Tema: Ons besigheid is... liefde!

Tema: Ons besigheid is ... liefde! Lees Johannes 13:34 en 35 en 1 Kor 13 As ek terugdink aan die afgelope jaar was daar 2 besondere ervarings. Albei h...
Author: Arron Berry
9 downloads 0 Views 594KB Size
Tema: Ons besigheid is ... liefde! Lees Johannes 13:34 en 35 en 1 Kor 13 As ek terugdink aan die afgelope jaar was daar 2 besondere ervarings. Albei het te doen gehad met mense. Gedurende die Maart vakansie het ek die Pelgrimstog van Hoop saam met ‘n groep mense gestap. Die afgelope week het ek saaam met 17 mense (oorwegend gemeentelede) die Klein Karoo besoek. Die 2 groepe mense het baie verskil. Die eerste groep was oorwegend jonk en fiks. Die 2de groep weer byna almal ouer en minder beweeglik. Tog het beide groepe ‘n besondere indruk op my gemaak en my herinner aan dit waaroor kerk-wees en dissipelskap behoort te gaan. Dissipels word veral gekenmerk deur hulle onderlinge verhoudings en die besondere liefde wat hulle vir mekaar het. Sonder hierdie onderlinge liefde is dit nie moontlik om navolger van Christus te wees nie. In ‘n tyd waarin ons baie nadink oor wat dit beteken om kerk van Christus te wees, kan ons maklik vergeet wat die kern is. Ons kan in ons definisies van kerkwees en in ons debatte oor waarmee gemeentes moet besig wees en wat die waarheid is, die navolging van Christus onnodig moeilik en selfs verwarrend maak. Kerke is liedesgemeenskappe. Dissipels van Jesus word gekenmerk deur liefde. Dis nie verniet dat Christus in Johannes 13 vers 35 so helder en duidelik hieroor praat nie: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Die pad na ‘n man se hart loop deur sy maag, sê die ou spreukwoord. Die pad na gemeentevernuwing en herlewing loop deur die liefde en onderlinge omgee vir mekaar. Ons planne vir die toekoms en ons beplanning vir 2017 moet begin by die liefde. Anders sal min van die dinge wat ons beplan die gewenste vrugte dra. Mens sou dit ook so kon stel: kerke is liefdesgemeenskappe. Kerke se kern besigheid is die liefde. Of om terug te kom na die Een wat ons kom wys het hoe ware liefde lyk: dissipels het mekaar lief, want so sal almal weet dat ons navolgers van die Here is. Gedurende die pelgrimstog en nou weer op die toer na die Klein-Karoo was dit vir my opvallend hoe kragtig die liefde en die onderlinge omgee is. Beide groep was divers. Daar was verskillende generasies, verskillende kerke, verskillende persoonlikhede en oortuigings. En tog kon die liefde dit alles bedek . Verskille is nie ‘n struikelblok as daar liefde is nie. Dis veel eerder die geval dat die liefde grense oorskry, konflik oplos, mense laat saamwerk en die beste in almal na vore bring.

Waar daar liefde is, en deernis, daar is God. So sing ons. En miskien is dit die heel wonderlikste. Eintlik ‘n diep misterie. Waar kinders van die Here dit waag om lief te hê en om te gee, daar beleef mense ... hier is God! Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar. So sê Paulus in 1 Kor 13 oor en oor: Sonder liefde is ons niks. NIKS! Al kan ons die tale van mense en engele spreek, al kan ons profeteer en diep geheime uitlê; al het ons geloof wat wonderwerke verrig; ja selfs al gee ons alles wat ons het weg aan die armes ... sonder liefde is ons niks! Dis belangrik dat ons dit sal onthou. Sonder liefde is ons niks. In die wapenrusting van die geloof is liefde ons beste en kragtigste wapen. Daarom moet ons as gemeente en as groter kerk voortdurend werk en bou aan verhoudings. Dis waarmee ons voortdurend moet besig wees. Dis waarvoor ons moet bid. Dis die een ding waarop ons nooit mag opgee nie ... die liefde en die onderlinge verbondenheid aan mekaar. Onthou wat Jesus sê in ons teks: dan sal die wêreld glo. Dis wat my die diepste raak. Die liefde bepaal of mense sal glo! As ons missionêre gemeentes wil wees en verstaan dat ons bestaan ter wille van die wêreld, dan moet die gehalte van ons liefde uitstaande wees. Gemeentes wat ander vir Christus wil wen, se fokus is altyd eerste op die liefde van Christus. Want so, en so alleen, sal ons ander vir Christus kan wen. My 2de seun, Niel, vertel vir my hieroor ‘n mooi storie. Hy is betrokke by ‘n bediening wat fokus daarop om jong mense in nood huisvesting te gee en hulle te begelei en te mentor. So ontmoet ek 3 weke gelede ‘n jong man uit die Kongo wat as gevolg van die oorlog moes vlug. In Kaapstad is hy met ope arms ontvang en met onvoorwaardelike liefde gehuisves en versorg. Hy woon saam met ons ‘n erediens by en deel hoe die mense by Echo sy lewe verander het. Maar wat die storie nog mooier maak. Die jong man is ‘n Moslem. ‘n Moslem wat vertel hoe gelowiges se liefde en omgee hom oorreed dat Jesus Christus waarlik die Here is! Om terug te kom na die 2 groepe mense waarmee ek my lewe kon deel die jaar: die pelgrims en die senior burger toer. Waarom het dit my lewe so diep geraak? Die antwoord is: daar was liefde en deernis. Ja, God was daar teenwoordig! Ek weet waarvoor ek bid en beplan en werk vir die toekoms ... ‘n geloofsgemeenskap wat saam die lewensreis aanpak en liefde leef. So sal die wêreld glo! Hans Steyn

VERSKILLENDE MANIERE VAN BID (vervolg) Fil.4:6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend Ons is besig om te kyk na die volgende maniere van gebed: Engels: A: Adoration Afrikaans: Aanbidding/verwondering C: Confession Skuldbelydenis T: Thanksgiving Danksegging S: Supplication Smeking/voorbidding Verlede week het ons gesels oor die 1ste 2 vorme, nl. aanbidding en skuldbelydenis. Hierdie week kyk ons na die ander 2 vorme. Danksegging is Godgerigte, nederige erkentlikheid. Terwyl Lofprysing meer fokus op Wie God is, onderstreep Danksegging wat Hy gedoen het of besig is om te doen. Net soos wat ouers bly is oor dankbare kinders, moet ons vir “God grootmaak met Danksegging” met die wete dat ons opregte dankbaarheid ons Hemelse Vader baie bly maak. (Ps.69:31-32) Danksegging is baie kosbaar, tog kos dit ons niks nie as net “’n offer van lof deur die lippe wat Sy Naam bely”. (Heb.13:15) Ondankbaarheid kom ons egter baie duur te staan en is eintlik ‘n toksiese sonde. (Rom.1:21, 2Tim.3:1-5) Jaloesie, vraatsugtigheid, wellus, murmerering, diefstal, nyd en gierigheid kan almal kom van ondankbaarheid in die hart. Ondankbare mense is konstant suur in feitlik alle omstandighede. Hulle is geneig om oor alles te kla, hulle geniet nooit regtig dit wat hulle het nie en wil altyd meer hê. Dit is hoekom dit ‘n hoofdoel op God se Agenda vir ons is om ‘n dankbare hart te kweek. Sy Woord beveel dit vir ons, (1Tes.5:18) Sy Werke vereis dit van ons, (Ps.106:47) en Sy Gees inspireer ons daartoe. (1Kor.2:11-12) God se Genade help elke gelowige oral in die wêreld om aan God dank te bewys in enige situasie. (Ps.118:19-21) “Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die Genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die Eer.” (2Kor.4:15) Te Midde van pyn en probleme wat ons in die lewe ondervind, het ons almal so baie om voor dankbaar te wees. God se Woord sê: “Wees in alle omstandighede dankbaar”, maar ook “Dank God die Vader altyd vir alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.” (Ef.5:20) Ten spyte van al die slegte dinge wat ons beleef, sê die Bybel ons moet vervul wees met dankbaarheid. (Kol.2:7) Maar hoe? Dit gaan terug na God se onveranderlike Natuur. Dieselfde Eienskappe waarvoor ons Hom loof, skep die konteks vir Dankbaarheid. Hoewel die wêreld al donkerder word, beloof God se Woord Goedheid (Ps.23:6, Jer.29:11) en dat Sy Liefde nooit verander nie. (Jer.31:3) Ons het altyd rede om Hom te dank, want Hy laat altyd alles ten goede meewerk (selfs die slegte dinge) vir dié wat Hom liefhet. (Rom.8:28-29) Dus, as alle logika sê daar is geen manier om dankbaar te wees nie, dan herinner Sy Trou van die verlede en Sy voortdurende Liefdevolle Sorg, tesame met die Offer van Sy Seun ons dat ons waansinnig sal wees om Hom nie te vertrou nie. Met dankbaarheid kan ons terugkyk na die Wonderwerke wat Hy al so dikwels vir ons gedoen het – waarvoor daar geen ander verklaring is nie, Sy Manier om elke ding presies op die regte tyd in plek te laat val, en dan ervaar ons dat Sy Ontferming nuut is elke môre. (Klaagl.3:22-23) Verbeel jou jy is Josef wat as slaaf in die tronk sit, of Daniël in die leeukuil, of Dawid voor die reus Goliat, of Maria wat sien hoe haar Seun gekruisig word, en jy vra jouself af: Hoe kan ek God hiervoor dank? Tog, in elkeen van hierdie donker pynlike oomblikke was God besig om wonderbaarlik ten goede te werk vir hulle en is Hy verheerlik deur die detail van elkeen se omstandighede. Dus, in geloof kan ons ook dankbaar bly in gebed. Die donkerte is net tydelik. Maar Verlossing, Sy Heilige Gees, Sy Woord, Sy Liefde is alles ewig!! As God niks verder vir ons doen nie, is dit wat Hy reeds tot hiertoe in ons lewens gedoen het, rede vir ‘n duisend leeftye van Dankbaarheid.

Smeking is om iets van God te vra. Dit beteken om te smeek, te versoek, jou te beroep op Hom om iets vir jou of ander te doen. (Ef.6:18, Fil.4:6) Die Bybel sê ons het nie omdat ons nie vra nie. (Jak.4:2) Jesus het vir Sy dissipels gesê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Mat.7:7-8) Ons word genooi, selfs beveel, om te kom vra, om te soek en te vind. Tog, van genoemde 4 maniere van bid, is daar Bybelse Wysheid daarin om smeking laaste te noem. Ons harte is skoner en meer gereed om in geloof te bid as ons God eers geloof en aanbid het, ons sonde bely het en Hom gedank het vir wat Hy gedoen het. Een belangrike manier van smeking is Intersessie, wat beteken ek tree in namens iemand anders en vra wat daardie persoon nodig het. Intersessie is 1 van die liefdevolste dinge wat mens vir iemand anders kan doen. Toe God gereed gestaan het om Israel te oordeel, het Moses ingetree en om Genade gepleit. Terwyl Haman planne gemaak het om die Jode te vernietig, het Ester eers in gebed ingetree en toe ook by die koning vir hulle gepleit en so haar volk gered. Die Bybel sê Jesus sit aan die Vader se Regterhand waar Hy vir ewig vir ons intree. (Rom.8:34, Heb.7:25) Ons moet ook leer om vir ander te bid. Aanbidding/verwondering, Skuldbelydenis, Danksegging, Smeking/voorbidding. Jy hoef nie in elke gebed al die maniere van bid in te sluit nie. Soms moet jy ook net soos Petrus by die punt kom om te roep: “Here, red my!” (Mat.14:30) of soos Jesus net te bid: “Vader, verheerlik U Naam.” (Joh.12:28) Maar dink bietjie oor jou tye saam met die Here: hoe dikwels weef jy al 4 soorte gebed in jou gebede? Spandeer jy meer tyd aan 1 soort gebed terwyl ‘n ander manier van bid feitlik nooit deur jou gebruik word nie? Soek ‘n balans en streef daarna om diep in elkeen van die gebedsmaniere in te gaan. Tesaam maak hulle gebed ‘n ryker, meer volledige ervaring. Vader in die hemel, ek prys U Naam, want U is heilig en waardig om geëer te word. Ek aanbid U as my God en vra dat U Uself sal verheerlik in my lewe. Deursoek my en reinig my van alles wat vir U hartseer maak. Vergewe my asb. soos ek ander vergewe. Dankie vir U Voorsiening, Beskerming en Getrouheid in my lewe. Dankie dat U my daagliks in U Teenwoordigheid innooi. Leer my asb. hoe om te bid, Here. Leer my om met vreugde en in aanbidding voor U te buig, om onverwyld alle sonde in my lewe te bely. Ek dank U met ‘n nederige hart. Ek bid hierdie gebed vir myself en ook vir hulle naaste aan my. Net om U te verheerlik, o God. In Jesus se Naam bid ek, AMEN (geneem uit The Battle Plan For Prayer deur Stephen en Alex Kendrick)

--------------------------------------------------------------------------------------------------------

KLUB 13 9 November is ons afsluiting!

Gr. 6 en 7 Bybelstudie Ons kom om 18:00 in die Jeuglokaal bymekaar

Emmers vol Genade Ons koskas is leeg. Ons wil baie graag einde November weer spesiale kerspakkies pak en vra dat jy asb ‘n emmer sal neem en volmaak met die volgende Nie-bederfbare produkte – blikkieskos, pasta, tuna, two minute noodles, mieliemeel, koekies, aanmaak koeldrank, koffie, tee, suiker Toiletware – gesigseep, shampoo, reukweerder, tandepasta

Kerkraadslede en Dienswerkers HOOGSTRAAT CAMINO - optog en pretstap vir alle persone met gestremdhede. Vind plaas op Saterdag 26 Nov 2016. Inskrywingsfooi R5. Inskrywing by Queensplein (Drostdy) vanaf 08h00, Neem asb kennis van die volgende stap vanaf 09h00 tot 11h00 Bring alle gestremdes en kom stap, rystoel of kierie saam! Gelukkige prystrekkings en stalletjies! Vir verdere navrae kontak asb vir Zelda by 023-34 23138

Blokvergaderings, 31 Oktober 2016. Alle Blokouderlinge, wyksouderlinge en dienswerkers word gevra om asb die dringende vergadering by te woon. Dit gaan Vriendelike groete hoofsaaklik om kerkraad en dienswerkers te kies. Zelda Steyl

Kerkraadsvergadering - Neem asb kennis dat die vergadering van 31 Oktober LAETITIA HUGO PHYSIOTHERAPIST 2016 skuif na 7 November 2016.

NUUS UIT DIE LERAARSPAN Ds Hans Steyn is deur die moderatuur van die Wes-Kaapse sinode gevra om van 9 November waar te neem in die Diens van Barmhartigheid pos, nadat Ds Leon Venter aangestel is as Hoof van Bybel-Media. Dit sou beteken dat hy 100% in diens van die Sinode is tot einde van Junie 2017. Ds Hans het na deeglike oorweging en duidelike leiding van die Here, NIE die versoek aanvaar nie. Hy getuig dat hy groot vrede oor sy besluit het en net weer besef het hoe belangrik die gemeente van Worcester-Vallei vir hom is. Hy sê dankie aan almal wat vir hom gebid en ondersteun het. Jacobie Visser voltooi haar praktiese gemeentejaar die week. Sy handig dan haar laaste groot taak in en daarna vind hulle finale keuring deur die kuratorium plaas. Jacobie word die 27ste November om 15:00 gelegitimeer tydens ‘n diens wat by die SA Gestig gemeente Belhar gehou word. Prof Dirkie Smit sal as prediker by die geleentheid optree. Ons neem dan hiermee afskeid van Jacobie en wens haar net die beste en die mooiste toe vir die toekoms. Sy is gekeur om volgende jaar te begin met haar Doktorsgraad in Nuwe Testament. Mag Worcester-Vallei altyd deel van jou lewe bly en mag jy steeds sulke mooi artikels oor ons in die Kerbode skryf! Ds Rousseau is terug van sy Sabbatsverlof en vertel dat dit vir hom ‘n besondere tyd van studie en intensiewe leeswerk was. Ons verwelkom hom terug en is baie bly die leraarspan loop weer op al die silinders!

Verlof - Ds Hans is tydens die Desember vakansie aan diens tot na Kersfees. Ds Rousseau neem weer waar gedurende die Januarie deel van die vakansie. Ds Stefaans is die vakansie met verlof.

Andries Hamman basaar 5 November 2016 Ons gemeente is verantwoordelik vir die gebak tafel. Grootkoeke, plaatkoeke, kolwyntjies. Kontak asb vir Bets Delport 023 3471309 of die kerkkantoor indien jy bereid is om te help.

Worcester-Oos Kerssangdiens saam met Louis Loock op Sondag, 6 November om 18:30 by Worcester-Oos gemeente.

HOOGSTRAAT CAMINO - optog en pretstap vir alle persone met gestremdhede. Vind plaas op Saterdag 26 Nov 2016. Inskrywingsfooi R5. Inskrywing by Queensplein (Drostdy) vanaf 08h00, stap vanaf 09h00 tot 11h00 Bring alle gestremdes , rystoel of kierie en kom stap saam! Gelukkige prystrekkings en stalletjies! Vir verdere navrae kontak asb vir Zelda by 023-34 23138 Vriendelike groete LAETITIA HUGO PHYSIOTHERAPIST

Moenie ‘n kans laat verby gaan om iets moois te sien nie, want skoonheid is God se handskrif Ralph Waldo Emerson