat in so ‘n geval die okkupeerder wel in staat moes wees om aan hierdie ooreenkoms te voldoen en dat daar ‘n redelike kennisgewing deur die Grondeienaar/Werkgewer aan die okkupeerder moes wees met ‘n instruksie om hierdie voorwaarde na te kom. Indien enige van bostaande situasies mag ontstaan, sal dit nog steeds van kardinale belang wees dat die Werkgewer/Grondeienaar sodanige situasie met die grootste omsigtigheid sal hanteer. In die meeste gevalle lei enige van die bostaande tot ‘n hoog-emosionele situasie, wat dikwels meebring dat die Werkgewer/Grondeienaar ‘n impulsiewe besluit neem. Sodanige impulsiewe besluite of optredes kan ernstige negatiewe resultate vir die Werkgewer/Grondeiendaar tot gevolg hê; derhalwe my raad om eerder op ‘n koel en beredeneerde wyse die bepaalde omstandigheid te hanteer. In die hantering van die situasie sal dit belangrik wees om deeglik rekord te hou van datums, gesprekvoering, en ondernemings en/of ooreenkomste tussen die Werkgewer/Grondeienaar en Werknemers/Okkupeerder. Een van die eerste dinge wat die Werkgewer/Grondeienaar gewoonlik wil doen in die onstaan van enige van die bostaande situasies, is om die okkupeerder se reg op toegang tot basiese dienste soos elektrisiteit, water en sanitasie op te skort. WEES VERSIGTIG EN HANDEL VERANTWOORDELIK IN DIE VERBAND. Geen plaaswerker se reg op toegang tot hierdie basiese dienste mag opgeskort word indien dit met hom/haar ooreengekom is toe hulle op die plaas aangekom het en behuising aan hulle toegeken is nie. Indien ‘n plaasarbeider uitdruklike en/of stilswyende toestemming ontvang het van die Werkgewer of sy/haar verteenwoordiger om op die plaas te woon in ‘n huis met elektrisiteit en die eienaar daarna sy kragtoevoer afsny, kan dit as onwettige optrede beskou word. Die Werknemer kan dan vra dat die diens ten volle herstel word en indien die Werkgewer/Grondeienaar dit wel nie doen nie, kan die diens selfs herstel word deur die verkryging van ‘n hofbevel. VIR HULP EN/OF ADVIES RONDOM ENIGE ARBEIDSAANGELEENTHEID, SKAKEL: LEON BOSMAN (LEON BOSMAN & ASSOCIATES) TEL (021) 959-3181 ▪ SELFOON: 083-414-5679 ▪ e-pos: [email protected]

7.

OORLAAIDE HARDESKYF SINDROOM

Vir die eerste keer in jare sukkel ek met die onderwerp vir hierdie kwartaal – ek probeer my bes, niks wil werk nie en geen onderwerp klink gepas nie. Tussen al die aksie in hierdie aksie belaaide land, spreek niks tot my nie. Dalk is die rede, die feit dat daar te veel gebeur en my hardeskyf nog sukkel met die verwerking van dit wat twee maande gelede gebeur het… Feitlik niks kry kans om deurdink te word nie, min word deurpraat, weinig tyd word spandeer om kwessies filosofies van alle kante te bekyk voordat daar oorgegaan word tot optrede. Hier in Suid-Afrika is geen tussenpose tussen aksie en gevolg nie, want die volgende aksie is al aan’t gebeur voordat reaksie tot volle wasdom kom. Soos my vriendin se Nederlandse wederhelf ons so ‘n ruk gelede aanmaan, nadat ons kletsend van die een onderwerp na die ander spring en hy met die onderwerpe en taal probeer by bly: “julle praat geen onderwerp deur nie!”. Die afleiding wat gemaak kan word, is dat ons psiges die ‘aandagafleibaarheid’ aanneem in die elke dag gesprekke, doene en late. Bekyk die kwessies van die afgelope maande en dit is verstommend wat alles gebeur het na die verkiesing in April. Daar is die aangaande sages soos die Skerpioene se ontbinding, John Hlophe se verhoor, President Zuma se hofsaak, die SAA se finansies, die wêreldwye ekonomiese krises, Zimbabwe, werksverliese in alle sektore van Suid-Afika, die SuidAfrikaanse ekonomie se eie resessie en die nuwe ineenstorting van die SABC, Eskom se nuwe angswekkende prysstrukture, inherente korrupsie daagliks in alle vlakke van Regering en ook die persepsie van `n aanslag op die regbank. Tussendeur alles is die IPL Krieket vinnig en uiters suksesvol in Suid-Afika gereël, die Konfederasie Beker Sokker skop af, die sportspanne presteer (behalwe Bafana Bafana) met baie kykgenot vir sportliefhebbers en met die afwagting van die Wêreldbeker Sokker, wat om die draai is. Dan is daar die kwessies wat min oor geskryf word soos die feit dat basiese medisyne nie geredelik beskikbaar is vir klinieke of mediese praktyke nie; die geheime spioenasie oorloë, wat intern in die Regering woed; die aantal vlugtelinge wat ons land huisves en steeds instroom; die Regering se onvermoë om armoede te verlig en basiese dienste te verskaf ten spyte van mooi beloftes gemaak; die afwesigheid van vervolging van korrupte staatsamptenare en dié van afwesigheid van effektiewe polisiëring. Boonop is die verandering intens: die name van menige bekende omgewings, eeue oue instellings se mandate wat uitgekalf word en verander, wat gedryf word net om te verander, sonder enige verbetering van die bestaande, skep intense onsekerhede. Ingeweef daarin is die misdaad in Suid-Afika niks minder as `n interne mini-oorlog nie. Daar is die afgelope twee maande grusame moorde gepleeg deur bendes, universiteit studente, kollegas en familielede. Met so `n terugblik is dit verstommend wat aan die gebeur is. Die meeste van bogenoemde het direkte en indirekte impak op besighede en individue. Die gebeure het `n indirekte of direkte koste komponent. Die kwessies destabiliseer en demoraliseer en is buite die sirkel van invloed vir die gewone man op straat. Erger nog die oorgrootte van dit wat genoem is, is mensgemaakte krisisse en gebeur as gevolg van `n tekort aan leierskap, wanbestuur of `n tekort aan vaardighede.

8. Suid-Afikaners is verder oorbelaaid met armoede en ellende, wat elke dag skreeu om aandag soos Antjie Krog se gedig ‘die heifel en fiefel’ dit uitbeeld: Terwyl sy haar beursie toezip, dobber sy skaduwee links van haar hand Terwyl sy uit die parkeerplek tru beduie hy wild langs haar Terwyl sy kafee toe stap roer hy onder `n karton Terwyl sy haar rose snoei, kom vra hy water Terwyl sy die skottelgoedwasser pak staan hy by die hek Terwyl sy die vraestelle merk, lui haar deurklokkie Hy soek ou klere, leë bottels Geld vir `n taxi, geld vir begrafnis, geld vir sy kinders, geld vir sy ma …sal sy weer hangers koop of draaddiertjies van die Sengalese Of liewers die Big Issue en `n saak ondersteun Of sal sy gewoon vir die seuntjie gee met die toegekoekte neus Of die man met een been en nuwe aluminiumkrukke Of liewer op die volgende hoek Vir die ma met die kind op die rug in die pollution Of betyds vir die bedelende dwerg by die kruising van Upper Orange Buite die supermark veg twee om die trollie te stoot, drie beduie hulle het haar kar opgepas Voor die huis het vyf haar kar gewas en wag vir geld en kos Iemand sit `n roos op die tafel neer en vra geld, oor die telefoon kollekteer iemand vir die dowes oor die pos kollekteer World Vision vir Mthethelleli Terwyl sy sop skep, probeer sy dink: ysige water stoot deur die shack Voor die heater onthou sy; hulle bondel saam op die enigste bed By die Modderdam-De La Rey kruising Staan hulle swygsame rye vir piece job In Canterburystraat staan hulle in swygsame rye by die sopkombuis In St George’s Mall lê hulle swygsame rye dol van koue of honger of gom Die armes kom na haar toe aan Vanuit alle uithoeke van die aarde Hulle drom in die leegtes saam en klim op na die bergterrasse Daar is niks te doen nie of hulle is met haar en haar onvermoë om `n eerbare lewe In verhouding tot die armes te lewe.

Dan lees ek in Franz Kafka se boek oor “The Businessman”: ‘It is possible that there are a few people who feel sorry for me, but if they do I can’t feel it. My business fills me with worries that cause me pain behind my brow and my temples…my money is in the hand of strangers; I have no knowledge of their circumstances; I am unable to sence the calamity that may strike at any moment, much less avert it! Perhaps they have grown extravagant, and are throwing parties in beer gardens, parties briefly attended by others.’

Gelukkig is daar Nando’s, Zapiro, Dowwe Dolla, Poena, rugby, sonskyn, familie, vriende en geestelike fondasies om die spanning te verlig: so oorleef ons dag vir dag die fantastiese, skisofreniese, een in sy soort, beeldskone land van ons! Oorlaaide hardeskyf of de not…

DEIDRé EIGELAAR: PRAKTIKA: 022 913 2933 : [email protected]

9.

IPV RAADSLEDE VIR 2009/2010 Tydens die Algemene Jaarvergadering wat gehou is op 18 Junie 2009, is die volgende Raadslede eenparig verkies om in die onderskeie areas as verteenwoordigers op die IPV Raad te dien vir die 2009/2010 termyn. Baie geluk ook aan ons Voorsitter en Vise-Voorsitters wat herkies is. VOORSITTER: A G DICEY VISE-VOORSITTERS: H L F VAN DER MERWE EN F J VAN DER MERWE ERE-PRESIDENT: A V VAN DER MERWE Area

Verteenwoordiger

Citrusdal / Porterville / Piketberg

D J Eigelaar

Tulbagh

J P Theron J H Theron

Wolseley

A G Dicey

Worcester / Breërivier

F R Botha

Ceres: Swaarmoed

A F Smith

Ceres: Koue Bokkeveld

F J van der Merwe C L van Zyl

Ceres: Witzenberg Vallei

I S Hanekom

Ceres

B J van Rensburg

Prince Alfred Hamlet

F D Conradie D P Goosen

Ladismith / Calitzdorp / Oudthsoorn

W M Nel

Swellendam / Barrydale

J H Kriel

Ashton / Bonnievale

G Smuts H L F van der Merwe

Montagu / Koo

J D Stemmet C Jordaan

Robertson

J K de Wet

Grabouw / Stellenbosch / Paarl / Franschhoek

P Reuvers

Caledon / Villiersdorp / Riviersonderend

A G le Roux S Malherbe

Joubertina / Uniondale

J C Strydom

10.

CULDEVCO: WAAR STAAN ONS? Die afgelope drie jaar het Culdevco homself as ’n privaat maatskappy, wat in ’n baie kompeterende omgewing van die bestuur van intellektuele eiendom van sagtevrugte opereer, binne Suid-Afrika asook in die meeste lande waar sagtevrugte verbou word, gevestig. Na die stigting van Culdevco en die ondertekening van die eksklusiewe lisensie ooreenkoms tussen Culdevco en die LNR in Junie 2006, is daar aanvanklik gekonsentreer op die volgende aktiwiteite; onderhandelings tussen en formalisering van die aandeelhouersooreenkoms met SASPA, SAAPPA, SAT, DTD en IPV; onderhandelinge en ondertekening van ooreenkomste met diensverskaffers; die daarstel van kommersialiseringsmeganismes van binne- en buitelandse lisensiehouers, die daarstel van ’n regverdige binne- en buitelandse boom- en produksie tantiem norme; daarstel van meganismes om effektiewe skakeling met produsente organisasies te verseker asook ’n aktiewe bemarkingsaksie binne sowel as buite Suid-Afrika ten opsigte van Culdevco gelisensieërde kultivars. Daarstel van ooreenkomste met diensverskaffers: SAPO Trust is aangestel om namens Culdevco die plantverbetering- en plantvermeerdering aksies van Culdevco gelisensieërde materiaal te bestuur. SAPO is ook deur Culdevco genader om behulpsaam te wees met tantiem insameling asook die jaarlikse bestuur van Fase 3 evaluasie ooreenkomste met spesifieke bemarkings-/ uitvoer organisasies. Die een-stop-diens van SAPO ten opsigte van die bestuur van: boomverkope; ondertekening van gepaargaande nie-vermeerderingsooreenkomste en die tydige betaling van boom/stok tantieme; ‘n onderneming van produsente ten opsigte van die tydige betaling van produksie tantiemes en die gebruik van kontrole meganismes vir die verifiëring van produksie tantiemes het grootliks bygedra tot die huidige effektiewe bestuursmeganisme van die kultivars en ’n beter beheer oor tantiem inkomstes. SPT Bedryfsdienste is aangestel om die finansiële, administratiewe, sekretariële en IT aktiwiteite te bestuur. SPT Navorsing is aanvanklik aangestel om alle bestaande sowel as nuwe teel en evaluasie projekte te bestuur (ingesluit om die jaarlikse goedgekeurde betalings vanaf SAAPPA, SASPA en SAT aan die LNR te koördineer). Intussen is daar deur Culdevco in samewerking met al die betrokke produsente verenigings besluit dat alle aspekte (insluitende navorsing) rakende kultivarontwikkeling (Fase 1, 2, 3) voorts op ’n kommersiële grondslag hanteer sal word en die finale besluit by Culdevco gesetel sal wees. SPT navorsing sal dus steeds verantwoordelik wees vir die prioritisering van nuwe projekte sowel as die wetenskaplike evaluasie van bestaande projekte en ’n aanbeveling daaromtrent aan Culdevco maak. Culdevco is dan verantwoordelik vir die finale besluitneming en implementering van besluite, ingesluit die oorbetaling van fondse (hetsy vanaf produsente organisasies of uit eie winste). Kultivars tans onder die bestuur van Culdevco: Huidiglik bestuur Culdevco 115 sagtevrugte kultivars. Die kultivars sluit in 20 pruime; 33 perskes (10 inmaak, 6 droog en 17 dessert); 25 nektariens (3 droog en 22 dessert); 4 appelkose (een droog/inmaak en 3 dessert ); 7 appels, 15 pere (ingeslote is 3 blospere en 4 miniatuur peertjies) en 11 tafeldruiwe. In totaal is 20 van die kultivars die afgelope 3 jaar deur Culdevco aan die bedryf vrygestel. Die kultivars wat deur Culdevco vrygestel is, sluit in een appel, een peer, 5 pruime, 7 perskes (wat 3 inmaak-, 2 droog- en 3 dessert perskes insluit) en 6 nektariens (wat 3 droog nektariens insluit). Meer inligting aangaande bogenoemde kultivars kan op die Culdevco webwerf gevind word. Kultivars onder evaluasie Prosedures is ontwikkel om LNR geteelde sagtevrugte seleksies verder binne Culdevco effektief te evalueer. Dié sagtevrugte seleksies wat ’n duidelike bemarkingsgaping vul en as ’n hoë prioriteit deur kundige persone in die bedryf wat op die Culdevco Advieskomitees dien, geïdentifiseer is, word tans deur Culdevco self verder tuinboukundig en vir koelopbergingsvermoë geëvalueer.

11. Ander seleksies wat as prioriteit geïdentifiseer is, maar waar daar onsekerheid bestaan of dié seleksies beter as bestaande kultivars in die markplek presteer, word op tender geplaas vir verdere evaluasie in Fase 3. In dié verband is reeds die 19 steenvrugte (2 pruime, 5 perskes en 10 nektariens en 2 appelkose), 2 appels, 4 miniatuur pere en 14 tafeldruiwe op fase 3 tenders geplaas. Daar is dan ook reeds Fase 3 kontrakte met 17 organisasies geteken. Hierdie Fase 3 ooreenkomste word deurlopend deur Culdevco bestuur. Daar is ook op ’n ad hoc basis evaluasie ooreenkomste met 4 verskillende organisasies geteken om 14 ouer tafeldruif seleksies wat vroeër van die prioriteitslys as gevolg van een of ander negatiewe eienskap verwyder is, weer te evalueer oor ’n tydperk van 4 jaar. Die evaluasie ooreenkoms behels dat indien die organisasie daarin slaag om ’n oplossing vir die negatiewe eienskap van die betrokke seleksie te vind, so ’n organisasie ’n eksklusiewe lisensie vir die seleksie se kommersialisering sal ontvang. Op die vroeë stadium toon ten minste 4 van die tafeldruif seleksies baie belofte en sal die kommersiële lisensies met die betrokke organisasie gedurende 2010 met die betrokke organisasies gefinaliseer word. Lisensie ooreenkomste Binne Suid-Afrika is kern-en steenvrugte lisensie ooreenkomste hoofsaaklik met organisasies onderhandel wat bepaalde Fase 3 ooreenkomstes gehad het. In dié verband is reeds ooreenkomste met 8 Suid-Afrikaanse organisasies onderhandel wat 7 steenvrugte, een peer en een appel kultivar insluit. Twee lisensie ooreenkomste is ook reeds onderteken met twee SuidAfrikaanse organisasies om twee Culdevco gelisensieërde tafeldruif kultvars te kommersialiseer. Wat buitelandse ooreenkomste betref, is daar reeds 4 ooreenkomste gefinaliseer en deur alle betrokke partye onderteken terwyl daar met ten minste 9 buitelandse organisasie tans onderhandel word ten opsigte van lisensie ooreenkomste vir spesifieke steenvrugte en tafeldruiwe. Uitbouing van IP ( Handelsmerke) Volgens die LNR / Culdevco getekende ooreenkoms behou die LNR die eienaarskap van die Planttelersregte op al die kultivars wat deur die LNR geteel word. Gedurende die afgelope drie jare van Culdevco se bestaan is reeds 6 handelsmerke in die naam van Culdevco geregistreer vir die gebruik van die bemarking van hoë-waarde Culdevco gelisensieërde sagtevrugte kultivars. Twee van die handelsmerke is vir pruime (African Delight™, African Rose™), een vir die geel skil taaipit nektarien reeks (Nectargold™), een vir die geelskil droog nektariens (Colorburst™), een vir die miniatuur peer reeks (Babypears™) en een vir die belowende blos peer (Cheeky™) amptelik binne Suid-Afrika geregistreer. Nie net sal die waarde van die handelsmerke oor tyd groei nie, maar hou bogenoemde handelsmerke ook groot voordele in vir die bemarkingstrategieë van die onderskeie vrugte. Bemarkings aktiwiteite Een van die vernaamste doelwitte van Culdevco was om Culdevco gelisensieërde kultvars so wyd as moontlik te bemark. Om dit te bewerkstellig is die afgelope jare al die verskillende sagtevrugte streke van die dessert, inmaak en droog bedrywe ten minste een keer besoek (die vernaamste streke is selfs meer kere besoek) om nie net die struktuur en werkswyse van Culdevco te verduidelik nie, maar ook om die wye verskeidenheid van reekse van kultivars te bemark. Daarbenewens is uitvoerders, groter produsente en produsente uitvoerders ook spesifiek geteiken om kultivars te bemark. Daar is ook reeds 4 kultivars inligtingsdae gehou waartydens bogenoemde 20 kultivars aan die onderskeie Suid-Afrikaanse bedrywe vrygestel is. Jaarliks word daar ook verskeie kern-en steenvrugte en tafeldruiwe uitstallings sowel as velddae gehou waar belangstellende produsente van die belowendste nuwe kultivars kan besigtig. Inligtingsbrosjures van die verskillende steenvrug reekse en detail inligting van vrygestelde kultivars en belowendste seleksies is opgestel, gedruk en versprei gedurende inligtingsdae en wanneer uitstallings gehou is. Daagliks word Culdevco bestuurder ook op ’n ad hoc basis genader deur spesifiek produsente, tegniese adviseurs en/of bemarkingsorganisasies om behulpsaam te wees met die keuse van kultivars en/of meer inligting aangaande Culdevco gelisensieërde kultivars te verskaf.

12. Dan is die Culdevco webwerf (www.culdevco.co.za) ook opgradeer waarin onder meer detail inligting aangaande die nuwe kultivars wat vrygestel is, Culdevco doelwitte, struktuur en werkswyse, kultivars wat jaarliks op tender geplaas word, Fase 3 tender prosedures vir Culdevco gelisensieërde kultivars asook ’n koppeling na die ouer reekse van Culdevco gelisensieërde kultivars wat nog destyds deur die LNR vrygestel is, beskikbaar is. Die bestuurder van Culdevco het ook reeds 3 oorsese reise onderneem, waartydens 8 verskillende lande besoek is om Culdevco gelisensieërde kultivars te bemark. Meer inligting aangaande die resultaat van die besoeke kan onder Lisensie ooreenkomste hierbo gevind word. Betrokkenheid by opkomende sagtevrugte produsente Die beskikbaarmaking van Culdevco gelisensieërde kultivars aan opkomende sagtevrugte produsente is ’n hoë prioriteit vir Culdevco en is die bestuurder van Culdevco deurgaans baie nou betrokke by die identifisering van die nuuste kultivars wat deur Culdevco vrygestel is vir aanplanting deur opkomende produsente en werk Culdevco ook baie nou saam met die Sagtevrugte Ontwikkelingskamer. Geleenthede en knelpunte in die toekoms Dit is die mening van Culdevco dat die voorspoed wat Culdevco tot op hede beleef het grotendeels verband hou met die bemarking deur Culdevco en verkoop van bome van Culdevco gelisensieërde kultivars. Bogenoemde hou op sigself weer verband met die voorspoed van veral die steenvrugte produsente gedurende die afgelope drie jaar. Die impak van die die huidige resessie kan wel sagtevrugte produsente in die toekoms negatief beïnvloed en boomverkope drasties laat afneem. In dié verband het Culdevco produksie tantiemes geïmplementeer om inkomstes oor die medium tydperk te verseker.

Leon von Mollendorff Bestuurder: Culdevco

--------------------------------------------------------------------------------------------

TEGNIESE INLIGTINGSDAG VIR VRUGTEPRODUSENTE Neem asseblief kennis dat die Inmaakvrugte Produsente Vereniging en Droëvrugte Tegniese Dienste weer soos in die verlede ‘n gesamentlike Tegniese Inligtingsdag gaan aanbied en wel op: WOENSDAG 26 AUGUSTUS 2009 OM 08:30

‘n Volledige program volg eersdaags