HOOFSTUK DRIE MUSIEK AS UNIVERSELE KOMMUNIKASIEMEDIUM

HOOFSTUK DRIE MUSIEK AS UNIVERSELE KOMMUNIKASIEMEDIUM 3.1 INLEIDING Musiek is volgens Neethling (1999:44) en Pavlicevic (1997:34) ’n universele taal w...
Author: Daniela Carroll
80 downloads 2 Views 90KB Size
HOOFSTUK DRIE MUSIEK AS UNIVERSELE KOMMUNIKASIEMEDIUM 3.1 INLEIDING Musiek is volgens Neethling (1999:44) en Pavlicevic (1997:34) ’n universele taal wat emosie, logika en wiskundige korrektheid omvat. Volgens Nordoff en Robbins (in Sutton, 2002:191 en Le Roux, 2003:15) is musiek universeel in die sin dat almal daarin kan deel. Dieselfde skrywers noem dat die universele element daarin geleë is dat die boodskap of die inhoud wat dit uitdruk, alle hoogte en diepte van menslike ervaring en gevoelens insluit.

Verder is dit belangrik om te weet dat die

aantrekkingskrag en gepaardgaande fisieke funksies van die fundamentele elemente van melodie, harmonie en ritme, ‘n effek op die meeste mense het. (Vergelyk ook Juslin & Sloboda, 2001:3.) Musiek het volgens Neethling (1999:44) te make met frekwensies, volume, ritme, koördinasie, akoestiek, melodie en harmonie. Daarom het dit ‘n saambindende faktor wat emosies gelei en eenheid vorm en dus beslis ‘n invloed op die mens se gemoedstoestand uitoefen. Ritme en harmonie is ook van die sleutelelemente binne die kosmiese wette van die heelal, aldus Van Velden (2002:67-68). Hy skryf verder dat die beweging van die sterre, die volgorde van die seisoene van die jaar en die verandering van dag na nag deel is van hierdie ritme en harmonie, deurdat 'n logiese proses waargeneem kan word. Daar is 'n verband tussen die bestudering van ‘n musiekmelodie en dieselfde sisteem van ritme, verhoudings, eweredigheid en harmonie in sowel die natuurlike as mensgemaakte wêreld. Dit sluit in die beweging van die planete om die son, die groei van selle en plante asook kuns, argitektuur en wiskunde. Die kosmiese wette volg perfekte afmetings en dissipline en is juis so georden dat dit harmonie in die heelal bewerkstellig, aldus Van Velden (2002:67-68). Musiek met sy wisselende harmonieë, melodieë, tempo’s en ritmes weerspieël iets van mense se bestaan – so asof hulle hulself in musiek kan herken (Pavlicevic, 1997:58-59). Volgens Rosenfeld (in Nicol, 1996:16) reageer mense op musiek met ‘n vermenging van psigologiese en fisiologiese reaksies wat geprikkel word deur die

55

verskeie aspekte van musiek self. Dit blyk dus dat musiek 'n uitwerking het op die funksionering van die mens as geheel. Om hierdie rede en vir die feit dat ritme en harmonie deel is van elke dag se bestaan, word die moontlikheid dat musiek as vorm van spel vir die kind, asook die effek daarvan tydens hulpverlening, vir die navorser, nie buite rekening gelaat behoort te word nie. Dit behoort juis beklemtoon te word volgens Campbell (2002:48): “A child learns about rhythms from the early years of developing a pattern of a sleep-wake cycle, to later years of playing in repeated motions with a toy, to using their body in different patterns of movement.” In hierdie hoofstuk gaan daar gepoog word om vanuit ‘n navorsersrol kortliks deur middel van ‘n literatuuroorsig duidelikheid aan die leser te bied oor die effek van musiek op die mens, en meer spesifiek op die kind in die middelkinderjare se funksionering. Daar sal duidelikheidshalwe, en om dit vir die leser toe te lig, gefokus word op die volgende aspekte: ‘n omskrywing en historiese weergawe van musiek, asook die fisiologiese, kognitiewe, emosionele en spirituele effek daarvan op sowel die kind in die middelkinderjare as hulpmiddel vir die hantering van aggressie. Die rol wat stilte in musiek speel, gaan ook aandag geniet. Aangesien die navorsing binne ‘n Gestaltspelterapeutiese verwysingsraamwerk as vertrekpunt plaasvind, word sulke konsepte ook bespreek, benut en so aangebied. Bogenoemde navorsingsdata is om 'n historiese weergawe aan te bied, ook in minder resente bronne ontdek, wat dus vir die doeleindes van hierdie navorsing benut is. Sodoende is dit moontlik dat die ontwikkelingsproses oor 'n tydperk aangetoon kan word, asook die leemtes ten opsigte van die benutting van musiek binne 'n Gestaltspelterapeutiese raamwerk. 3.2 DIE AGTERGROND VAN MUSIEK Alhoewel musiek deel is van die mens se bestaan vanaf die vroegste tye, is dit, aldus Swallow (in Sutton, 2002:41), onbekend wanneer mense vir die eerste keer begin het om musiek te gebruik, te verstaan en te geniet. Verder word die mening gehuldig dat musiek, sang en dans taal as ‘n vorm van kommunikasie voorafgegaan het. Die krag van musiek om siekte en spanning te verlig, word reeds dekades lank erken. Dit is

56

egter eers sedert die aanvang van die negentigerjare dat daar intensiewe navorsing gedoen word rondom die redes vir die effektiwiteit van musiek (Juslin & Sloboda, 2002:3-5). 'n Waardevolle navorsingsbron, waarin verskeie navorsers se bevindinge vervat is, het gedurende 2001 verskyn, naamlik "The Nurse's Handbook of Complementary Therapies."

Hierin huldig McLellan (in Biley, 2001:223) die mening dat

musiekinstrumente ook al duisende jare bestaan. Plato het volgens Beck (in Biley, 2001:224) geglo dat musiek die vermoë het om fisiese- en geestesgesondheid te bevorder. (Vergelyk ook Denora in Juslin & Sloboda, 2001:173.) Homerus volgens Cook (in Biley, 2001:224) was juis van mening dat musiek as hulpmiddel kon dien om negatiewe gevoelens soos hartseer, woede, bekommernis en vrees uit te druk. Eeue later is musiek wel benut om geestesafwykings van prominente figure soos Koning Philip V van Spanje, Koning Ludwig II van Bavaria en Koning George II van Groot Brittanje te behandel, volgens Podalsky (in Biley, 2001:224).

Florence

Nightingale het die potensiaal van musiek in die versorging van siekes erken deur in 1859 soos volg oor musiek te skryf: “… wind instruments, including the human voice, and stringed instruments … have generally a beneficial effect …” (Biley, 2001:224). Vroeg in die twintigste eeu, in 1926, is navorsing oor die waarde van musiek gedoen op sowel die fisiologiese as psigologiese vlakke.

Volgens Campbell (in Biley,

2001:224) is gevind dat: “… music effectively increases metabolism; changes muscular energy; accelerates respiration; produces marked but variable effects on volume, pulse and blood pressure; creates the physiological basis for the genesis of emotional shifts”. Dit blyk dus duidelik dat as gevolg van die wisselwerking tussen die liggaam en gees, sinvolle verskuiwings met behulp van musiek kan plaasvind. Vanuit die Gestaltbenadering verwys hierdie wisselwerking, in samewerking met die kind se totale ontwikkeling, ook na die aspekte wat nodig is vir sy totale funksionering. Kort na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n totale verandering binne die musiekwêreld plaasgevind deurdat die opname- en televisiemaatskappye ‘n groot invloed begin uitoefen het (Barenboim, 1991:165). Dieselfde skrywer noem dat deur 57

die popularisering en kommersialisering van musiek, om die genot en benutting daarvan moontlik te maak, die “musiekbedryf” sy ontstaan gehad het. Die vooruitgang van die tegnologie het dit moontlik gemaak dat daar huidiglik na musiek geluister kan word deur middel van ‘n kompakskyf. Die praktiese benutting van musiek, of die effektiwiteit daarvan vir die funksionering van die mens, is aspekte wat, aldus die navorser, ondersoek behoort te word. Daar bestaan dus deur middel van tegnologie die moontlikheid dat hulp verleen kan word aan die laerskoolkind, om deur middel van musiek sy waarneming te benut; en met behulp van sy sintuie selfbewussyn te ontwikkel en sodoende sy aggressiewe gevoelens suksesvol aan te spreek. Tans, is dit interessant om te vermeld dat onderskeid getref word tussen musiekterapie en musiek-as-terapie. Musiekterapie kan soos volg gedefinieer word: Music therapy is a methodical form of treatment, which makes use of musical material within a therapeutic relationship in order to accomplish change, growth, stabilisation or acceptance in the areas of emotions, behavior, recognition or interpersonal relationship. (Music Therapy …2004) 'n Navorser soos Biley (2001:223) huldig die mening dat musiekterapie slegs toegepas kan word deur ‘n gekwalifiseerde musiekterapeut, terwyl musiek-as-terapie informeel of formeel deur terapeute, verpleegsters, vroedvrouens, ander professionele gesondheidsorgwerkers, pasiënte en kliënte gebruik kan word om daardeur algemene gesondheid, geluk en welsyn te bevorder. Musiek-as-terapie behels op sy beurt dat musiek gebruik word ten einde terapeutiese doelwitte te bereik vir die herstel, handhawing en bevordering van geestes- of fisiese gesondheid. Musiek-as-terapie kan ‘n wye verskeidenheid vorme aanneem. Dit kan informeel gebruik word as agtergrond met die doel om na te luister in gesondheidsorgomgewings, klinieke, langtermynversorgingsfasiliteite of residensies. ‘n Radio wat aangeskakel word tydens ‘n motorrit, of na ‘n besige werksdag, dien dikwels 'n doel om so 'n persoon te laat ontspan of te laat afskakel van vorige gebeure en/of gedagtes, aldus Sloboda en O'Neill (2001:419). Meer formeel kan musiek 58

aangewend word in ‘n terapeutiese opset deur musiekbeluistering in groepverband of op individuele vlak (Biley, 2001:223; Bunt & Pavlicevic, 2001:182). Gestaltgroepwerk met behulp van musiek sal dus ook nagevors kan word indien die beskikbaarheid van musiek in aggeneem word. Die verkenning en beskrywing van die benuttingswaarde en aanwending van musiek vir 'n groep laerskoolkinders as kommunikasiemedium en vir aggressie, is egter tans die fokus van hierdie studie. Nicol (1996:13) se standpunt hieroor is, naamlik dat wanneer musiek-as-terapie gebruik word, die klem op direkte interaksie tussen die kind en musiek val, met die terapeut wat hierdie verhouding of proses ondersteun. Die musiek is dus nie die primêre veranderingsagent nie, maar word gebruik om verandering moontlik te maak deur middel van ‘n interpersoonlike verhouding (Paclicevic, 1997:1; Joseph, 2004:28). Die musiek steun hierdie proses of verhouding en word gebruik as begeleier, fasiliteerder en kommunikasiemedium wat die kind lei tot terapeutiese kontak met ‘n ander persoon of met homself. Ter aansluiting hierby, stel Pelham en Stacy (in Bunt & Hoskyns, 2002:35) dit soos volg: “Relationships are the melting-pot for development of ‘a sense of self and self in relationship to others’.

The word relationship also implies an evolving dynamic

process bringing with it the idea of constant movement, growth and change.” Hierdie mening word deur die navorser gesteun aangesien een van die hoofdoelwitte van Gestaltspelterapie juis is dat die kind ondersteun word om vanaf omgewingsteun, selfsteun te bereik. Musiek as hulpmiddel kan, aldus die navorser, benut word om binne 'n betekenisvolle verhouding die kind tot selfsteun te lei. Indien daar op die oorspronklike funksie van musiek gefokus word, word daar deurgaans ‘n verband aangetref tussen musiek en fisieke, emosionele, geestes- en spirituele welsyn of gesondheid van die mens oor die geheel. Geestelike gesondheid verwys, aldus die navorser, na die kind se funksionering op alle vlakke. In 'n Gestaltspelterapeutiese raamwerk word, daar juis onder andere na die holistiese beginsel verwys (Blom, 2004:9-11).

59

3.3 MUSIEK VANUIT 'N GESTALTPERSPEKTIEF Gestalt, geheel, of holisme, verwys na eenheid en beskryf vir die doeleindes van hierdie navorsing die funksionering van die kind in sy laerskool tydperk of middelkinderjare lewensfase as 'n eenheid en in sy geheel. (Vergelyk ook Shaffer, 2002:5, 619.) Die begrip holisme kan dus as die belangrikste teoretiese beginsel van die Gestaltteorie beskou word. Perls (in Aronstam, 1989:187) beskou die mens as ‘n geïntegreerde organisme wat altyd as ‘n eenheid funksioneer. Hierdie geheel of entiteit is baie meer as die som van sy dele en word as ‘n geheel beskou, solank daar ‘n verhouding bly bestaan tussen die verskillende dele

(Blom, 2004:10).

‘n

Versteuring in een deel van die geheel sal ‘n direkte invloed uitoefen op die ander dele. 'n Voorbeeld hiervan kan gevind word by 'n kind wat emosioneel onstabiel is en as gevolg van ongeïdentifiseerde, onuitgespreekte, aggressiewe gevoelens wanfunksioneer en sy skolastiese prestasies of vermoëns word beïnvloed deur hierdie wanbalans. Mense van die moderne samelewing, wat meestal die kind se huisgesin, skool en maats insluit, word huidiglik steeds linkerbrein-geskool, met ‘n fokus op analitiese en rasionele denkwyses.

Dit kom soms gefragmenteerd voor van 'n persoon se

emosionele belewenisse. Musiek is, soos wat reeds genoem is en soos wat Neethling (1999:44) dit stel, 'n saambindende faktor wat emosies gelei en eenheid of holisme met die mens se gemoedstoestand bewerkstellig; en wat neerslag vind in sy gedrag en wyse van kommunikasie.

Hierdeur kan individue, spesifiek kinders vir die

doeleindes van hierdie navorsing, weer gehelp word om geïntegreerd te raak in hulself, aldus Harris (in Nicol, 1996:18), en vanuit 'n Gestaltperspektief balans of homeostase beleef. Dowling (1994:1) konstateer dat volgens Gestalt ‘n melodie ook nie net gesien behoort te word as ‘n versameling van onafhanklike note nie, maar as ‘n geïntegreerde geheel waarvan die dele onlosmaaklik verwant is aan die organiese struktuur. ‘n Verandering in een deel van die melodie sal onvermydelik ‘n effek hê op die manier waarop die res van die melodie waargeneem of beleef word. Dieselfde skrywer vergelyk 'n melodie byvoorbeeld met 'n sin wat ‘n geïntegreerde geheel is en dus nie net ‘n string woorde

60

nie. Sinne maak staat op die betekenis van die konteks waarin dit gebruik word asook die gebruik van die taal om sin te maak. Op dieselfde wyse is ‘n melodie afhanklik van die strukturele konteks wat deur die musiekstyl voorsien word. So sal die verskillende instrumente of rolle, in ritmiese koördinasie, die kwaliteit van die simfonie orkes se musiek bepaal. Paclicevic (1997:59) sluit by die holistiese beginsel aan deur te noem dat: “… when we listen to music, we hear it as a whole, rather than as disparate elements of rhythm, timbre, dynamic level, …” Dit blyk dus dat as gevolg van die holistiese beginsel Gestalt en musiek-as-terapie met mekaar versoen kan word. Die oorhoofse ritmiese struktuur van musiek dra by tot die vorming van ‘n musikale geheel of Gestalt aldus Odell-Miller (2002:152). Meyer (in Pavlicevic, 1997:65; Cook & Dibben, 2001:57) se algehele interpretasie van musikale struktuur is gebaseer op Gestaltbeginsels: "…listeners are drawn to perceive musical patterns as wholes, as tending towards closure." Deur gebruik te maak van verskeie komposisie-tegnieke kan hierdie persepsies dus gestimuleer of uitgedaag word. Indien Meyer (in Cook en Dibben, 2001:57; Pavlicevic, 1997:65) se basiese konsep wat soos volg lui: “Emotion or affect is aroused when a tendency to respond is arrested or inhibited…”, reg verstaan word, bestaan daar tussen musiek en emosie raakpunte. Musiek voorsien ‘n georganiseerde struktuur wat dus ‘n effek het op die mens wat daarna luister. Die musikale struktuur aan die een kant en die idee om aan die ander kant van binne ‘n verhouding met die persoon saam musiek te maak of daarna te luister, kan ook gebruik word om "self/not-self boundaries" of “persoonlike/nie-persoonlike grense” te eksploreer, aldus Wilber (in Bunt & Hoskyns, 2002:34). Die mens word dus as geheel deur musiek geraak. Volgens Nicol (1996:16) bestaan die mens uit verskillende emotiewe, kognitiewe- en fisiologiese subsisteme wat interreageer om hom as ‘n heel sisteem te definieer. In plaas van die gebruikmaking van die begrippe subsisteem en sisteem, is musiek verwant aan vier ontwikkelingsvlakke van die kind in die laerskool, aldus Shaffer (2002:619). Hierdie vlakke is naamlik die fisiese, verstandelike, emosionele en spirituele aspekte, omdat dit elkeen van hierdie vlakke of domeine op ‘n besondere manier raak.

Dié

interaksionele werking ten einde balans te bewerkstellig sál ook op die kind in die

61

middelkinderjare se lewensfase van toepassing gemaak kan word en sal daarom empiries ondersoek word. Hierdie wisselwerking kan met behulp van ‘n aangepaste skematiese voorstelling soos volg uitgebeeld word:

Ontwikkeling

Fisiologies Liggaamsfokus Biochemies Medies Neurologies Sintuie

Biologies Individueel Laerskoolkind

Hier-en-nou Gevoelens uitdruk

Musiek

Psigodinamies Denke Oordeel

Ondersteuning

Intrapersoonlik Humanisties Holisties Geheel Groei Hier-en-nou

Integrasie Temperament Denke, liggaam emosies

Figuur 2: Die uitwerking van musiek op die ontwikkeling van die kind in die middelkinderjare. (Vergelyk ook Bunt & Hoskyns (2002:44).) Vervolgens sal vir die doeleindes van hierdie navorsing, kortliks gefokus word op die wisselwerking tussen musiek en die fisiese, kognitiewe, emosionele en spirituele sy van die kind se funksionele vlakke 3.3.1 Die fisiologiese effek van musiek Die effek van musiek vanuit die fisiologiese perspektief kan, aldus die navorser, makliker begryp word indien ‘n onderverdeling plaasvind, naamlik om te fokus op die kind se liggaamlike self, die biochemiese, mediese en neurologiese aspekte. Die fisiologiese effek van musiek op spesifiek die liggaam, het in die verlede verskeie navorsers geïnteresseer. Die verhouding tussen die ritme van die mens se liggaam en dié van musiek, is volgens Swallow (2002:42) deur heelwat navorsers ook vanuit

62

ander hulpprofessies, bestudeer. Harrer en Harrer (in Swallow, 2002:42) het bevind dat, in reaksie op musikale stimuli, daar ’n verandering in die polsslag, respirasie, velreaksies en spierbewegings plaasvind. Saperston (in Swallow, 2002:43) huldig die mening dat die hartklop verminder indien die tempo van die musiek een slag per minuut stadiger is as die polsslag. Du Toit (in Nicol, 1996:17), Scherer en Zentner (2001:365, 374-377) en Van Velden (2002:67-68) vermeld ook fisiologiese effekte wat musiek op die liggaam het, deur te noem dat die ritme van musiek ‘n somatiese uitwerking kan hê. Hierdie somatiese effekte kan areas aanraak soos die kind se asemhalingsritme, bloeddruk, hartslag, polsslag, hormoonvlakke, breingolwe, endokriene funksies en sy energievlakke in die spiere. Die tipe musiek en die konteks waarin dit gehoor word en waarin die kind hom bevind, sal die wyse bepaal waarop musiek sekere fisiologiese effekte meebring. Die rede vir die fisiologiese effek van musiek is tweërlei van aard. In die eerste plek is dit nodig om die fisiologiese konteks van die kind in hierdie middelkinderjare lewensfase beter te begryp, asook die uitwerking wat musiek hierop het. Tweedens sluit die Gestaltspelterapeutiese benadering spesifiek die verskillende sintuie in om selfbewussyn te bewerkstellig. Om musiek te maak is ‘n geheel-ervaring binne ruimte en tyd en bied ook aan die kind die belewenis van 'n begin met 'n einde. Dit bied ‘n spelerige benadering waarby al die sintuie betrek word en aangesien dit geïntegreerd is, word ontwikkelingsaspekte as geheel aangespreek.

Deur middel van

Gestaltspelterapie kan die laerskoolkind gehelp word om bewus te word van homself en sy liggaam en selfondersteunend te wees, ten einde in staat te wees om geïntegreerd te funksioneer. Volgens Bunt (1994:89) is daar binne musiek interaktiewe- en ontwikkelingsprosesse wat korrelleer met prosesse wat die kern vorm in die vroeë ontwikkeling van die kind. Om te luister na musiek en om musiek te maak, kan gekoppel word aan prosesse in die fisiese, intellektuele, emosionele en sosiale ontwikkeling van 'n kind. (Vergelyk ook Van Schalkwyk, 1998:74-85). Hierdie prosesse kan ontwikkeling van verskillende vaardighede insluit, soos die vermoë om na te boots, beurte te maak, te vokaliseer, te

63

kyk, aandag te gee, motoriese- en sosiale vermoëns en ander aspekte soos nieverbale kommunikasie (Bunt & Hoskyns, 2002:14; vergelyk ook Campbell, 2000:116). Volgens Bunt (1994:96-97) kan die ervaring daarvan om musiek te maak, deel uitmaak van ontwikkelingspel. Vanuit die navorser se waarneming kan die benutting van musiek die kind tot maksimale groepsinteraksie aanmoedig, aangesien dit op die ritme van sy liggaam 'n effek het asook aansluiting vind by die waarde van spel vir die kind in die middelkinderjare lewensfase. Om musiek as 'n vorm van spel te verken en te bespreek, maak Bunt (2002:71) 'n waardevolle bydrae deurdat hy noem dat klank, ritme en beweging, die basis van musiek vorm. In die lig hiervan is musiek as ‘n vorm van spel, 'n geskikte hulpmiddel wat aansluit by die ontwikkelingsfase waarin die laerskoolkind hom bevind. Spel op sig self is een van die kenmerkende eienskappe van ‘n kind, ook die laerskoolkind, en dit is van die belangrikste wyses waarop sosiale interaksie plaasvind. Volgens Garvey en Grieve (in Botha, Van Ede, Louw, Louw & Ferns, 1998:303) en Shaffer (2002:231) is spel onder andere vir die laerskoolkind: lekker en genotvol; spontaan en vrywillig;

uit vrye wil deur die speler gekies;

aktiewe deelname;

intrinksiek van aard deurdat spel ter wille van die spel self plaasvind; 'n geleentheid om op die aktiwiteit self te fokus, eerder as op die uitkoms van die spel en om aan die werklikheid te ontsnap. Benewens die feit dat spel hierdie geleenthede bied, is daar ook verskeie funksies wat die kind se funksioneringsvlakke kan beïnvloed en wat kortliks aan die leser voorgehou sal word. Ten opsigte van liggaamlike en fisiese ontwikkeling, aldus Botha et al., (1998:303), bevorder spelaktiwiteit fyn-en grofmotoriese ontwikkeling, asook die ontwikkeling van sekere vaardighede soos om byvoorbeeld met ‘n skêr te knip of 'n musiekinstrument te bespeel. Die laerskoolkind volgens Shaffer (2002:158) se oog-handkoördinasie en beheer oor sy spiere, ontwikkel teen 'n hoë tempo wat dit vir hom moontlik maak om sy hande meer gesofistikeerd te gebruik. Die verhoging en

64

verfyning van die kind se motoriese ontwikkeling is een van die ontwikkelingstake wat die kind in die middelkinderjare lewensfase behoort te bemeester. Vervolgens is dit dus ook nodig om die leser kortliks toe te lig oor die rol en plek van die sintuie van die kind in die middelkinderjare lewensfase, as deel van die fisiologiese effek van musiek. Deur middel van onlangse navorsing is gevind dat die stimulering van die kind se sintuie met behulp van musiek, deel kan vorm van die helingsproses. Van Velden (2002:67-68) stel dit soos volg: “By stimulating one’s hearing, music creates a sense of wellbeing by mediating the secretion of certain chemicals in the brain that soothe and relax the body, mind and soul”. Oaklander (1988:114) is van mening dat die proses waardeur ‘n persoon bewus word van klank, juis die eerste stap is van kontakmaking en die begin van die kommunikasieproses, wat gesprek en uitdrukking asook waarneming behels. Sensoriese kontakmaking deur middel van die sintuie, asook verhoudingsbou, is een van die eerste stappe in die Gestaltspelterapeutiese proses. Dit dra by tot die kind se bewussynskontak met homself, sy eie emosies en gedrag, sy omgewing en met ander mense (Schoeman, 1996:71, Oaklander, 1988:114; Peters in Joseph, 2004:28). Deur kinders dus te help om klank te waardeer, word sy sin vir en bewustheid van die self verhoog. Winnicot (in Stewart & Stewart, 2002:136; Pavlicevic, 1997:149-150) huldig die volgende mening oor die funksie van spel in verhouding tot die self: "It is in playing and only in playing that the individual child is able to be creative and to use the whole personality, and it is only in being creative that the individual discovers the self." Dit kan bereik word deur musiek te gebruik en behels dus dat die kind kan luister, oor verskillende klanke kan praat, verskillende instrumente se klank met mekaar kan vergelyk en deur gevoelens aan klank te koppel, soos om byvoorbeeld vas te stel watter klank ‘kwaad’ sal verteenwoordig. Die tassintuig se funksie kan die hele liggaam insluit en deur middel van fisiese kontak met mense, kan ‘n emosie wat iemand na ‘n ander wil oordra, bevestig word. Schoeman (1996:47) noem dit die interverweefdheid tussen emosionele en sosiale

65

kontak tussen mense. Berger (2002:11) sluit die kind se liggaam as geheel in wanneer sy musiek beskryf as musiek van die lewe, wat die kind ervaar of beleef met sy hele liggaam. Lank voordat die brein musiek identifiseer, word dit reeds ervaar as ‘n gewaarwording of aanvoeling. Die musiekintrument op sig self word deur Bunt (1994:97) beklemtoon deurdat hy noem dat dit as ‘n verlengstuk van die liggaam beskou kan word. ‘n Voorbeeld hiervan is kontak wat met die hande en die mond plaasvind wanneer ‘n instrument bespeel word. Dit kan ‘n kind sowel gevoelens van projeksie as beskerming laat ervaar. ‘n Kind se gunsteling musiek wat byvoorbeeld gespeel word voordat gesprekvoering plaasvind, kan die atmosfeer positief stem, waarna die kind die geleentheid kry om oor ‘n gevoelsaspek te praat. Harde of sagte klanke wat gespeel word, kan in verband met ‘n ervaring gebring word. Afhangende van hoe 'n mens waarneem, noem die vorige skrywer verder, dat musiek gehoor kan word in die voetstappe van ‘n persoon; die visuele ritme waarmee iemand ‘n glas vashou en neersit asook die vloei en beweging van ‘n persoon se liggaam. Indien musiek in hierdie konteks beskou word, is musiek oral en is dit die mens se eerste taal. Berger (2002:11) sluit dan ook al die sintuie in, naamlik gehoor, sig, tas, reuk en smaak. Dit sluit aan by die Gestaltspelterapeutiese uitgangspunt dat 'n persoon fisiologies bewus gemaak kan word van 'n boodskap deur middel van waarneming, wat tot selfbewussyn kan lei. Visie is ‘n primêre funksie wat al die sintuie koördineer, is permanent in werking en stimuleer die kind se kognitiewe vermoë, aldus Schoeman (1996:43). Deur middel van sig ontvang hy nie-verbale boodskappe wat hy op sy sosiale verhoudings toepas. Deur die kind met behulp van visie in kontak te bring, raak hy bewus van sy omgewing se invloed op sy optrede. Die kind kan gevra word om na ‘n objek soos byvoorbeeld ‘n musiekinstrument te kyk en sy gevoelens en herinneringe te projekteer deur middel van klei, sand of ‘n tekening.

Deur gebruik te maak van gekleurde lense, ‘n

vergrootglas, kaleidoskoop of sellofaan, kan sy waarneming verder verhoog word. Die smaakfunksie se kontakmaking kan in kombinasie met temperatuur, reuk en tekstuur, gestimuleer word. Daar kan geëksperimenteer word met die tong, lippe en hande, deur voor- en afkeure vas te stel en emosionele situasies hieraan te koppel.

66

Die reukfunksie kan benut word om inligting te bekom van dit wat rondom die kind aangaan, byvoorbeeld wat aangenaam of onaangenaam is, wat ook emosionele ervaringe na vore kan bring. ‘n Kind kan die instrument visueel waarneem en verder ook sy tas- en reuksintuig benut deur daaraan te vat of te voel en ook daaraan te ruik. Filley (in Kaduson & Schaefer, 2000:336) huldig die mening dat woede kontak verbreek en die kommunikasie tussen die sensoriese, fisiese en emosionele aspekte beëindig omdat dit in die liggaam onderdruk word. Deur ‘n bepaalde klank te hoor en te beleef deur sowel van sy tas- as reuksintuig gebruik te maak, kan sensoriese kontakmaking die kind bewustelik instel om in kontak te kom met die hier-en-nou en sy emosie van woede wat hy ervaar. Musiek word egter deur Swallow (2002:51) as meer as een soort klank beskou. Hy vermeld dat gehoorgestremde musikante in besonder bewus is van die sensasie van vibrasie, wat gepaard gaan met alle musiek. ‘n Normale mens se reaksie op musiek is op die oog af ‘n proses. Die prosessering van klank sluit ‘n reeks ingewikkellende klankgolwe in met ‘n kragtige emosionele ondertoon.

Die laerskoolkind se

gehoorfunksie word vroeg reeds gestimuleer deur middel van stemme en klanke (Schoeman, 1996:145; Okalander, 1988:114). ‘n Voorbeeld hiervan is om musiek te maak of na klanke te luister en ‘n verband te trek tussen melodieë wat aggressie, woede, blydskap, vrees of hartseer, uitbeeld. Harde of sagte klanke, vinnig of stadige musiek, verskillende vorms van musiek, soos byvoorbeeld pop- en klassieke melodieë, gee ‘n verskeidenheid van ervaringe.

Die kind kan sy emosies koppel aan

verskillende klanke en dit dan projekteer deur te teken of dit uit te speel. Die gehoorfunksie is belangrik, in die sin dat aggressie gewoonlik verbaal is en dus dikwels deur klank uitgebeeld kan word. Philips (in Bunt, 2002:71) verwys na die paradoks van stilte en klank: “It is a paradox, perhaps best captured in music (or tones of voice), that it is sounds and silence that link us to our earliest states of being.” Polster (1970:75) konstateer: “Silence when joined with focused concentration has the effect of building up the intensity of feeling.” Die polariteit van stilte kan effektief benut word wanneer musiek of klank as hulpmiddel gebruik word en kan veral die bewustheid van die gehoorfunksie verhoog. Volgens

67

Barenboim (1991:160) is die sterkste element van klank, die stilte voor en na klank. Dié skrywer stel dit soos volg: “Music starts from nothing and ends in nothing, and in this sense it resembles the life of a person, an animal or a plant. Life also starts from nothing and ends in nothing, and this nothing is … silence.” Klank kan nie onbepaald behou word nie, dit verander uiteindelik in stilte. Klank is volgens Nicol (1996:10) die vibrasie en samevoeging van klanke om ritmiese patrone van musiek te maak. Musiek is die mens se strukturering (vergelyk ook Pavlicevic, 1997:58) van vibrasies tot ‘n sinvolle geheel wat op kunsinnige wyse uitdrukking gee aan sekere emosies, soos woede, hartseer en vrees, of gedagtes. Dit is belangrik om vir die doeleindes van hierdie navorsing te onthou, naamlik dat, op grond van bestaande navorsingsdata, 'n kind se sintuie bewustelik ingespan kan word met die oog op waarneming en om dus selfbewussyn te bewerkstellig. Polster (1970:76) maak ‘n gevolgtrekking dat: “…the individual’s discovery of his sensations, … may lead him to an experience of fulfillment, may help complete the workingthrough process, …” 'n Kind wat aggressie en woede ervaar, sluit homself, aldus Schoeman (1996:174), af van sy sintuie, beperk sy liggaam en sluit sy denke. Die kind se eie kontakfunksies is dus om dié rede negatief versterk as gevolg van aggressie, wat onaangenaam is en sy emosionele bewussyn verswak. Sensoriese kontakmaking is volgens Blom (2004:101) 'n voorvereiste vir 'n kind se emosionele kontak én kontak met die self. Musiek en ontspanningspel kan aanleiding gee tot die versterking van die sintuie, fisiologiese veranderinge en dus die kind se selfbewussyn. Bogenoemde aktiwiteite kan daarom suksesvol aangewend word om dus by te dra tot atmosfeer en verhoudingsbou. Verder kan omgewingstake wat met humor en spel uitgevoer word energie vrystel wat gemobiliseer kan word om met nuwe gedrag te eksperimenteer (Schoeman, 1996:54). Sodra die kind se sin vir homself verhoog, kan daar voortgegaan word tot projeksie-tegnieke deur byvoorbeeld op ‘n tekening van ‘n individu aan te dui watter fisiologiese veranderinge plaasvind, wanneer aggressie of woede ervaar word. ‘n Kind in die middelkinderjare ontwikkelingsfase kan note, ritme en harmonie van musiek bemeester en in groepsverband geniet. 68

Sy fynmotoriese vermoëns het

voldoende ontwikkel en op ‘n ontspanne wyse en binne ‘n veilige omgewing kan hy gelei word om kontak te maak met sy emosies en om dit te identifiseer. Musiek stimuleer en verhoog die aandagspan en kontak met die self, wat dus kan lei tot die kind se verhoogde emosionele bewussyn om daardeur kommunikasie, uitdrukking of gedragsreaksies moontlik te maak. 3.3.2

Die kognitiewe effek van musiek

Vanuit 'n filosofiese denkraamwerk word erkenning gegee aan die veelvuldige effek van musiek op die mens se denke of intellek. Die mening word egter gehuldig dat musiek ook veronderstel is om die mens se oordeels- en evalueringvermoë te beïnvloed. Dit blyk egter, aldus die navorser, dat die uitwerking van musiek op die brein ook 'n aspek is wat nog te veel op empiriese stellings gebaseer is. Scherer en Zenter (2001:373) asook Durham (2002:116) huldig dieselfde mening in hulle soeke na empiriese bewyse. Peretz (2001:105) blyk 'n navorser te wees wat die mening huldig dat die funksie van die brein, naamlik om die mens se gedrag, gedagtes, motivering en veral die emosionele prosesse daarvan te beheer, ‘n onderwerp is wat die laaste dekades nagevors word en wat merkbare oplossings kan bied. Le Roux (2003:14) sluit hierby aan deur te noem dat die brein die sentrum is waarvandaan die menslike organisme beheer word. Dieselfde navorser verduidelik die werking deur middel van 'n proses, naamlik dat die brein musiek verwerk om die mens daarna fisies te affekteer. Die klanke van musiek bied 'n helende krag en maak die belewenis van emosies moontlik, wat dan weer met behulp van die brein die uitdrukking daarvan moontlik maak (Pavlicevic, 1997:20). Die kognitiewe effek van musiek is volgens Van Schalkwyk (1998:44) en Juslin en Sloboda (2001:3) tweeledig van aard.

Eerstens ontstaan daar kognitiewe of

neurologiese prosesse wanneer na musiek geluister word, en tweedens is daar die kognitiewe prosesse waardeur betekenis aan die ervaring en kennis wat opgedoen word saam met die musiek, gegee word. Volgens Bryant (in Van Schalkwyk, 1998:45) is laasgenoemde proses die denkproses waardeur 'n mens elke situasie deurdink en 69

waarde daaraan heg, betekenis daaraan gee, oortuigings vorm en 'n houding bepaal. Dit blyk dus dat wanneer beide prosesse voltooi is, naamlik om na musiek te luister en betekenis daaraan te heg, dit verder geneem moet word deur middel van projeksietegnieke en gesprekvoering wat eie is aan die Gestaltbenadering. Indien dit nie realiseer nie, kan die kind se persoonlike proses, naamlik sy eie manier van doen, nie vasgestel word nie en hulpverlening, aldus die navorser, nie tot sy reg kom nie. Pribham (in Durham, 2002:116-117) het gevind dat die brein as 'n geheel by musikale response betrokke is.

Volgens Zatorre (in Van Schalkwyk, 1998:45) is enkele

navorsingsresultate aangeteken oor die verskillende breinhemisiferiese prosesse, wanneer verskillende musikale take uitgevoer word. Die prosessering van musiek in die brein geskied gelyktydig in albei hemisfere. Die betekenis wat die linker- en regterhemisfeer onderskeidelik aan musiek gee, verskil in die sin dat die regterhemisfeer die emosionele kwaliteite prosesseer en die linkerhemisfeer die intellektuele of analitiese, aldus Kaser (in Van Schalkwyk, 1998:50). Neethling (1999:82) noem dat die kind wie se breinvoorkeur in die regterbrein lê, die musiek in die geheel sal hoor en dit met emosie sal ervaar. Die linkerbrein sal dit weer vir die kind moontlik maak om elke instrument, asook die musiek daarvan, afsonderlik en spesifiek in detail te hoor. Musiek bied die geleentheid vir die kind wat baie linkerbrein-georiënteerd is om emosies uit te leef sonder om blootgestel te word. Die kind kan dus as geheel, met sy emosies, kognisie, fisiologie en musiek wat verwant is aan sy ontwikkelingsvlakke in die laerskool, baatvind by die gebruik van musiek. Dit is egter, aldus die navorser, nodig dat musiek doelgerig aangewend behoort te word en dat, soos reeds vermeld, vanuit die Gestaltperspektief met behulp van projeksietegnieke en deur middel van gesprekvoering, die selfbewussyn aangespreek sal word. Le Doux (in Berger, 2002:37) konstateer dat wanneer sensoriese prosessering bestudeer word, dit belangrik is om te onthou dat die mens, soos diere, in die eerste plek emosionele respondente op die omgewing is. Die sensoriese is dus deurentyd in interaksie met die kognitiewe en indien die kind dus bewus gemaak word van

70

ontspanning sal die brein teruggelei word na 'n toestand van alfaritme en balans tussen die emosionele en kognitiewe prosesse. Dit is egter nie net die sensoriese wat in interaksie is met die kognitiewe nie, maar ook die emosionele. Peretz (2001:118, 128) huldig 'n belangrike mening, naamlik dat om emosies te kan beoordeel, kortikale bemiddeling noodsaaklik is. Volgens Boone en Cunninghum (in Shaffer, 2002:382) beskik die kind reeds op vier- of vyfjarige ouderdom die vermoë om na aanleiding van 'n persoon se nie-verbale gedrag en deur middel van sy liggaamsbewegings af te lei of hy bly, kwaad of hartseer is. Blom (2005:1) sluit vanuit 'n Gestaltperspektief hierby aan deur te noem dat 'n kind se vermoë om emosies te herken, dit uit te druk, te ervaar en te hanteer, verder bepaal word deur sy ouderdom en ontwikkelingsfase. Aangesien sowel die sensoriese as emosionele terreine in interaksie met dié van die kognitiewe verkeer, behoort die kind dus bewus gemaak te word van die inligting wat hy deur middel van sy sintuie bekom het en sy gevoelens wat hy ervaar, om dit in ag te neem vir besluitneming of probleemoplossing.

Indien ‘n kind se proses van

bewusmaking, suksesvol aangespreek word, huldig Blom (2000:53) die mening dat hy oor die vermoë sal beskik om oor emosies te redeneer. Emosionele bevoegdheid kan hieruit ontwikkel omdat daar op sy selfbewussyn gefokus word, wat impliseer dat hy selfkennis en -begrip bekom. Verskeie navorsers is betrokke en fokus op emosionele bevoegdheid (De Klerk & Le Roux, 2003:11, Ebersohn & Eloff, 2003:60) en huldig die mening dat die kind dit doelgerig kan aanwend deurdat fokussering op die positiewe belewenis van byvoorbeeld emosies, selfrespek, denkpatrone en reaksies, dit moontlik kan maak. Indien die belewenis hiervan deel raak van die kind self en sy eie proses, sal die uitleef daarvan, langs die volgende proses verloop: •

Dit begin by die self in elke omstandigheid;



Waarna hy oor ‘n woordeskat van gevoelswaarde behoort te beskik sodat dit vir hom makliker is om te verstaan hoe hý voel in plaas van om die omstandighede te verstaan. Dit sal met ander woorde makliker wees om te begryp wat besig is om bínne homself, as óm hom gebeur. “Ek voel kwaad”, is die vertrekpunt en nie “Dit is belaglik” nie;

71



Vervolgens fokus hy op “ek”, in plaas van “ander” of “omstandighede”, sodat sinvolle besluitneming kan plaasvind. Gevoelens moet met ander woorde gebruik word om te besluit en te oorweeg as hy byvoorbeeld nie met ‘n maat speel nie, en hoe hy sal voel as hy dit wel doen;



In die volgende stap aanvaar hy verantwoordelikheid vir selfstandige gedrag of ‘n reaksie;



Waarna hy probeer verstaan hoe ander voel en hy sodoende meer empatie vir ander deur middel van sy optrede kan wys;



Asook dat hy positiewe gedrag en reaksies vanuit negatiewe emosies kan verkry, keuses kan uitoefen om meer gelukkig te wees en te besluit wat hom in bepaalde omstandighede beter sal laat voel.

Neethling (1999:44-45) se navorsing oor die funksionering van die brein toon aan dat in die buitenste omhulsel, die korteks, vaardighede soos logika en spraak hul oorsprong het. Balans kan versteur word deurdat die doeltreffende funksionering van die korteks beïnvloed word wanneer 'n kind aggressie ervaar. Logika en kalme beredenering speel heel dikwels geen rol nie. Gedrag en kommunikasie word vanuit 'n emosie soos aggressie gerig, aangesien die sentrale gedeelte van die brein oorneem en aggressie as 'n sterk emosie soos woede beleef word. Musiek as 'n vorm van spel kan, aldus Neethling (1999:44-45), die kind bewus maak van ontspanning om die brein te herlei na ‘n toestand van alfaritme vir balans tussen die emosionele en kognitiewe prosesse. Indien die kind se selfbewussyn aangespreek word, kan met behulp van sowel ontspannende spel as Gestaltspelterapie juis balans verkry word. Volgens Piaget (in Botha, Van Ede, Louw, Louw & Ferns:1998:307) en Lillard (in Shaffer, 2002:231) dra spel nie alleen by tot kognitiewe ontwikkeling nie, maar word die kind se kognitiewe ontwikkeling ook in spel weerspieël. Spel skep geleenthede vir die kind om van ander en ook van sy omgewing te leer deurdat hy met die omgewing eksperimenteer. Musiek as hulpmiddel kan gebruik word om die kind te help om met nuwe denkpatrone en oplossings vir sy aggressiewe probleme, te eksperimenteer. Die kind in die middelkinderjare lewensfase behoort die vermoë te hê om 'n situasie te deurdink, te analiseer en logies te rekonstureer omdat sy konsentrasie, aandag en

72

beplanningsvermoë as deel van sy intellektuele vermoëns, ontwikkel

(Shaffer,

2002:297-298). Daar is ‘n geneigdheid binne die Westerse samelewing om die rasionele, analitiese en verbale prosesse, wat geassosieer word met die linkerbrein, te beklemtoon. Hierdie geneigdheid raak die kind in die sin dat hy nie toestemming by die huis of skool kry om sy emosies te ervaar nie. Daarmee saam leer hy ook nie die noodsaaklike beginsels van impulsbeheer, van hoe om byvoorbeeld woede te hanteer of enige ander emosionele bekwaamheid nie. Harris (in Nicol, 1996:17) huldig die volgende mening: “Music appears to relate primarily to the imaginative, intuitive, holistic activities of the mind.” Dit wil voorkom of musiek dus veral regterbreinfunksionering raak. Musiek kan kreatiwiteit en hoë vlakke van denke stimuleer wat kan meebring dat dit as hulpmiddel vir die kind gebruik kan word om nuwe denkpatrone en oplossings vir sy aggressiewe probleme te vind, wat hom sodoende in staat stel om selfondersteunend, maar ook as 'n holistiese eenheid te funksioneer. Die noodsaaklikheid van navorsing vanuit ‘n Gestaltperspektief kan, volgens die navorser, nie genoeg beklemtoon word nie. Die leser behoort in ag te neem dat kennis en verfyning van teoretiese konsepte en stellings nodig is om die doelgerigte praktiese toepassing daarvan moontlik te maak.

Deur middel van ‘n teoretiese

onderbou vanuit die Gestaltbenadering met spesifieke verwysing na musiek as ‘n hulpmiddel om die kind behulpsaam te wees om aggressie te hanteer, behoort praktykbeoefening moontlik te wees. 3.3.3 Die emosionele effek van musiek Die navorser het met die aanbieding van die effek van musiek op die emosionele vlak van die laerskool kind, ten doel om die begrippe emosies en gevoelens verder te verfyn en te onderskei. Die rede hiervoor is om dit vir toekomstige praktykbeoefening, vanuit 'n Gestaltbenadering, te benut. Alhoewel gevoelens 'n konsep is wat dikwels gebruik word, is daar egter 'n betekenisverskil tussen emosies en gevoelens, aldus Blom (2005). Duidelikheidshalwe word die vier komponente van die begrip emosie vanuit haar navorsing voorgehou. Emosies bevat volgens Blom (2005) ‘n:

73



gedrags- of motoriese komponent wat byvoorbeeld na ‘n bepaalde houding wat 'n persoon inneem of stemtoon wat iemand mee oorkom, verwys;



ervaringskomponent wat verwys na die gevoelservaring of bewuste belewenis wat deel vorm van die emosies. Hierdie bewuste belewenis of gevoelservaring van emosies verwys in werklikheid na gevoelens;



regulerende komponent wat impliseer dat dit op ‘n sekere manier hanteer word. Die hantering van woede kan byvoorbeeld deur middel van ‘n aggressiewe uitbarsting uitgedruk of weerhou word; en



prosesserings komponent wat beteken dat die brein daarby betrokke is om betekenis te gee aan dit wat ‘n kind voel, byvoorbeeld kwaad of hartseer en ook om emosies in ander te erken en te benoem.

Indien die plek en rol van emosie in ag geneem word, kan dié aanbieding daarvan in die formaat van ‘n proses vir die praktiese toepassing herrangskik word. Verder is die gevoelsdeel van emosie dus slegs één deel van ‘n emosie wat deur die kind ervaar word, terwyl emosie na verskeie prosesse wat in die liggaam plaasvind, verwys. Die gevoelservaring van ‘n kind, wat met behulp van sy sintuie en deur sy waarneming veroorsaak word, kan as die belangrikste komponent, aldus die navorser, beskou word. In aansluiting by die voorafgaande word die term ‘emosie’ soos volg omskryf: “Emotion is a complex set of interactions among subjective and objective factors, mediated by neural/hormonal systems, which can give rise to affective experiences such as feelings of arousal, pleasure or displeasure; generate cognitive processes such as perceptually relevant effects, appraisals, labeling prosesses; activate widespread physiological adjustments to the arousing conditions; and to behavior that is often, but not always, expressive, goal-directed, and adaptive.” Kleinginna & Kleinginna (in Sloboda & Juslin, 2001:75). Navorsers maak ook van verskeie begrippe en konsepte gebruik om musiek te beskryf afhangende van wat verband hou met die doel of effek daarvan. Dit blyk egter dat musiek veral gekoppel word aan emosies, deurdat dit vir die meeste mense 'n wyse van uitdrukking van emosie is en ook 'n helende krag bied. Warren (in Swallow, 2002:45) spreek sy mening oor musiek deur middel van die volgende Chinese gesegde uit: “Music comes from the heart of the human being. When emotions are

74

born they are expressed by sounds and when sound are born they give birth to music.” So het interaksie tussen ‘n moeder en haar baba wat op 'n spesifieke wyse geanaliseer is, aan die lig gebring dat die uitruiling van klank en gebare tussen hulle hoofsaaklik musikaal is.

(Vergelyk ook Sloboda & Juslin, 2001:79 en Bunt &

Pavlicevec, 2001:193.)

Hierdie uitruiling van musikale klanke dra by tot die

ontwikkeling van die baba se primêre verhoudings en dra dus by tot die vorming van sy identiteit, verhoudings en kommunikasievermoëns aldus Dixon (2002:121) en OdellMiller (2002:154). 'n Interessante mening word deur Sloboda en Juslin (2001:89) gehuldig wanneer hulle noem dat sekere tipes musiek, as gevolg van die emosionele aard daarvan, beter aanklank vind by 'n sekere lewensfase. Rockmusiek met sy fokus op emosies soos rebellie en woede kan byvoorbeeld 'n groter aantrekkingskrag vir 'n adolessent hê. Dit beteken dus dat sowel die terapeut as navorser moet waak daarteen om hulle eie gevoelens oor musiek te projekteer op die kind. Hulle behoort ook verder in gedagte te hou dat musiek wat op hulself 'n bepaalde effek het, waarskynlik nie dieselfde uitwerking op die kind gaan hê nie. Die emosionele betekenis is, en verwys dus na die resultaat van die kind se individuele interpretasie, eerder as die resultaat van die musiek self, aldus Harris (in Nicol, 1996:18). Scarantino (in Nicol, 1996:18) en North en Hargreaves (in Cook & Dibben, 2001:97) is van mening dat die betekenisse en emosies wat ontlok word, afhang van die kultuur, agtergrond, denkbeelde en verlede van die kind wat daarna luister. Die terapeut, en dus die navorser, behoort vanuit 'n Gestaltspelterapeutiese benadering die kind se proses, omgewingsveld en die spesifieke lewensfase as perspektief en vertrekpunt te benut. Die element van spel in musiek kan ‘n middel wees waardeur die emosionele ontwikkel kan word, deurdat ‘n hele reeks gevoelens ontdek kan word (Bunt, 1994:97). Botha et al., (1998:308) noem dat die kind tydens spel 'n gevoel van veiligheid en sekuriteit ervaar, wat met emosionele ontwikkeling verband hou en wat hy moontlik nie op alledaagse vlak ervaar nie. Spel kan andersins, steeds op emosionele vlak, 'n kind ook help om angs en vrees as emosies wat gepaardgaan met woede, te hanteer. Dit is so omdat hy tydens spel die geleentheid het om met hanteringsgedrag te

75

eksperimenteer in omstandighede wat nie ‘n bedreiging inhou nie. Verder kan 'n kind sy gevoelens in spel, veral fantasiespel, deur middel van musiek uitdruk, veral wanneer dit moeilik is om dit op 'n verbale wyse te doen waar dit normaalweg nie tot uiting sou kom nie. Net so kan daar op konflik- en angswekkende situasies simbolies in voorgeespel gefokus word om sodoende die kind behulpsaam te wees om hierdie situasies deur te werk (Shaffer, 2002:230). Musiek bied ‘n geleentheid om deur 'n emosionele belewenis te werk en met behulp van gesprekvoering, die stabilisering van die affektiewe (Van Schalkwyk, 1998: 86). Volgens Blom (2004:227-233) kan binne ‘n Gestaltspelterapeutiese raamwerk ‘n verskeidenheid van spelaktiwitieite benut word om in die kind se ervarings en behoeftes te voorsien.

Musiek as hulpmiddel kan saam met vyf vorme van

speltegnieke gebruik word, naamlik ontspanningspel, assesseringspel, biblio-spel, kreatiewe- en gedramatiseerde spel. Ontspanningspel word meestel benut om ‘n verhouding met die kind te bou, maar dit dra ook by tot ‘n ontspannende atmosfeer (Blom, 2004:227).

Assesseringspel is belangrik om die kind se kognitiewe,

perspetuele, emosionele en kulturele agtergrond in die hier-en-nou waar te neem. Oaklander (in Blom, 2004:228) noem dat die inligting wat gedurende assesseringspel verkry word, die fokus van die kind af weg sal neem. Volgens Blom (2004:232) bied gedramatiseerde spel die kind ‘n geleentheid om bedreigende situasies uit te speel en sodoende beheer oor die situasie te verkry. Bibliospel is volgens Oaklander (1988:85) ‘n omvattende tegniek in die Gestaltbenadering en kan op verskeie maniere benut word, naamlik deur ‘n fiktiewe storie te vertel, boeke voor te lees asook toepaslike stories te skryf.

Tydens kreatiewe spel word gebruik gemaak van

tekeninge waardeur die kind geleenthied kry om projeksies op ‘n indirekte wyse na vore te bring. Louw, Van Ede en Ferns (1998:343) konstateer dat die kind in die middelkinderjare lewensfase oor die vermoë beskik om emosioneel buigsaam op te tree en Blom (2004:245) noem dat die kind leer om sy emosies uit te druk, te beheer, onderdruk of weg te steek. Spel kan dien as ‘n middel waardeur die kind gehelp kan word om emosionele krisisse te hanteer en interpersoonlike konflik te verminder (Shaffer,

76

2002:230). Dit is volgens die navorser beslis waardevol om deurentyd in ag te neem dat ‘n musiekinstrument nie wraak kan neem nie, nie terugpraat of seermaak nie. Die kind, asook die volwassene, raak gewoonlik vinnig daarvan bewus dat musiek ‘n hele reeks gevoelens kan verdra, selfs daardie destruktiewe gevoelens soos aggressie en woede, wat die kind te bang is om te verbaliseer (Bunt, 1994:97). Deur musiek te speel of daarna te luister, gee aan die kind die geleentheid om kennis te maak met sy negatiewe gevoelens, wat hy andersins deur middel van negatiewe gedrag sou deurgee. Gestaltspelterapie behoort die kind in staat te stel om sy gevoelens uit te druk, dit onder beheer te kry om sy gedrag te rig en sodoende as 'n eenheid te funksioneer. 3.3.4 Die spirituele effek van musiek Musiek het baie gebruike en het ‘n wye verskeidenheid van moontlike betekenisse (Dixon, 2002:121;

Davies, 2001:25; Pavlicevic, 1997:20).

Belangrike vrae hou

verband met aspekte soos byvoorbeeld die aard van die musiek; wat dit verteenwoordig; die vermoë daarvan om al die fasette van die kind se natuur eweredig uit te druk, die spesifieke assosiasie met liefde en of dit in polariteit met aggressie gebruik kan word. Crandall (in Nicol, 1996:15) huldig die mening, dat: “As human beings, we are vehicles of meaning: we project our own interpretations, our own thoughts and feelings, onto the outer world.” Vanuit die Gestaltbenadering kan musiek dus ook as ‘n projeksietegniek dien deur byvoorbeeld die kind se musieksmaak, asook die redes waarom dit 'n effek op hom het, vas te stel. Dixon (2002:121) huldig die mening dat musiek deur die eeue heen op verskeie maniere onder andere geassosieer word met geweld en aggressie. Hy noem ook dat dit tydens oorlogsgevegte gebruik was vir besieling, om eenheid aan te wakker en tydens marsjering. Verder het opponerende faksies gewoonlik ‘n melodie benut om eenheid binne die faksie te bewerkstellig en vyandigheid teenoor die vyand uit te druk. ‘n Mens kon dus voorstellings of uitbeeldings van aggressie of geweld in die woorde vind, maar nie geweld in die musiek op sig self nie. Die botsende partye se liedere se spesifieke oorsprong kon deur middel van die lirieke (Davies, 2001:29 & 37) vasgestel word. Die grootste verbintenis van musiek met aggressie is dus simbolies van aard

77

(Pavlicevic, 1997:29).

Net so kan konflikterende- en angswekkende situasies

simbolies deur middel van voorgeespel, soos tydens ‘n poppekas, weergegee word as ‘n hulpmiddel vir die laerskoolkind om sy negatiewe gevoelens te verwoord, dit uit te druk en om sulke situasies deur te werk. Deur middel van musiek kan ‘n besondere geleentheid geskep word om die kind sowel fisiek as emosioneel na te boots. Die rede vir die gebruikmaking van die simboliese uitdrukking van aggressie binne musiek, is dat die verbintenis ekspressief van aard is, aldus Davies (2001:27) en nie verteenwoordigend is van aggressie nie. Dit is dié kwaliteit van musiek wat aangewend word wanneer dit gebruik word vir inspirasie, om met ander woorde ‘n atmosfeer van eenheid te skep of op te mars tydens ‘n oorlog. Dit is ook die intrinsieke kwaliteit van musiek wat daartoe bydra dat dit kan dien as ‘n aansporing tot geweld, aldus Dixon (2002:124). Musiek as sulks bevat dus nie ‘n gewelddadige kwaliteit nie. Interessante inligting is verder vanuit die navorsing van Peretz (2001:115) en Dixon (2002:124) bekom waar hulle noem dat musiek aangepas kan word vir spesifieke doeleindes. Hulle huldig die mening dat dieselfde melodie, wat gebruik word om die stryd tydens die oorlog aan te voer, ook gebruik kan word om 'n dans uit te voer. Wanneer ‘n melodie aangepas word om byvoorbeeld by rugbygeleenthede gesing te word, bly die melodie dieselfde. Die weergawe van die melodie kan op 'n spesifieke manier gesing word sodat dit byvoorbeeld hard, duidelik en met die nodige empatie oorkom. Volgens Dixon (2002:128) kan musiek ‘n groot verskeidenheid van menslike gevoelens en verhoudings uitdruk, waarby aggressie en gewelddadigheid, ingesluit word. Alhoewel die vermoë van musiek om die mens se emosies te beïnvloed, moeilik is om te meet, is dit algemeen bekend. Volgens Nicol (1996:17) kan sekere ritmiese patrone, melodieë en harmonieë die kind se emosies op verskeie maniere raak en omdat musiek nie na vaste inhoude verwys nie, is die aard daarvan dubbelsinnig en kan dit ‘n verskeidenheid van emosies by verskillende kinders ontlok. Musiek is aldus Scherer en Zentner (2001:374) en Berger (2002:47) ‘n lewensvatbare hulpmiddel waardeur die liggaam, deur middel van waarneming en met behulp van die

78

sintuie, kan ontspan. Sekere elemente van musiek kan, wanneer dit as hulpmiddel aangewend word om spesifieke doelwitte te bereik, bydra om ‘n rykdom inligting aan die limbiese sisteem oor te dra. Dit lei weer daartoe dat die fisiologiese sisteem sekere aanpassings kan maak, wat weer meebring dat musiek ontspanning kan bewerkstellig. Die brein en sensoriese sisteem word in werklikheid in staat gestel om te kalmeer, aspekte van sensoriese lading te geniet en vrees te verdryf. Volgens Berger (2002:47) is dit nie nodig om musiek eers te interpreteer nie. Sy huldig die mening dat musiek eenvoudig ‘n atmosfeer voorsien en gebruik die metafoor, “‘n kombers van klank”, wat die liggaam kan toedraai om daardeur ‘n gevoel van veiligheid en sekuriteit te ervaar. 3.4 SAMEVATTING In die hoofstuk is musiek vanuit ‘n Gestaltbenadering as ‘n universele kommunikasiemedium vir interaksie met die kind self, ander en sy omgewing voorgehou. ritme

en

Interessante navorsingsbevindinge is vermeld ten opsigte van klank, harmonie,

die

uitwerking

daarvan

op

die

laerskoolkind

se

funksioneringsvlakke, asook die kosmos. Daar is duidelikheidshalwe aandag geskenk aan die agtergrond van musiek asook die benutting daarvan. Musiek vanuit die Gestaltspelterapeutiese perspektief bied ‘n holistiese beskouing waar die kind as 'n eenheid funksioneer en waar die bewustelike aanwending van sy sintuie tot sensoriese, fisiologiese en daarna emosionele bewussynsvlakke, kan lei.

Meer

spesifiek geniet aggressie en die aanwending of benutting van musiek vir die hantering daarvan, aandag. Alhoewel musiek as ‘n universele medium beskou word, is navorsingsdata ten opsigte van die ontstaan en die benutting daarvan, in werklikheid onbekend en onduidelik. Die geïntegreerde geheel van musiek asook die uitwerking daarvan op die individu, bied ‘n interessante perspektief. Tyler (2002:192) se woorde is sprekend, word ondersteun en kan as samevatting aangehaal word: “Out of suffering, aggression and destruction can come the potential for creative transformation. Music is one medium through which this potential can be realised”. Vanuit hierdie bespreking behoort ‘n teoretiese

79

perspektief vir verdere navorsing en vir die praktiese toepassing van musiek as ‘n hulpmiddel om selfbewussyn en -ondersteuning te bewerkstellig, te bestaan. In hoofstuk vier sal die navorser vanuit die Gestaltbenadering as perspektief aandag gee aan die empiriese deel en ondersoek vir die navorsingsproses. Sodoende sal aangetoon word watter effek musiek op die aggressiewe laerskoolkind het.

80

3.4 MUSIEK: ‘N VORM VAN SPEL

Spel bevorder persoonlikheidsontwikkeling aldus Botha et al. (1998:30 ). Indien sukses byvoorbeeld in spel verwerf word soos om ‘n huis suksesvol op te rig of 'n musiekinstrument te kan bemeester, kan dit lei tot ‘n gevoel van beheer wat weer die kind se selfvertroue versterk. Deur tydens Gestaltspelterapie vir die kind keuses te gee word sy gevoel van beheer en dus selfvertroue versterk. Alhoewel spel ‘n weerspieëling van die sosiale ontwikkeling van die kind is, kan dit juis ook bydra tot ontwikkeling aldus Shaffer (2002:231). Wanneer 'n kind met ander kinders speel, leer hy sosiaal aanvaarbare gedrag aan en groepaktiwiteite blyk van groot belang te wees vir 'n kind in die middelkinderjare lewensfase.

Hierdie

vaardighede is belangrik aangesien die portuurgroep se verwerping van die kind met aggressie 'n groot effek op sy selfbeeld het. Vanuit die praktyk word waargeneem dat mislukkings in die bemeestering van ontwikkelingstake aanleiding gee tot 'n swak selfbeeld, min selfvertroue asook verwerping deur die portuurgroep.

3.5 MUSIEK AS INTERAKSIONELE PROSES

Gestaltterapie fokus veral op die proses dit wat besig is om te gebeur in plaas van op die inhoudelike of dit wat gespeel word aldus Blom (2004:50). Die klem is op wat gedoen, gedink en gevoel word op die oomblik, eerder as op dit wat was, mag wees, kan wees of behoort te wees. Oaklander (1997:292) wys daarop dat gestalt ‘n definitiewe proses met ‘n bepaalde verloop en volgorde veronderstel. Die feit dat die begrip proses, ‘n volgorde of sekwensie en beweging van opeenvolgende gebeurtenisse impliseer, beteken nie dat dit altyd lineêr plaasvind nie. Nicol (1996:2) tref die onderskeiding dat musiek ook nie op linieêre wyses mense beïnvloed nie,

81

maar dat dit deel word van prosesse van interaksie waarin betekenisse gegenereer word.

‘n Spelterapeut wat musiek as hulpmiddel gebruik, fasiliteer dus ‘n

ontwikkelende proses, ‘n ontdekking van klank en woorde. Harris (in Nicol, 1996:16) huldig die mening dat musiek ‘n metafoor vir beweging en verandering is en stel dit soos volg: “Music is constantly moving with changing, evolving patterns toward an inner sense of selution and completion.” Volgens die Gestaltwette van persepsie sal beweging in ‘n spesifieke rigting, ‘n verwagting skep vir verdere beweging in daardie rigting (Sloboda & Juslin, 2001:92). Die prosesse wat binne musiek plaasvind eerder as verklarings van die musiek, is wat deurslaggewend is vir die emosionele ervaring van musiek. Meyer (2001:347) onderskei tussen twee musikale prosesse nl. aangebore- en aangeleerde prosesse. Aangeleerde prosesse sluit die aanleer van die waardes van ‘n bepaalde musiekstyl in.

Dit is gewoonlik spesifiek, en histories en kultureel

afgebaken. Aangebore prosesse, aan die ander kant, is minder spesifiek en meer universeel van aard. In die vorming van ‘n musikale ervaring, sal aangebore en aangeleerde prosesse mekaar gevolglik op een of ander manier komplimenteer. Heelwat aangebore prosesse is manifestasies van die gestalt konsep van die waarneming van patrone: byvoorbeeld, wanneer ‘n proses begin, het dit ‘n neiging om voort te beweeg tot dit ‘n punt van stabiliteit of helder artikulasie bereik. Die brein het die neiging om patrone te verbeter, dit te vereenvoudig en te voltooi. ‘n Ander vorm van aangebore prosesse, is naamlik dat vinnige noot-passasies geassosieer word met hoë registers en ‘n klein omvang van note, terwyl stadige noot-passasies weer geassosieer word met lae registers en ‘n groter omvang (Meyer, 2001:345). Indien hierdie verwagting binne musiek verander word deur byvoorbeeld vinnig opeenvolgende note in die bas te gebruik, word emosie geskep en verhoog.

82

INHOUDSOPGAWE

3. Musiek as universele kommunikasie medium 3.1 Inleiding

1

3.2 Die agtergrond van musiek

2

3.3 Musiek vanuit 'n Gestaltperspektief

6

3.3.1 Die fisiologiese effek van musiek

8

3.3.2 Kognitiewe effek van musiek

13

3.3.3. Emosionele effek van musiek

17

3.3.4 Spirituele effek van musiek

20

3.4 Samevatting

22

83