Wat het geboorte met leer te make?

Wat het geboorte met leer te make? Melodie de Jager ’n Kind begin nie leer wanneer hy of sy graad 1 toe gaan nie, dit begin al gedurende swangerskap w...
Author: Ellen Walker
206 downloads 4 Views 696KB Size
Wat het geboorte met leer te make? Melodie de Jager ’n Kind begin nie leer wanneer hy of sy graad 1 toe gaan nie, dit begin al gedurende swangerskap wanneer elke stukkie toerusting wat noodsaaklik is vir leer, ontwikkel. Hierdie “stukkies toerusting” is die sintuie (vel, balansstelsel, neus, mond, ore en oë), die brein (gevoels- en denkende dele van die brein), die spiere (groot en klein spiere) asook die senuweestelsel wat die sintuie, brein en spiere verbind en laat saamwerk. Hierdie stukkies toerusting moet eers ontwikkel voordat baba die vaardighede ontwikkel om dit te gebruik. Dit is presies wat gebeur wanneer baba sy handjies vir die eerste keer begin ontdek en gefassineer na hulle staar terwyl hy hulle voor sy oë ronddraai, en later wanneer hy sy hande gebruik om ’n ertjie of ’n stukkie wortel op te tel. Baba se instink om sy handjies rond te draai, te beweeg en na voorwerpe te gryp, help met die bedradingsproses. Die bedrading en gebruik van baba se sintuie, brein en spiere word behartig deur ’n primitiewe refleksstelsel waarmee elke baba gebore word. Die primitiewe refleksstelsel spoor baba aan om op ’n sekere manier te beweeg om ’n spesifieke sintuig, deel van die brein of spiergroep te bedraad. Hierdie bedradingsproses gebeur nie oornag nie en daar is tienduisende herhalings nodig voordat die leertoerusting goed werk. Die leertoerusting (sintuie, brein, spiere en die bedrading wat hulle verbind) moet eers ontwikkel voordat baba kan leer om om te rol, handjies te klap of ’n kersie dood te blaas op sy eerste verjaardag. Herhaling is egter nie die enigste manier waarop die bedrading plaasvind nie. Dit kan ook ontwikkel as gevolg van ’n intense ervaring. Die verskil tussen hierdie twee leermetodes kan duidelik gesien word wanneer jy baba leer om te waai of handjies te klap – dit verg baie herhalings voor hy sal doen wat jy van hom vra. Hy sal baie minder herhalings nodig hê om te leer om nie aan ’n warm ketel te raak nie, want die intensiteit van die ervaring skakel die nodigheid van talle herhalings uit.

Dit verg 50 000 herhalings van ’n spesifieke beweging om die brein te bedraad. · ’n Baba wat net 1 028 treë per dag aflê, moet 48 dae lank oefen om net so ver te ontwikkel soos ’n baba wat 3 198 treë binne slegs 14 dae aflê. · 30 minute verkenningstyd = die fisieke inspanning van ’n 2 uur lange aërobiese oefensessie · Babas wat pas begin loop het, gebruik soveel energie soos iemand wat elke week ’n marathon (42 km) hardloop · ’n Baba wat pas begin loop het, gee gemiddeld 13 185 treë per dag en val 90 keer – ’n afstand gelykstaande aan 39 rugbyvelde per dag.

Natuurlike geboorte is ’n intense sensoriese, brein- en spierbedradingservaring wat die behoefte aan baie herhalings om die leertoerusting te ontwikkel, vervang. Die manier waarop ’n baba gebore word, die wyse waarop en die tempo waarteen hy gedurende sy eerste lewensjaar sy mylpale bereik, speel ’n rol in ’n kind se vermoë om te leer. Dit kan een van die redes wees waarom hy ’n paar jaar later lomp is, onduidelik praat of sukkel om stil te sit en te konsentreer op lees en skryf, in plaas daarvan om elke oomblik van sy skoolloopbaan te geniet. Dit is waarom daar altyd ’n paar standaardvrae gevra word wanneer ’n kind ’n terapeut vir emosionele of leerondersteuning besoek. Hierdie vrae beklemtoon die rol van swangerskap, geboorte en mylpale in die ontwikkeling van ’n kind se toerusting om sowat ses jaar later onafhanklik te word, regop te sit, maats te maak en met ’n netjiese potloodgreep somme te doen. Die tipiese vrae wat terapeute vra, sluit in:

    

Hoe het die swangerskap verloop? Hoe is baba gebore – brugbaba, normale geboorte, ingryping tydens geboorte, beplande keisersnee, geïnduseerde geboorte of noodkeisersnee? Was daar enige probleme met voeding? Het baba sy mylpale binne die normale tydsraamwerk bereik? Het baba hande-viervoet gekruip?

Geboorte skenk is spanwerk tussen ma en baba. Net soos om aan ’n warm ketel te raak, vervang die intensiteit van die ervaring van die normale geboorteproses die behoefte aan duisende herhalings van die drie geboortereflekse – die TLR, ATNR en Kriewelrefleks, en die stimulasie van die Soek- en Suigrefleks. Hierdie vier reflekse hou enorme implikasies in vir ’n kind se vermoë om te leer, aangesien elk van hierdie primitiewe reflekse verantwoordelik is vir die bedrading van ’n spesifieke deel van die toerusting wat nodig is vir leer. Primitiewe reflekse TLR (Toniese Labirintiese Refleks) In die baarmoeder gebruik die Toniese Labirintiese Refleks stimulasie deur vibrasies om die ruggraat te kielie en baba se kop aan te moedig om vorentoe en agtertoe te beweeg. Wanneer die kop vorentoe beweeg, neem die liggaam die fetusposisie in; wanneer die kop agtertoe beweeg, strek die liggaam agteroor. Hierdie refleks het ’n geweldige impak op die drie “waterpasse” in die drie halfmaanvormige kanaaltjies in die binneoor, wat die spiertonus beïnvloed sodat hy sy kop stil en reguit kan hou, en om sy kern (rug- en maagspiere) stabiel te hou. ’n Stabiele kern en ’n stil kop help baba om vas te stel uit watter rigting ’n geluid kom – ’n baie belangrike leervaardigheid omdat dit hom in staat stel om na ander mense te kyk en te luister, maar nog belangriker omdat dit hom help om te hoor uit watter rigting gevaar kom sodat hy dit kan vermy en veilig voel.

TLR vorentoe

TLR agtertoe

Wanneer baba nie kan vasstel uit watter rigting ma met die koffieskinkbord aankom, van watter kant af pa met die grassnyer kom of dat die hond kwaai is nie, kan baba baie seerkry. As hy te veel kere seerkry, maak dit hom bang en onseker. As hy dan boonop nie pa of ma se stemtoon, of die trots in oupa en ouma se stemme wanneer hulle met hom praat, kan onderskei nie, leer hy ook nie hoe om sy emosies uit te druk nie. As baba nie sensitief is vir ander mense se gevoelens en emosies nie, help dit hom nie om maats te maak nie. Hy skep dan die indruk van iemand wat nie omgee nie, of selfs van ’n aggressiewe kind wat nie met ander kinders van sy ouderdom oor die weg kom nie. Gehoor is ’n baie belangrike deel van emosionele en sosiale ontwikkeling om dit die gevoelsbrein bedraad. Sonder gehoor is die emosionele brein se bedrading nie so doeltreffend nie, met die gevolg dat baba (ook later as kind) skynbaar emosioneel onvolwasse optree. Sonder gehoor om emosioneel te ontwikkel en taal aan te leer, is hy geneig om swakker gevoels- en denke-breinbedrading en sterker refleksbreinbedrading te ontwikkel – tensy hy spesiale aandag kry. Refleksiewe breinbedrading maak dit baie moeilik om die name van voorwerpe, kleure, vorms en syfers te leer, daarom is dit die beste om baba vir ’n gehoortoets te neem. Neem kennis as ’n harde geluid, donderweer of ’n deur wat klap baba nie laat skrik nie; dit kan ’n teken wees dat sy gehoor nie na wense is nie. Hy het dalk nie ’n aangebore gehoordefek nie, maar oorinfeksies, sekere antibiotika en harde geluide kan sy gehoor beperk. In so ’n geval mag baba dalk hulp nodig hê om die gelukkige, gesonde, slim kind te word wat hy kan wees.

’n Kind wie se Toniese Labirintiese Refleks nie intens gestimuleer is tydens ’n natuurlike geboorte of deur genoeg herhalings tydens magietyd in die eerste paar maande van sy lewe nie, het ’n beperkte aanvoeling van waar hy hom bevind en sukkel gevolglik ook om te bepaal waar die res van die wêreld is. So ’n kind kan dit moeilik vind om ruimte te ervaar, die afstand, diepte, krag en spoed te skat wat nodig is om ’n bal te gooi, te teken, te knip of hom aan te trek – en al hierdie dinge strem motoriese beplanning, fynmotoriese beheer en taakvoltooiing. Dit strem ook die lees van letters en syfers, kortwiek spel- en skryfvaardighede as gevolg van ruimtelike verwarring, en maak dit vir hom moeilik om goed in volgorde te rangskik. Hierdie kind voel bowenal voortdurend bedreig en is geneig om te veg, te vries of te vlug van aanraking ten einde weer veilig te voel. Die volgende noodseine by ’n ouer kind kan daarop dui dat die balans- en gehoorapparaat bedraad moet word: • Lae spiertonus • Swak kop- en nekbeheer • Swak kernstabiliteit • Sit met bene in ’n W-posisie • Onvermoë om regop te sit met bene, knieë en enkels teen 90˚-hoeke • Swak balans • Vrees vir hoogtes en om met trappe op of af te klim • Bang om oor ’n hangbrug of dek met sporte te loop • Sukkel om met trappe af te klim sonder om aan handreling vas te hou • Moegheid omdat hy voortdurend beweeg of teen swaartekrag veg • Sukkel om aandag te gee en te konsentreer • Swak ouditiewe persepsie • Vra dikwels: “Wat?” • Oormatig sensitief of glad nie sensitief nie vir harde of skielike geluide • Kan nie instruksies in volgorde volg nie • Geneig om goed om te ruil • Vertraagde reaksies op geluide of instruksies • Weet nie waar om te kyk om oorsprong van geluid te bepaal nie • Praat te hard • Sukkel om te skryf en te eet. Die volgende Mind Moves is nuttig vir kinders met drie of meer van die noodseine om die brein en liggaam effektief te herbedraad ten einde die Toniese Labirintiese Refleks te inhibeer. Antennaversteller Masseer albei oorskulpe gelyktydig van bo na onder met sirkelbewegings. Herhaal drie maal. Nekdraaier Staan regop asof nek en ruggraat ’n string krale is. Draai kop stadig so ver moontlik na links en behou hierdie posisie vir 8 tellings. Draai nou stadig kop so ver moontlik na regs, met ruggraat reguit. Behou hierdie posisie vir 8 sekondes. Herhaal 3 maal. ATNR (Asimmetriese Toniese Nekrefleks) Die Asimmetriese Toniese Nekrefleks laat die baba sy regterarm en -been uitstrek terwyl die linkerarm en -been buig. Na ’n rukkie kry die linkerarm en -been weer ’n beurt om uit te strek terwyl die regterarm en -been buig. Hierdie eensydige arm- en beenbeweging word veroorsaak deurdat die Asimmetriese Toniese Nekrefleks die kop in

die rigting van die reguit arm laat draai. Hierdie refleks ontstaan in die baarmoeder waar dit donker is en baba nie sy hand kan sien nie, selfs al kyk hy daarna. Baba hou aan om hierdie een-arm-en-been-skop te oefen sonder om te besef dat hy hom gereed maak vir die geboorte, aangesien die ATNR hom leer om sy kop heen en weer te draai sodat hy maklik om die twee skerp hoeke van ma se bekken kan beweeg op pad afwaarts deur die geboortekanaal, en sodat hy maklik kan soog wanneer ma hom met voedingstyd van een bors na die ander verskuif en hy sy kop moet draai om aan te pas.

Baba draai sy kop ’n paar maande lank refleksief heen en weer voordat sy oë genoegsaam ontwikkel dat hy ’n stadig bewegende helderkleurige speelding van links na regs kan volg of voordat hy gereed is om na voorwerpe vlak voor hom te kyk. Terloops, baba leer min of meer wanneer hy leer sit om na iets reg voor hom te kyk. Maar nog voordat hy kan sit, en mits hy genoeg geleentheid kry om baie tyd op sy magie deur te bring, sal sy heen-en-weer-kykery en skoppery hom help om om te rol. Wanneer hy na albei kant toe rol, leer baba dat sy liggaam ’n linker- en ’n regterkant het en dat hierdie twee kante deur ’n middellyn geskei word. Dié middellyn tussen sy linker- en regtersye is baie nuttig wanneer hy eendag groot skool toe gaan, want al die letters en syfers is rondom daardie lyn gerangskik – óf op die lyn óf links of regs van die lyn. ’n Baba wat nie ewe gereeld na albei kante toe gerol het nie, kan nie oordeel waar letters en syfers moet staan nie, wat dit baie moeilik maak om te lees, te skryf, te spel en somme te doen op skool. Die ATNR is nie net behulpsaam tydens die geboorteproses nie, maar word ook versterk deur natuurlike geboorte. Dit is moontlik die rede waarom sommige babas wat met behulp van ’n verlostang of keisersnee gebore word, ’n groter risiko loop om ontwikkelingsagterstande te hê -Sally Goddard Noodseine wat daarop dui dat die ATNR nie die bedradingsproses voltooi het nie en dat die oë van ’n ouer kind nog bedraad moet word: • Het nie hande-viervoet gekruip nie, maar hande-viervoet geloop of op sy sitvlak geskuifel • Onvermë om die middellyn te kruis • Linker- of regterhanddominansie te gevestig nie • As die kop na die kant toe draai, volg die arm en been • Lomp en swak gekoördineerde bewegings • Nie goed met huppel en galop of touspring nie • Oë spring na die middelveld wanneer hy ’n voorwerp van links na regs volg • Neem die hele skoolbank in beslag; kan nie aan een kant bly nie • Sukkel om ’n simmetriese prent te voltooi • Swak visuele persepsie • Weerstand teen lees en skryf • Ruil goed om • Beweeg kop wanneer hy lees • Diskrepansie tussen verbale en skriftelike werk • Swak oog-hand-koördinasie • Handskrifprobleme

• Plaas boek weg van middellyn • Skryf langs die liggaam • Draai die boek 90° • Skryf skuins oor bladsy. Die Kernspieroefeninge is ’n reeks Mind Moves wat die bedrading van die oë versterk. Hierdie reeks bewegings boots die ATNR na indien dit minstens twee maal per dag oor ’n tydperk van ses weke gedoen word. As die oë behoorlik bedraad is, sal bogenoemde gedragsnoodseine geleidelik verdwyn en sal die kind makliker kan lees en skryf. Mind Moves-kernspieroefeninge – terwyl jy op jou rug lê Stap 1 Lê op rug. Beweeg stadig linkerarm en -been asof hulle aan mekaar vasgebind is en draai kop om na linkerhand te kyk. Beweeg stadig regterarm en -been asof hulle aan mekaar vasgebind is en draai kop om na regterhand te kyk. Herhaal 10 maal. Stap 2 Bly lê op rug en herhaal Stap 1, maar beweeg kop stadig in die teenoorgestelde rigting as uitgestrekte arm en been. Herhaal 10 maal. Stap 3 Bly steeds lê en bind ’n blou lint om linkerarm en regterbeen, en ’n rooi lint om regterarm en linkerbeen. Bring rooi arm en been na mekaar toe en strek die ander arm en been uit sonder om kop te beweeg. Bring nou blou arm en been na mekaar toe en strek rooi arm en been uit sonder om jou kop te beweeg. Herhaal 10 maal. Ontspan. Stap 4 Wanneer Stap 1–3 sonder moeite voltooi kan word (dit kan weke duur), kruip hande-viervoet terwyl kop na links en na regs draai. Stap 5 Sodra Stap 4 sonder moeite gedoen kan word, staan op en doen bilaterale kruip terwyl oë op, af, links en regs draai; fokus naby en ver. MOENIE kop draai nie. Kriewelrefleks Wanneer ’n baba op sy magie neergesit word en die gedeelte langs die ruggraat gestimuleer word, draai die baba onwillekeurig sy heup 45° in die rigting van die prikkel.

Die Kriewelrefleks werk saam met die ATNR om die baba uit die geboortekanaal te “skroef”. Dit stimuleer ook heupbuiging en romprotasie na geboorte. Heupbuiging, wat tegelykertyd met kopbeheer ontwikkel, is die opvallendste na geboorte wanneer baba op sy rug lê en energiek en ongehinderd met albei bene skop. Die bene buig en strek onophoudelik om hul beweeglikheid te verhoog en genoeg krag en beheer te kry om die bene langer in die lug te kan hou.

Heupbuiging sonder romprotasie sal nie baba voorberei om te rol, te sit, te kruip of te loop nie. Romprotasie vind in die bolyf tussen die heupe en skouers plaas. Romprotasie is noodsaaklik vir beweeglikheid, aangesien dit baba in staat stel om van posisie te verander. As die Kriewelrefleks nie die bedrading van die spesifieke stuk toerusting voltooi het nie, lei dit tot rustelose bene, asof die rek van die lyfband voortdurend die refleks aktiveer. Dit belemmer konsentrasie in die klas en die vermoë om instruksies te volg. Noodseine  Rustelose bene  Onvermoë om stil te sit  Bednatmakery  Swak konsentrasie  Swak korttermyngeheue  Swak postuur  Loop mank  Vermy soms sport vanweë rukkerige bewegings en gebrek aan beweeglikheid. Die volgende Mind Moves is nuttig vir kinders met drie of meer van die noodseine om die brein en liggaam effektief te herbedraad ten einde die Kriewelrefleks te inhibeer. Romproteerder Lê plat op rug, sprei arms oop en lig knieë tot heuphoogte. Wieg knieë stadig na links tot linkerknie aan vloer raak, en dan na regst tot regterknie aan vloer raak. Die skouers en lae rug moet aan die vloer “vasgeplak” bly. Hierdie beweging versterk die kernspiere terwyl dit die skoueraksie van die heupaksie skei om die sitvermoë, fokus en konsentrasie te verbeter. Dit vorm ook die grondslag vir die kruising van die laterale middellyn. Die waarde van natuurlike geboorte vir toekomstige ontwikkeling kan nie oorskat word nie. Daarom is ’n positiewe verhouding tussen ouers en geboorte-opvoeder van deurslaggewende belang om die spanpoging (tydens swangerskap en geboorte) te bevorder sodat elke nuwe baba die beste moontlike kans kry om te floreer en ’n paar jaar later uit te blink in die skool en op die sportveld. De Jager, M. 2011. Brain Development MILESTONES and Learning. Johannesburg: Mind Moves Instituut. De Jager, M. 2011. Breinontwikkeling MYLPALE en leer. Johannesburg: Mind Moves Instituut. Eliot, L. 2000. What’s Going On in There? New York: Bantam Books. Goddard Blythe, S. 2008. What Babies and Children Really Need. Gloucestershire: Hawthorn Press. Odent, M. 2001. The Scientification of Love. Londen: Free Association Books. Otte, T. 2005. Pregnancy and Birth. Kaapstad: New Holland.

Suggest Documents