Nuusbrief Augustus 2006

Hallo Vriende, Die probleem met nuusbriewe deesdae is nie om artikels te vind nie maar om te besluit wat om weg te laat! Ons leef voorwaar in opwindende tye en met die elektroniese verbinding wat verspreiding van inligting so maklik maak, staan 'n mens letterlik kniediep in feite en foto's. Hierdie maand het ons egter NIE daardie probleem nie – drie stories het almal se verbeelding aangegryp: ons kyk met nuwe oë na ons sonnestelsel, die bekendstelling van die eerste wetenskaplike waarneming van 'n dubbele-ster deur SALT en die netelige kwessie van "Dark Matter". En toe is daar net agt. http://www.universetoday.com/2006/08/24/plutos-out-of-the-planet-club/ In Augustus was daar ʼn kongres in Praag onder leiding van die, Internasionale Astronomie-unie (IAU) wat verrykende besluite geneem het. Na twee jaar van hewige debatte het die lede van die IAU uiteindelik uitspraak gelewer oor die samestelling van ons sonnestelsel. Daar is drie vereistes waaraan 'n planeet moet voldoen:

• • •

Dit moet om ʼn son wentel maar kan nie self ʼn son wees nie Die hemelliggaam moet massief genoeg wees vir sy swaartekrag om dit tot 'n ronde, balvormige vorm te trek Die invloed moet sterk genoeg wees om sy eie omgewing skoon te vee van ander kompeterende liggame Tekening: IAU

Pluto is al vir jare 'n doring in die vlees van menige - die probleem is dat dié planeet die uiterste ruimte met veelvuldige ander soortgelyke liggame deel. Met ander woorde, dit is nie baas van sy plaas nie. Voortaan sal die Sonnestelsel dus uit net agt klassieke planete bestaan nl. Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus Uranus en Neptunus. Daar sal verder drie dwerg planete wees naamlik, Ceres, Pluto en die nuweling 2003 UB313, beter bekend as Xena

SALT se dubbele-ster waarneming http://www.saao.ac.za/public-info/salt-news/news-item/article/126/624/ Op 16 Augustus is daar ook by die IAU in Praag aangekondig dat SALT sy eerste wetenskaplike waarnemings, die van ʼn unieke dubbele-sterstelsel, voltooi het. Dr. Darragh O’Donoghue wat aan die hoof van die navorsing staan, het gesê dat die observasies die beste van sy soort is. Dit bewys SALT se vermoë om hoëspoedbeelde met ultra-sensitiewe toerusting te neem. Die dubbelsterstelsel bestaan uit ʼn s.g. wit dwerg, met ʼn geweldige sterk magnetiese veld en ʼn gewone ster wat om mekaar beweeg. In die proses slurp die wit dwerg letterlik materiaal, in die vorm van gas, vanaf die ander ster in. Hierdie gas versamel by die pole van die wit dwerg – amper soos die sonwinde op Aarde. Dit is moeilik om te bepaal hoe lank die twee sterre sal bestaan maar die proses kan net voortgaan totdat die wit dwerg ongeveer 1,4 keer die grootte van die Son is. Daarna lei dit tot ʼn reusagtige supernova-ontploffing. Die afstand tussen die twee sterre is ongeveer dieselfde as dié tussen die Aarde na die Maan. Voor SALT se waarnemings het die stelsel as ʼn enkel-ster vertoon. Hierdie bevinding is slegs moontlik gemaak deur die hoogs gevorderde toerusting en die noukeurige fotobeelde wat elke 112 millisekonde geneem is. Die twee sterre wat sowat 400 ligjare van die Aarde af is, wentel elke 87 minute om mekaar – gevolglik kom ʼn eklips voor en die helderheid van die sterstelsel verdof aansienlik. Die studie van gasuitruiling speel ʼn kernrol in die navorsing van gravitasiekolke en pulsars asook die vorming van planete. Hierdie navorsing sal aan die einde van die jaar in die vaktydskrif Monthly Notes van die Royal Astronomical Society verskyn. Tekening: Bob Watson

NASA vind bewyse vir Donker Materie http://spaceflightnow.com/news/n0608/21darkmatter/ http://www.universetoday.com/2006/08/21/galaxy-collision-separates-out-the-dark-matter/ NASA se Chandra X-straal teleskoop het onlangs bewyse gevind dat donker materie wel bestaan. Dit is 'n probleem waarmee wetenskaplikes lankal worstel. Daar is gesien hoe donker materie en gewone materie (soos die atome waaruit stere, planete en alles op aarde bestaan) deur ʼn geweldige botsing tussen twee groot sterrebondel-galaksies uitmekaar geruk word. Volgens Maxim Markevitch van die Havard-Smithsonian Instituut is dit, naas die Oerknal, die mees heftige kosmiese insident waarvan ons weet. Hierdie observasies bevestig dat die meeste van die materie in die Heelal uit donker materie bestaan. Newton en Einstein het lank reeds die bestaan voorspel, maar sommige wetenskaplikes het tog na alternatiewe teorieë gesoek. In sterrebondels kom gewone materie in die vorm van warm gas en sterre voor. Hierdie materie is vasgevang in die sterrebondel deur die swaartekrag van die groter massa donker materie wat tussen die galaksies as warm gasse bestaan. Die totale massa van die donker materie is meer as die totale massa van al die sterre in al die gelaksies! Sonder donker materie, wat slegs deur sy gravitasie bespeur kan word, sou die vinnig-bewegende galaksies en warm gas uitmekaar vlieg. Die span het meer as 100 uur op Chandra gebruik om die sterrebondel 1E0657-56 (Bullet Cluster) te bekyk. Dit bevat 'n indrukwekkende wolk met super warm gasse. Die X-straalbeeld wys ʼn koeëlvormige wolk wat deur die hoëspoed botsing ontstaan het. Saam met Chandra is ook die Hubble Ruimte-teleskoop, die VLT en die Magellaanse Optiese Teleskoop gebruik om die presiesse posisie en massa van die sterre te bepaal. Die proses staan bekend as gravitational lensing en is op Einstein se algemene teorie van relatiwiteit gebasseer. Hierdie resultaat gee wetenskaplikes meer vertroue dat swaartekrag, soos deur Newton beskryf en wat ons op Aarde en in die Sonnestelsel ken, ook op ʼn massiewe skaal, soos in dié van sterrebondel-galaksies kan werk. Nuusflitse Orion is op almal se lippe NASA kondig die naam van die nuwe bemannings/ontdekkingstuig aan. http://www.universetoday.com/2006/08/23/new-crew-exploration-vehicle-named-orion/ Soos julle weet word die pendeltuig teen 2010 uitgefaseer. Om dit te vervang, ontwikkel NASA se ruimteprogram ʼn tuig om die nuwe generasie ontdekkingsreisigers na die Maan en later na Mars te vervoer. En die naam? Orion.

Daar word gehoop dat die tuig teen 2014 vir die eerste keer gelanseer sal word en nie later as 2020 op die Maan sal land. JPL kry die Orion newel onder skoot http://www.universetoday.com/2006/08/16/orion-revealed-by-spitzer/ NASA se Spitzer Infrarooi-ruimte-teleskoop het onlangs 10,000 beelde van dié asemrowende mooi gebied afgeneem om sodoende die ingewikkelde struktuur van gas en stof te ontrafel. Die teleskoop het reeds 2,300 planeet-vormende skywe waargeneem wat nie deur Hubble gesien kon word nie. Die Son is aan die kook .... http://science.nasa.gov/headlines/y2006/15aug_backwards.htm?list50005 Op 31 Julie is ʼn klein sonvlekkie gebore. Op sigself niks spesiaal nie - dit gebeur al die tyd, maar volgens die kenners was dié een anders: Dit was "backward" of magneties omgekeerd, m.a.w. dit wat Noord was is nou Suid! ʼn Omgekeerde sonvlek beteken net een ding – die volgende Sonsiklus is besig om te begin. Hierdie mag die eerste sonvlek van siklus 24 wees. Die 7de ASSA Simposium www.assabfn.co.za/symposium2006 Die Bloemfontein-tak van die ASSA hou ʼn kongres op 28 & 29 September by die Boyden-sterrewag. Die 10de herdenking van "Die Vriende van Boyden" sal ook by die geleentheid gevier word. Die tema is: "Serious Amateur Astronomy: Linking with Professionals". Voorleggings sal alle aspekte van sterrekunde aanspreek. Dit klink na ʼn fees. Die verrigtinge staan onder leiding van Gerrit Penning, wat die SpaceTides nuusbrief saamstel. Sien: www.assabfn.co.za/spacetides SMART http://www.esa.int/SPECIALS/SMART-1/SEMKTCBUQPE_0.html Europa sal ook binnekort kan sê dat hulle op die Maan was. Vroegoggend op 3 September sal SMART, ESA se verkenningtuig, tot 'n harde einde kom met ʼn klein impak op die Maan se oppervlakte. Die storie het reeds in September 2003 begin toe die 366 kilogram satelliet deur ʼn Arian-5 vuurpyl gelanseer is. Dit is deur die Maan se swaartekrag gevang en het toe in ʼn elliptiese baan om die pole aangeneem. Sedertdien is 16 maande se wetenskaplike navorsing gedoen en duisende foto's geneem en na die aarde teruggestuur. Tans is dit die enigste ruimtetuig wat besig is om die data in te win vir die beoogde hervatting van Maan-eksplorasie. Atlantis http://www.universetoday.com/2006/08/17/atlantis-scheduled-for-august-27-launch/ Die volgende pendeltuig word binnekort gelanseer in NASA se reuse poging om die IRS teen 2010 te voltooi. Oor ʼn periode van 3 ruimtewandelinge sal die bemanning die P3/P4 stut installeer wat sonpanele, batterye en elektroniese verbindings bevat. Besoek http://www.heavens-above.com vir tye wanneer die IRS oor jou gebied gesien kan word.

Voetstuk OOG op Sutherland Oor die naweek van 29 en 30 Julie was veertien OOG-lede bevoorreg om saam met Willie Koorts, Daan Spamer en lede van die ATKV van Wellington ʼn toer na Sutherland te onderneem. Dit was ʼn hoogs gesellige klop wat, gewapen met knibbelpakkies en kameras, teruggesit het in die luukse bus en na die staaltjies en stories geluister het waarmee Willie ons op die lang pad vermaak het. By Matjiesfontein het ons afgedraai na Sutherland en kennis gemaak met die verleidelike natuurskoon van die Roggeveld. Ons het met nuwe oë na die rotsformasies van die Karoo-landskap gekyk en stadig begin besef dat die naweek nie net oor sterre en teleskope sou gaan nie, maar dat dit ook een van geskiedenis, legendes en kultuur sou wees. Die hoogtepunt van die naweek sou ongetwyfeld ʼn besoek aan die SAAO fasiliteite op ʼn koppie, 18 km buite die dorp, wees. Baie sou afhang van die weer en teen laat agtermiddag het vlieswolkies in die hemel rondgeskarrel almal het asem opgehou. Maar kyk, die ATKV weet hoe om dinge te reël. Na aandete het ons uitgekom om ʼn skouspelagtige sterrehemel te vind. Toegewikkel in jasse, serpe en musse het ons reggemaak om tussen die sterre te baljaar.

Daar is twee GOTO teleskope by die Besoekers-sentrum: ʼn 14” Celestron en ʼn 16” Meade. Onder Willie se professionele leiding was ons in staat om menige van die suidelike-hemel se pragstukke te sien, waaronder die dubbele sterre van Alpha Centauri, die bolvormige sterrehoop Omega Centauri, die Suiderkruis se Kolesak en Juweelkissie, Antares en die bolvormige sterrehoop, M4, en die asemrowende, Eta Carinae newel. Daar is na Jupiter en sy mane asook die kraters op die Maan gekyk. Net toe ons gedink het dit is tyd om huis-toe te gaan, verskyn die Klein Magellaanse Wolk en 47 Tucanae! Om die aand af te sluit is Willie se DVD, wat die basiese beginsels van sterrekunde verduidelik, asook ʼn oorsig oor die bou en status van SALT gee, aan ons gewys. Dit alles natuurlik, tot voorbereiding vir ons besoek die volgende dag. Vir die meer avontuurlustige toerlede was die aand nog jonk en terwyl die meeste van ons snoesig onder donskomberse geslaap het, was Carol Botha en Rudie Loots besig om na die Suidelike delta Aquarid sterrereën te soek. Gewapen met die Sky Guide het hulle nie minder as 20 binnedie bestek van ʼn uur gesien! Sondagoggend, na ʼn reuse ontbyt, het ons die kronkelpadjie na die tuiste van SALT gevat. Teen dié tyd is sy kenmerkende koepel en toring bekend, maar niks berei mens voor vir wat binne gevind word nie. Die teleskoop met sy 91 heksagonale spieëls beweeg seepglad op lugkussings soos ʼn skeertuig en dit neem minder as vyf minute om die 90-ton struktuur in posisie te kry. Elke segment is 1 meter in deursnit, 50mm dik en weeg ongeveer 100 kilogram. Die Volger-apparaat is 13 meter bokant die spieël gemonteer en kan as die hart van die teleskoop beskou word. Dit is verantwoordelik vir die versameling van al die optiese inligting vanaf die hoofspieël deur ʼn stelsel van vier spieëls wat die sferiese afwykings korrigeer en die posisie van die voorwerp vasstel en dan na die rekenaar oordra. (Vir meer inligting sien OOG nuusbrief van Oktober 2005.) Na ʼn onvergeetlike oggend was ons toergroep traag om afskeid te neem van hierdie interessante Karoo-dorpie met sy vriendelike mense. Nuwe vriende is gemaak en nie minder as tien lede is vir OOG gewerf. Groot was ons verbasing toe ons ʼn dag na ons terugkeer foto’s op TV en in die koerant sien van Sutherland wat wit onder die sneeu lê. Op party plekke was dit ʼn half-meter dik! Seker ook maar goed dat ons nie te lank op die koppie getalm het nie

Foto: W. Koorts

► Vir die van julle wat nie die toer kon meemaak nie, is daar weer op 16 –17 September geleentheid. Dis donkermaan, wat net een ding beteken- die sterre sal wonderlik vertoon. 0828724958 of met e-pos: [email protected]

Kontak Daan Spamer by

Okkultasie van Antares http://home.telkomsa.net/mybirding/Maanfotos.htm Philip van Heerden het op 5 Augustus die volgende aangestuur: Gisteraand het my beker oorgeloop want ek kon Antares se okkultasie deur die Spinnekop (9-duim Dobsonian) volg EN fotografeer. Sigtoestande was maar power. Baie dynserig en met hoë vlieswolke wat kort-kort voor die maan gekom het. Ek het byna moed opgegee. Ek het darem een pragtige foto van die maan gekry wat veral die Mare Imbrium met die Sinus Iridum baie skerp toon. So ook kraters Copernicus en Plato. Ten spyte van die swak sigtoestande kon ek Antares sien verdwyn om 6:30 (ongeveer, plus-minus, omtrent!) maar nie fotografeer nie want dit was nog te lig. Groot was my opgewondenheid toe ek die ster om ongeveer 7:30 sien uitkruip vanuit die verre Noord-Oostelike rand van die Maan (Regoor krater Endymion) . Die Maan was op daardie stadium baie helder en ek moes die foto effens verwerk om Antares duidelik te wys. Daarom is die skerpte van die Maan se landmerke nie baie goed nie. Ek kon 'n hele reeks foto's van die verskyning neem maar ek stuur die een wat ten minste die Maan se landmerke redelik toon. Hierdie foto sal binnekort in die OOG foto album pryk, maar besoek in die tussentyd Philip se webwerf vir die sprankelende foto's.

Wicked Green Laser Miskien dink julle, soos ek, dat lasers net in lesingsale deur mannetjies met dik brille gebruik word om die aandag van slaperige studente te trek. Tydens ons besoek aan Sutherland het ek ʼn ding of twee geleer. Willie het sy Wicked Green Laser gebruik om vinnig punte in die hemelruim te bepaal en sterrebeelde uit te wys. Dit is veral handig met fotografie om maklik in die donker te bepaal of jy by die regte voorwerp is. Soos Willie onlangs in MNASSA gemeld het, as jy eers een het, wonder jy hoe jy ooit sonder dit klaargekom het. Sien: http://www.saao.ac.za/~wpk/laser/ Nuwe Lede Ons het ʼn besondere vrugbare maand gehad en 11 nuwe lede ryker geword. Tydens die toer na Sutherland het die volgende sterejagters by ons aangesluit: Christie Exall van Durban Corné de Milander van Saldanha Floris en Erna Brand van Saldanha Cloete en Elsa Naudé van Paarl Erica Kogler van Stellenbosch Len en Marlene Weyers van Wellington Yulaine de Villiers van Paarl Louwtjie het ook vir Doug Carlson van Panorama as lid vir ons gewerf. Welkom, welkom aan almal! Donasie Graag sê ons baie dankie aan Heinz Kogler vir sy vriendelike skenking aan OOG. OOG vraag Willie het verlede maand dié lekker vraag gevra: ʼn Stigterslid van 'n baie bekende orkes is eintlik 'n gekwalifiseerde sterrekundige. Hy het onlangs 'n boek saam met Patrick Moore uitgebring en hy het eenmaal in 'n onderhoud gesê: "Astronomy's much more fun when you're not an astronomer." Wat is naam van dié bekende orkes en die naam van hierdie orkeslid? Die antwoord is: Queen en hulle kitaarspeler, Brian May. Volgens Willie was die orkes vroeër so arm dat een van hulle (moontlik Brian) self kitare moes bou. Toe hulle later genoeg geld gehad het vir beter kitare was dit nie meer dieselfde nie. Die unieke klank van die tuisgemaakte kitare het toe reeds hulle "trade mark" klank geword. Patrick Moore se opmerking oor Brian May is ook pittig: Brian is a fine astronomer He is best known for his musical interests. Those tunes are not to my taste, but he has taken some very good pictures of Venus passing across the face of the sun. Vir meer inligting sien: http://www.brianmay.com/brian/briannews/briannewsjun06b.html Hierdie maand se vraag is na aanleiding van ʼn opmerking in Prof.Tony Fairall se boek Stargazing from game reserves: Ons ken Suid Afrika se Groot Vyf wanneer dit by diere kom maar wat is die Groot Vyf van die suidelike naghemel en wanneer kan hulle gesien word? Bad Astronomy – vervolg Ons het ʼn maand of wat terug oor dié interessante webwerf gesels. Sedertdien het Hansie Schreuder, Philip Plait se boek met dieselde naam aan my geleen. Ek kan dit sterk aanbeveel. Stephen Maran, die redakteur van die Astronomy and Astrophysics Encyclopedia skryf die volgende: Bad Astronomy is just plain good! Philip Plait clears up every misconceptionon on astronomy and space you never knew you suffered from. Die boek bevat ook ʼn lys van kuierplekke – hier is net ʼn paar : http://www.badastronomy.com http://www.ems.psu.edu/~fraser/BadScience.html http://www.astronomynotes.com http://sciastro.astronomy.net/

Nuut op die OOG webwerf Die foto-album is altyd ʼn goeie plek om te begin. Verder het Willie laat weet dat hy van die ou nuusbriewe in PDFformaat verander het. Die groot voordeel van PDF is dat die dokument identies op enigeen se rekenaar lyk. En dan vir poeding is daar Philip van Heerden se weergawe van Koos du Plessis se "Sprokie vir ʼn Stadskind". Willie se "Oorgang van Venus" in Praag! By die veelbesproke kongres in Praag is Willie se praatjie oor die "Oorgang van Venus" aan die IAU-lede, waaronder die groot denkers in die sterrekunde wêreld, voorgelê. Om uitgenooi te word is een ding, maar om gevra te word om ʼn voorlegging te doen is ʼn ontsaglike eer. Willie word beskou as ʼn kenner op die gebied van "VenusTransits". Geluk ou maat met die erkenning – ons is baie trots!

September Dagboek - moet sien 7 Volmaan 7 18:42 gedeeltelike maanverduistering – sien bladsy 55 van Sky Guide 15 1 uur na sonsondergang in die Weste, Mercurius en Mars 10° van mekaar 16 -19 1 uur voor sonsopkoms Noordwes, beweeg die Maan deur Gemini verby Pullox en Saturnus 22 13:00 gedeeltelik sonsverduistering – sien bladsy 51van Sky Guide 23 06:00 Equinox - begin van die Lente 25 – 29 1 uur na sononder in Weste, Mercurius en Spica naby mekaar 26 1 uur na sononder in Weste, Jupiter net onder en regs van die sekelmaan 26 – 29 1 uur na sononder in Weste beweeg die Maan deur Libra, Scorpius en Sagittarius

My dank aan almal wat op die Einstein-nuusflits gerangeer het en so positief oor die program geskryf het. Onthou ek hoor graag van julle. Die idees wat ons uitruil help ons om kennis uit te bou en die gees te verryk. Baie dankie, soos altyd, aan Willie wat soms nog laatnag met OOG-goed besig is en Philip vir sy interessante foto's. Op ʼn persoonlike noot wil ek net sê hoe lekker dit was om die maand soveel van ons lede van aangesig tot aangesig te kon ontmoet. Groete tot ʼn volgende keer, Serena 34.083ºS 18.8500ºO