AFRIKANER- SOWEL AS ZOELOEPERSPEKTIEWE OP DIE VERLOOP VAN DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER, 16 DESEMBER 1838

AFRIKANER- SOWEL AS ZOELOEPERSPEKTIEWE OP DIE VERLOOP VAN DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER, 16 DESEMBER 1838 Referaat gelewer op 13 Oktober 2006 by ‘n konfer...
Author: Aldous Hamilton
79 downloads 1 Views 252KB Size
AFRIKANER- SOWEL AS ZOELOEPERSPEKTIEWE OP DIE VERLOOP VAN DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER, 16 DESEMBER 1838

Referaat gelewer op 13 Oktober 2006 by ‘n konferensie van die Erfenisstigting oor die Groot Trek. Jackie Grobler, Departement Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria Die Slag van Bloedrivier is ‘n omstrede kwessie waaroor daar al baie gepraat en geskryf is. Dit is onmoontlik om een enkele Afrikanerperspektief op die Slag van Bloedrivier te identifiseer, net soos dit onmoontlik is om te identifiseer presies wat die Afrikaner is of was. Net so is dit onmoontlik om van een Zoeloeperspektief te praat. Vir die doeleindes van hierdie referaat word die begrip Afrikaner gebruik om ‘n kultuurgemeenskap met ‘n gemeenskaplike taal, naamlik Afrikaans, ‘n gemeenskaplike godsdiens, naamlik Calvinisme en ‘n gemeenskaplike volksgevoel te omvat.

Oor die jare heen het daar in die Afrikanergemeenskap ‘n aantal perspektiewe oor die verloop van die Slag van Bloedrivier na vore getree, wye aanhang geniet en dan weer gekwyn. ‘n Mens kan nie van een, algemeen-geldende Afrikanerperspektief praat nie, nie tans nie en ook nie in die verlede nie. Die vraag kan met reg gevra word of mens enigsins ooit van ‘n Afrikanerperspektief oor enige kwessie kon of kan praat. Wat in hierdie referaat volg is ‘n oorsig oor vroeëre Afrikanerperspektiewe oor die verloop van die Slag van Bloedrivier vervleg met kommentaar uit hedendaagse Afrikanergeledere en enkele Zoeloeperspektiewe oor beide die geveg en vroeëre perspektiewe daarop.

Wat Zoeloeperspektiewe betref is dit veel minder omvattend as Afrikanerperspektiewe gedokumenteer. Daarom is dit moeilik om veranderende perspektiewe te identifiseer. In hierdie referaat word daar hoofsaaklik maar ‘n enkele Zoeloeperspektief op sekere omstrede kwessies in verband met die geveg gestel.

1

Vooraf gebeure

Ten einde te kan verduidelik wat op 16 Desember 1838 by Bloedrivier gebeur het, is dit noodsaaklik om kortliks te wys op die gebeure wat die geveg onmiddelik voorafgegaan het. Van 1835 af het enkele honderde ontevrede Boere uit die Ooskaap getrek met die oog daarop om ‘n nuwe lewe in die binneland vry van Britse beheer te begin. Hulle het in trekgeselskappe die Garieprivier oorgesteek en hulle later byna almal in die noorde van wat hulle die Transorania – vandag die Vrystaat – genoem het, bevind. Een van die trekgeselskappe daar, naamlik dié van Andries Hendrik Potgieter, is in Oktober 1836 deur ‘n krygsmag van die Ndebele van Mzilikazi aangeval.1 Mzilikazi was ‘n eertydse induna van Tsjaka, die legendariese stigter van die Zoeloe-ryk en halfbroer van koning Dingane, deur wie hy vermoor is. Dingane en Mzilikazi was aartsvyande en hulle krygsmagte het enkele kere gebots, sonder dat een van die kante werklik die oorhand kon kry.

Die Voortrekkers wat in 1836 by Vegkop deur die Ndebele aangeval is, het daarin geslaag om hulleself te handhaaf en inderdaad honderde van die aanvallers dood te skiet. Hulle sukses was grotendeels te danke aan die skuiling wat hulle walaer aan hulle gebied het. Mzilikazi se krygsmag het egter al hulle vee en trek-osse buitgemaak en na sy

vesting

by

Mosega

in

die

huidige

Noordwes

weggevoer.2

Al

die

Voortrekkergeselskappe in die Transorania het vervolgens saamgestaan en in respektiewelik Februarie en November 1837 twee sogenaamde strafekspedisies teen die Ndebele onderneem. Tydens albei veldtogte het die Voortrekkers hoogs mobiele perdekommando’s gebruik. Albei ekspedisies was suksesvol. Die uitkoms was dat Mzilikazi noordwaarts gevlug en hom in die omgewing van Bulawayo in die huidige Zimbabwe gevestig het.3 Sy mag suid van die Limpoporivier was vir altyd vernietig.

1

Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers, Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis 49, deel II, Staatsdrukker, Pretoria, 1986, pp 45-107. 2 Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers, p 86. 3 Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers, pp 130-177, 190-223.

2

Dit is insiggewend om te let op die interpretasie wat ‘n Zoeloehistorikus, J.S.M. Maphalala van die Universiteit van Zoeloeland, aan hierdie gebeure heg. Hy skryf dat die Voortrekkers op 16 Oktober 1836 die Ndebele van Mzilikazi aangeval het en duisende beeste sowel as hulle land afgevat het nadat die Ndebele heldhaftig weerstand gebied het. Mzilikazi en sy volgelinge is in Januarie 1837 in Zimbabwe ingedryf nadat die Voortrekkers hulle belangrikste vesting, Moseka, afgebrand het.4

Die vernietiging van die mag van die Ndebele in die Suid-Afrikaanse binneland is vir die doeleindes van hierdie referaat om twee redes van belang. Eerstens het ‘n gesiene boer van die distrik Graaff-Reinet, Andries Pretorius, ‘n gedeelte van die tweede strafekspedisie meegemaak. Twee jaar tevore het Pretorius in die Sesde Grensoorlog (1834-35) ‘n kommando van 800 Graaff-Reinetse burgers teen die Xhosa aangevoer.5 Dit was dieselfde Pretorius wat bestem was om die Voortrekkers se aanvoerder in die Slag van Bloedrivier te word. Mens kan aanvaar dat hy waardevolle ervaring van veldtogte teen swart krygers tydens die ekspedisie teen die Ndebele opgedoen het, al was hy nie by die gevegte teenwoordig nie.

Tweedens het die Voortrekkers se verdrywing van die Ndebele uit die Oorvaalse gebied ‘n besliste invloed op die latere verhoudinge tussen die Zoeloe en die Voortrekkers gehad. Mzilikazi was Dingane se aartsvyand en hy kon nooit die oorhand oor hom kry nie – selfs nie in die winter van 1837 toe hy ‘n groot Zoeloemag teen die Ndebele uitgestuur het nie.6 Maar vroeg in 1838 het boodskappers uit die Hoëveld wes van die Drakensberge aan die Zoeloekoning berig dat die Voortrekkers met betreklike gemak en sonder noemenswaardige lewensverlies verpletterende nederlae aan die Ndebele toegedien het. Dit was ongetwyfeld vir Dingane ontstellende nuus, want kort tevore was die Voortrekkerleier Piet Retief in sy hoofvesting Umgungundhlovu om hom mee te deel

4

Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, in Department of Arts, Culture, Science and Technology, The Re-interpretation of the Battle of Blood River/Ncome. One day seminar held on 31 October 1998, University of Natal, Kwa-Dlangezwa, p55. 5 Liebenberg, B.J., “Pretorius, Andries Wilhelmus Jacobus”, in W.J. de Kock en D.W. Krüger (reds), SuidAfrikaanse Biografiese Woordeboek Deel II (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria, 1972), p 573. 6 Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers, pp 178-184.

3

dat hy en sy mede-Trekkers hulle graag suid van die Tugelarivier wou vestig.

Die

Zoeloekoning het sekerlik aangevoel dat sy domein bedreig word.7

Die grondgebied waarin Retief belanggestel het was ‘n entjie suid van, maar aangrensend aan die hartland van Dingane se Zoeloeryk geleë. Hierdie was ‘n omstrede gebied. Die sendeling Francis Owen, wat ‘n sendingstasie reg langs Umgungundhlovu beman het, het destyds in sy dagboek geskryf dat die Britse handelaar Gardiner hom meegedeel het dat Dingane vroeër reeds hierdie gebied aan die Britse monarg afgestaan en ‘n dokument in dier voege onderteken het. Nou was Dingane bereid om dieselfde gebied aan die Voortrekkers af te staan. Maar hy het volgens Owen, wat by die gesprek tussen Retief en Dingane teenwoordig was, ‘n voorwaarde gestel: Retief moes beeste van Dingane wat geroof is deur mense wat beweer het hulle is Boere, aan Dingane terugbesorg. Dan sou hy die grondgebied afstaan.8 Mens moet aanvaar dat Dingane hierdie diplomatieke weg in sy verhoudinge met die Voortrekkers gevolg het ten einde homself tyd te gee om op ‘n beleid te besluit.

Retief het nie op hom laat wag nie. Vergesel van enkele Zoeloe-indunas wat die beeste moes identifiseer, het hy die Drakensberge oorgesteek en die Tlokwa-hoofman, Sikonyela, besoek. Retief het daarin geslaag om Sikonyela te boei en te oorreed om die omstrede beeste uit te lewer.9 Die Zoeloe-indunas is met die beeste na Dingane terug. ‘n Mens kan aanvaar dat hulle gaan vertel wat gebeur het, en aangesien hulle geen kennis van boeie gehad het nie, Retief se onverklaarbare mag oor Sikonyela aan towerkrag toegedig het. So ‘n persepsie kon besmoontlik die verdere verloop van gebeure beïnvloed het.

Die Zoeloehistorikus Maphalala ontken dat Sikonyela van die Tlokwa (of Sigonyela soos hy hom noem) enigiets met die betwiste beeste te doene gehad het. Na sy mening het 7

Laband, J., “The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome”, in Department of Arts, Culture, Science and Technology, The Re-interpretation of the Battle of Blood River/Ncome. One day seminar held on 31 October 1998, University of Natal, Kwa-Dlangezwa, p 24. 8 Owen, F., The Diary of the Rev. Francis Owen, M.A. Missionary with Dingaan in 1837-38. Together with extracts from the writings of the interpreters in Zulu, Messrs Hulley and Kirkman. (Edited by Sir Geo E. Cory. Cape Town, The Van Riebeeck Society, 1926), pp 62-63.

4

Retief vir Sikonyela die sondebok gemaak ten einde die wantroue in homself te besweer. Boonop, voeg Maphalala by, het Retief-hulle nie al die beeste wat hulle by Sikonyela afgevat het aan Dingane oorhandig nie, maar ‘n klomp daarvan vir hulleself gevat.10

Retief was vroeg in 1838 gereed om weer met Dingane oor grondgebied te gaan onderhandel. Teen daardie tyd het verskeie Voortrekkergesinne, insluitende Retief se eie, uit die Transorania met hulle waens teen die Drakensberge afgetrek en aan die bolope van die Tugelarivier kamp opgeslaan met die vooruitsig dat hulle grond sou verkry en die Groot Trek spoedig verby sou wees. Hierdie intog het vir sommige van Dingane se raadgewers na ‘n inval in hulle gebied in en na ‘n bedreiging vir hulle soewereiniteit gelyk. Dringende maatreëls was noodsaaklik. Voordat hulle egter tot optrede kon oorgaan, het Retief – wat kwansuis oor towerkrag beskik het – en sy geselskap vroeg in Februarie 1838 in Umgungundhlovu aangekom.

Die Zoeloe-historikus Maphalala meld twee redes waarom koning Dingane teen hierdie tyd vyandiggesind teenoor die Voortrekkers was. Volgens Maphalala was Dingane se krygsmag in 1837, nadat hulle veldtog teen die Ndebele van Mzilikazi onderneem het, met beeste wat hulle buitgemaak het op pad terug na Zoeloeland toe die Voortrekkers die beeste van die amabutho (krygers) probeer afneem het. Die amabutho het hulle beeste verdedig, maar die insident het tot groot ongelukkigheid gelei. Die Voortrekkers se vestiging aan die bolope van die Tugelarivier naby Nobamba (wat deur die Trekkers Weenen genoem is) was ewe irriterend. Die grond in daardie omgewing was vir die Zoeloe van groot belang omdat koning Shaka vroeër ‘n koninklike vesting, Mnkangla, daar opgerig het. Boonop het die Voortrekkers glo sonder koning Dingane se toestemming op Zoeloe-mielielande beslag gelê.11

Retief het na sy aankoms by Umgungundhlovu in Februarie 1838 weer oor grond navraag gedoen. Dingane het inskiklik voorgekom – waarskynlik om tyd te wen totdat sy 9

Owen, F., The Diary of the Rev. Francis Owen, p 105. Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p58. 11 Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p57. 10

5

krygsmag gereed was. Of die Zoeloe-koning ooit van plan was om wel grond aan die Voortrekkers af te staan, is te betwyfel. Volgens Maphalala het Dingane ingevolge Zoeloereg bowendien nie oor die gesag beskik om stamgrond te vervreem nie, omdat stamgrond onvervreembaar en ‘n erflating van Mvelinqangi (God) was. Die koning was bloot beskermheer van die grond. Die meeste wat hy kon doen was om aan spesifieke mense iziza of woonreg te gee waar hulle vir hulleself hutte kon oprig en gewasse kon plant.12 Retief het ongetwyfeld die permanente toekenning van ‘n groot grondgebied aan die Voortrekkers in gedagte gehad. In hierdie trant het hy die voorbeeld van die Britse goewerneurs aan die Kaap gevolg en daarop aangedring dat Dingane ‘n geskrewe traktaat van grondafstand onderteken. Dit het skynbaar op 4 Februarie gebeur.

Daar is vandag talle kommentators wat beweer dat die Retief-Dingane-traktaat ‘n vervalsing en dus ‘n mite is. Dit is onder meer die mening van die Zoeloehistorikus J.S.M. Maphalala.13 Daar bestaan egter onweerlegbare bewyse dat daar wel so ‘n traktaat was. Die sendeling Owen, wat ‘n ooggetuie van die gebeure was, het destyds daaroor in sy dagboek geskryf.14 Hy het geen rede gehad om dit te versin nie. Die traktaat wat vandag bestaan is ‘n afskrif – die oorspronklike bestaan nie meer nie. Die oorwig van getuienis dui egter daarop dat daar ‘n traktaat was en dat Dingane dit onderteken het deur ‘n kruis te trek. Die traktaat het nie veel van ‘n invloed op die Bloedriviergebeure gehad nie. En Dingane het waarskynlik bloot geteken om Retief en sy geselskap gerus te stel. Sy besluit om hulle te laat doodmaak, was reeds geneem, en hy het selfs vooraf vir Owen daaroor ingelig.15 Dit was Dingane se raadgewers wat hom oortuig het dat as hulle die lot van Mzilikazi se Ndebele wou vryspring, hulle vir Retief en sy geselskap sou moes uitwis.16 Volgens Zoeloe-oorlewering was dit veral sy opperbevelvoerder, Ndlela kaSompisi, wat vir Dingane oorreed het dat dit sy heilige plig was om nie net vir Retief en sy geselskap van ongeveer 70 manne nie, maar inderdaad al die Voortrekkers benede die Drakensberge, te verdelg.

12

Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p57. Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 62. 14 Owen, F., The Diary of the Rev. Francis Owen, p 108. 15 Owen, F., The Diary of the Rev. Francis Owen, p 108. 13

6

Volgens Maphalala het Retief en sy geselskap in die nag tussen 5 en 6 Februarie probeer om Umgungundhlovu te omsingel met die doel om dit aan te val. Hy voeg by dat hulle salig onbewus was dat die koninklike wagte, die oGqayinyanga, elke nag die vesting bewaak het. Toe hulle Retief-hulle se doen-en-late rapporteer het, was daar groot opwinding. Die koning-in-rade, bestaande uit Dingane self, Ndlela, Dambuza, Maphita en enkele ander hooggeplaastes, het vergader om die rapport te bespreek. Die algemene gevoel was dat die Voortrekkers vyande was en die eenparige besluit was dat Retief en sy geselskap doodgemaak moes word.17

Die Retief-moord het op 6 Februarie plaasgevind en die Zoeloe-aanvalle op die Trekkerlaers by die Bloukrans- en Boesmansrivier en elders het in die nag elf dae later gevolg. Die Voortrekkers het by laasgenoemde geleentheid swaar verliese gelei. Altesaam 40 mans, 56 vroue en 185 wit kinders benewens 250 anderskleurige bediendes is in die gevegte wat op die Zoeloe-aanvalle gevolg het, dood, terwyl dosyne gewond is. Hulle het egter daarin geslaag om die Zoeloeregimente af te slaan.18 Dit was nou duidelik dat ‘n stryd om baasskap in Natal op hande was – vir albei kante ‘n desperate oorlewingstryd. Die Voortrekkers het besef hulle moes wen ten einde vir hulleself ‘n onafhanklike woonplek te bekom, vry van vreemde oorheersing. Die Zoeloe het besef hulle moes wen as hulle die lot van Mzilikazi, wat moes vlug, of van die Kaapse Khoi, wat vroeër deur die Boere onderwerp is, wou vermy.

Die Zoeloehstorikus Maphalala verduidelik in verband met die Zoeloe-aanval op die Voortrekkerlaers by die Bloukrans- en Boesmansrivier en elders in die nag van 16-17 Februarie dat enkele vroue en kinders ook gedood is. Hy voeg by dat dit teen die tradisie in Zoeloe-oorlogvoering was om bejaardes, vroue en kinders dood te maak. Sommige Voortrekkervroue en kinders is egter in die kruisvuur gedood – volgens

16

Laband, J., “The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome”, p 26. Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, pp 58-59. 18 Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers, pp 247-249; Laband, J., “The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome”, p 26. 17

7

Maphalala as gevolg van die optrede van Piet Retief wat geen ubuntu (Afrika humanisme) getoon het nie.19

Die stryd tussen die Voortrekkers en die Zoeloes in Natal het deur ‘n aantal fases gegaan. In April 1838 het die Trekkerleiers Potgieter en Uys ‘n strafekspedisie van 347 man te perd, maar sonder waens, in Zoeloeland in gelei. Hulle veldtog was ‘n mislukking, want by eThaleni (Italeni) het ‘n Zoeloemag van etlike duisende krygers onder leiding van Nzobo kaSobadli aan hulle swaar verliese, wat onder andere Uys en sy seun Dirkie ingesluit het, toegedien en die inval afgeslaan. Vir die Voortrekkers was die les hieruit te lere dat dit ‘n gevaarlike onderneming was om Zoeloeland sonder ‘n walaer binne te val.20 In Augustus 1838 het die Zoeloes weer van hulle kant tot die offensief oorgegaan en die Voortrekkers vir twee volle dae by Veglaer langs die Boesmansrivier aangeval. Die Voortrekkers was verskans in ‘n versterkte laer bestaande uit sowat 290 waens en het die aanval afgeslaan, al was daar net 75 mans in die laer. Dit was nou duideliker as ooit dat die sleutel tot sukses teen die Zoeloemag in die gebruik van ‘n walaer geleë was.21

Die Voortrekkers was, ten spyte van hulle sukses by Veglaer, teen September 1838 in ‘n desperate posisie. In die loop van afgelope reeks konfrontasies het die Zoeloe telkens groot getalle van die Voortrekkers se lewende hawe weggevoer. Boonop was die Trekkers bykans leierloos, want Retief en Uys was slagoffers van die stryd, Maritz is weens siekte oorlede en Potgieter en sy mense is terug na die Hoëveld omdat hulle in ‘n toekoms in Natal gewanhoop het.22 Onder hierdie omstandighede kan mens met reg wonder waarom Dingane nie meer gedetermineerd was in sy pogings om die Trekkers finaal te verdryf nie. Laasgenoemde het enige dag ‘n aanval verwag. Wat hulle nie besef het nie was dat die Zoeloe self desperaat was omrede hulle, ten spyte van vasberade

19

Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 59. Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers, pp 250-261; Laband, J., “The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome”, p 27. 21 Malan, J.H., Boer en Barbaar, of die Geskiedenis van die Voortrekkers tussen die jare 1835-1840 en verder van die Kaffernasies met wie hulle in aanraking gekom het. (De Nationale Pers, Beperkt, Bloemfontein, 1918), pp 334335; Laband, J., “The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome”, p 27. 22 Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers, pp 265-269. 20

8

aanvalle, nie die ‘invallers’ kon uitwis nie. Dit verklaar waarskynlik waarom hulle na die aanslag op Veglaer die inisiatief prysgegee het.23

Die Voortrekkers was intussen daar bewus van dat Andries Pretorius van plan was om hom met ‘n trekgeselsskap uit Graaff-Reinet na Natal te begewe en het ongeduldig begin word toe hy nie opdaag nie. Gevolglik het hulle op 10 Augustus ‘n deputasie na Graaff-Reinet gestuur om hom te gaan aanmoedig om vinnig te maak. Die deputasie was ‘n raps meer as ‘n maand later terug by die Natalse Voortrekkers met die blye nuus dat Pretorius met ‘n groot groep Voortrekkers na Natal aan’t trekke was. Pretorius was nou duidelik onder die indruk van die dringendheid van die saak, want hy het in November sy trek by die Modderrivier in die Transorania agtergelaat en vergesel van sowat 60 weerbare mans na Natal gehaas.24 Op 22 November het hy sy opwagting by die Trekkerlaers aan die bolope van die Tugelarivier gemaak. Dit was volgens alle aanduidings vir die Trekkers ‘n heuglike oomblik. G.B.A. Gerdener het in 1919 daaroor geskryf: “Met die koms van Pretorius het die hele Voortrek ‘n beter dag tegemoet gegaan. Toe die nag op sij donkerste was, was die daeraad nabij.”25

Kort na sy aankoms by die Trekkerlaers in Natal is Pretorius onbestrede verkies as hoofkommandant van ‘n strafkommando wat Zoeloeland moes binneval en moes gaan probeer om die lewende hawe van die Voortrekkers wat deur die Zoeloes weggevoer is, terug te kry.26 Die Zoeloe het intussen die Britse handelspos by Port Natal aangeval en verwoes, met die gevolg dat enkele Britse handelaars wat die aanval oorleef het, hulle by die Voortrekkers aangesluit het. Dit was teen die einde van November.

Die intog en geestelike voorbereiding

Aan Voortrekkerkant was hoofkommandant Pretorius onder geen illusie nie dat hy met ‘n uiters gevaarlike onderneming besig was nie. Reeds voor sy aankoms aan die 23

Laband, J., “The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome”, p 27. Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal (Academica, Pretoria & Kaapstad, 1977), p 14. 25 Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag. Lewenskets van die Grote Voortrekker. (Samuel Griffiths, Kaapstad, 1919) p 47. 24

9

Tugelarivier het die Natalse Voortrekkers besluit om nie soos Potgieter en Uys in 1837 teen die Ndebele gedoen het (met sukses) en weer in April 1838 teen die Zoeloe (met rampspoed), met ‘n mobiele perdekommando alleen aan te val nie, maar om met ‘n walaer in Zoeloeland in te beweeg. Pretorius se kommando het 64 waens, gelaai met voorrade en ammunisie, saamgeneem. Indien die Zoeloes sou aanval, kon die waens soos by Vegkop in ‘n ring getrek word en as verdedigingsskans of laer dien. Vanselfsprekend was die Voortrekkers se perde ook saam, want ruiters moes verkenning doen en die perde kon gebruik word om die vyand in opvolgoperasies aan te vat. Pretorius het dan ook, soos wat die kommando dieper in Zoeloeland inbeweeg het, elke aand laer laat trek en deurlopend verkenners uitgestuur. J.H. Malan het in 1918 geskryf dat dit bittere ondervindinge in die verlede was wat die Voortrekkers by hierdie geleentheid oortuig het om deegliker as tevore te werk te gaan. Hulle het met hierdie veldtog nie ‘n enkele strop, spaartrektou of voorslag vergeet nie en regulasies is opgestel ten einde goeie dissipline te verseker. Na die aanvang van die intog in Zoeloeland in het die Voortrekkers deurentyd patrollies uitgestuur en brandwagte uitgeplaas ten einde te verseker dat hulle nie onverhoeds gevang word nie.27 F.A. van Jaarsveld het die veldtog ‘n waagstuk genoem, want die “handjievol manne wat die offensief teen Zoeloeland geneem het” het geweet dat hulle teen ‘n “geweldige oormag” te staan sou kom.28

Sekerlik een van die bekendste en betekenisvolste aspekte van die Voortrekkers se intog in Zoeloeland in, was die aflegging van die Gelofte op 9 Desember en die herbevestiging daarvan elke aand tot en met die Slag van Bloedrivier. Die oorsprong en inhoud van die Gelofte is nie hier ter sprake nie. Wat wel belangrik is, is dat die Gelofte waarskynlik ‘n deurslaggewende invloed op die verloop van die veldtog gehad het, omdat dit die Voortrekkers met geloofskrag en selfvertroue gevul het wat essensieël was in hulle eie geestelike weerbaarheid.

26

Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal, p 21. Malan, J.H., Boer en Barbaar, pp 339-340. 28 Van Jaarsveld, F.A., Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle. Tafelberg, Kaapstad, 1979, p 46. 27

10

Zoeloe-reaksie op die inval

Die Voortrekkerkommando se intog in Zoeloeland in aan die einde van November 1838 is onmiddelik deur Zoeloespioene aan koning Dingane gerapporteer en hy het opdrag gegee dat die invallers gestuit moes word. Dit is eintlik vanselfsprekend dat die Zoeloemagte ook op die vooraand van die Slag van Bloedrivier hulleself geestelik voorberei het. In seremonies wat sowat drie dat lank geduur het, het die izinyanga zempi (spesiale oorlogsdokters) izintelezi (oorlogsmedisyne) voorberei wat die krygers “onoorwinbaar” sou maak.29

Die belangrikste aspek van die rituele voorbereiding vir die stryd was die krygers se optog na die grafte van die konings. Tydens die opmars het die krygers prysliedere aangehef, die konings meegedeel dat hulle land in gevaar verkeer het en gesmeek om die amabutho by te staan wanneer hulle die land moes verdedig. Koning Dingane het opdrag gegee dat die dreunsang van sy vader, Senzangakhona, aangehef moes word. Volgens Zoeloe-tradisie is die hele krygsmag deur daardie dreunsang tot dapperheid aangevuur. Terwyl die Zoeloe-regimente hulleself so gemotiveer het, het die getroude vroue besems heen en weer gewaai en dit saans op hulle mans wat gaan veg het, se slaapmatte geplaas in die geloof dat dit sal help om hulle veilige terugkeer te waarborg. Die vroue het hulle velrokke nou binneste buite aangetrek, met ander woorde met die pelskant na buite, totdat die veldtog verby was.30

Die Zoeloe-aanvoerders aan wie Dingane die verdediging van sy koningryk opgedra het, was volgens Maphalala sy opperbevelvoerder Umdunankulu Ndlela Ntuli, bygestaan deur Dambuza en Nzobo kaSobadli Ntombela. Maphalala voeg by dat dit koning Dingane se belangrikste regimente was wat teen die Voortrekkers uitgestuur is.31 Volgens J.H. Malan het die Zoeloemag by Bloedrivier uit tussen 10 000 en 12 000 krygers bestaan. Hulle was met kort steekassegaaie, kieries en langwerpige

29

Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 60. Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 60. 31 Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 61. 30

11

beesvelskilde bewapen.32 Die die Engelstalige Natalse historikus John Laband bereken dat daar tussen 12 000 en 16 000 krygers was.33 Toe hulle te voet uitbeweeg het om die Voortrekkers te gaan konfronteer is hulle kosvoorrade deur die izindibi of matdraers, wat nog te jonk was om te veg, aangedra. Die matdraers het gewoonlik die hoofmag op ‘n afstand van sowat ‘n kilometer gevolg.34

Die aanloop tot die geveg van 16 Desember

Pretorius se kommando was teen 15 Desember al by ‘n sytak van die Buffelsrivier toe die Zoeloe-impi hulle die eerste keer gesien het. Pretorius se verkenners het vroeg die middag rapporteer dat hulle ‘n Zoeloemag opgemerk het. Die kommandant het self die rivier, wat deur die Zoeloe die Ncome en later deur die Voortrekkers Bloedrivier genoem is, oorgesteek om die situasie in oënskou te neem. Sy opsomming was dat dit ‘n waagstuk sou wees om die Zoeloe-impi in daardie gebroke terrein met ‘n perdekommando aan te val en hy het beveel dat ‘n deeglike laer getrek moes word.35

Die 64 waens is op die wesoewer van die Ncome, langs ‘n diep seekoeigat, met aan die suidekant ‘n donga wat tot in die rivier gestrek en so ‘n natuurlike skans teen ‘n aanval gevorm het, in posisie getrek. Niemand weet met sekerheid presies hoe die laer gelyk het nie. Al wat ons weet is dat die seekoeigat die laer aan die oostekant en die droeë donga met sy steil wande van ongeveer vier meter die laer aan die suidekant beskerm het. Die laer sou net onbelemmerd uit die noorde en uit die weste aangeval kon word. Gevolglik het die Voortrekkers hulle verdediging daar toegespits. Volgens J.H. Malan sou Pretorius uit die oogpunt van die Voortrekkers nêrens ‘n beter terrein vir die geveg kon vind nie.36 Dit is ook die mening van die gesaghebbende historikus B.J. Liebenberg.37

32

Malan, J.H., Boer en Barbaar, pp 346-347. Laband, J., Rope of Sand. The rise and fall of the Zulu Kingdom in the Nineteenth Century (Jonathan Ball Publishers, Johannesburg, 1995), p 98. 34 Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 61. 35 Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal, p 36. 36 Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 345. 33

12

Die waens is een-een agter en teenaan mekaar getrek, met in elke geval die agterste wa se disselboom onder die een voor hom se agterstel. Boonop is die waens stewig met rieme aan mekaar vasgebind, sodat ‘n onverskrokke vyand nie ‘n bres sou kon slaan deur ‘n wa weg te sleep nie. Daarbenewens het Pretorius deur die loop van die inval toegesien dat die Trekkers veghekke van houtpale maak. Hierdie veghekke is tussen en onder die waens in posisie geplaas ten einde te keer dat niemand onder die waens deur kon kruip nie. Volgens Malan het die Voortrekkers doringtakke aan die veghekke vasgewoel om hulle nog meer ondeurdringbaar te maak.38 Voorts het die Trekkers beesvelle oor die wawiele en oor die tentseile getrek om dit te beskerm. Aangesien die Voortrekkers verwag het dat die Zoeloe moontlik in die nag sou aanval, het hulle lanterns aan sweepstokke vasgemaak en oral in die openinge tussen die waens gehang sodat hulle nie net die aanvallers sou kon sien nie, maar ook sou kon sien om hulle gewere te laai. Volgens Malan het die lanterns vetkerse in gehad.39

Oor hierdie lanterns is daar aan Afrikanerkant heelwat geskryf. Gerdener het in 1919 aangevoer dat die Zoeloes nie in die nag tussen 15 en 16 Desember aangeval het nie, omdat hulle afgeskrik is deur die swaaiende lanterns, “wat deur hulle dowwe vetkersligte seker ‘n uiters fantastiese indruk moet gemaak het, en in die oog van die bijgelowige heidene vir die gevreesde towermiddele van die witman aangesien is.”40 Die verregse Afrikaanse akteur Schalk Jacobsz het bykans 80 jaar later ‘n soortgelyke mening uitgespreek.41 Hierdie menings is nie vergesog nie – Laband het op grond van Zoeloe-oorlewering in 1995 basies dieselfde stelling gemaak.42

Oor die aantal persone in die laer daardie aand is daar weinig twyfel. Benewens Pretorius en sy adjunk, Karel Landman, was daar ses kommandante en 464 Voortrekkers. Die drie Britse handelaars was vergesel deur 60 swartes van Port Natal,43 waarvan sommige opgeleide olifantjagters was en heel moontlik bewapen was en die 37

Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal, p 34. Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 346. 39 Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 346. 40 Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag, pp 52-53. 41 Jacobsz, S.W., Die Verbond van Bloedrivier, p 40. 42 Laband, J., Rope of Sand, p 99. 38

13

laer help verdedig het. Laastens was daar ongeveer 130 ‘gekleurde’ wadrywers en touleiers. Benewens die 660 of wat mense was die sowat 700 trekosse en 750 perde van die kommando ook nog binne-in die laer, want Pretorius sou daardie diere nie kon verdedig indien hulle buite gelaat is nie. Binne die laer self was die gevaar dat veral die osse deur die lawaai van die geveg ontsenu kon word en met ‘n stormloop kon begin. Die wadrywers het gevolglik penne in die grond geslaan en die trekosse met rieme om hulle horings in spanne aan die penne vasgemaak. Tydens die geveg moes die drywers deurentyd kalm met die osse praat om hulle rustig te probeer hou. Die perde is insgelyks in groepies aan mekaar vasgemaak en rustig gehou.

Die Voortrekkers se verdedigingsplan was dat daar by elke opening tussen twee waens sowat agt verdedigers sou wees wat dan in rotasie sou skiet en laai, sodat daar onophoudelik geskiet kon word. Die verdedigers se wapens was hulle voorlaaiers, waarvan daar verskeie tipes was. Om hulle te laai was ‘n tydrowende proses en hoogstens twee tot drie skote per minuut was moontlik. Indien dit reënerig was, kon die kruit maklik nat of klam word, wat sou meebring dat die geweer nie sou vuur nie. Dit het die Zoeloe skynbaar nie geweet nie, want anders sou hulle seker gewag het totdat dit reën voordat hulle aangeval het.

‘n Voorlaaier se reikafstand was hoogstens sowat 135 meter. Gewoonlik kon hulle nie verder as omtrent op 80 meter akkuraat skiet nie. Om maksimum vuurkrag teen aanvallers te verseker, het die Voortrekkers gebruik gemaak van lopers eerder as een soliede koeël wat meegebring het dat hulle voorlaaiers soos haelgewere aangewend is. Een voltreffer met lopers op ‘n vyand wat dig saamgedrom was, kon volgens die Voortrekkers tot vyf aanvallers gelyktydig uitwis.

Benewens voorlaaiers het Pretorius vir die verdediging oor klein kanonnetjies beskik. Sarel Cilliers het later aangeteken dat daar drie klein kanonnetjies was, een van geelkoper wat aan Pretorius self behoort het en twee kleineres, sogenaamde

43

Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal, p 37.

14

drieponders.44 Al drie hierdie kanonnetjies het soos voorlaaiers funksioneer en is in ‘n laergeveg met lopers of soms selfs met klippe gelaai. Die kanonnetjies was op die onderstelle van perdekarre of bokwaens gemonteer en kon op ‘n afstand van tot 300 meter verwoesting onder ‘n dik saamgepakte vyand saai. Een van die kanonnetjies het inderdaad die vermoë gehad om ‘n soliede koeël enkele kilometer ver te skiet.45 J.H. Malan het in 1918 geskryf dat die Voortrekkers oor twee kanonne beskik het,46 ‘n bewering wat 60 jaar later deur B.J. Liebenberg ondersteun is.47

Nadat die Voortrekkers laatmiddag op 15 Desember hulle voorbereidings afgehandel het, het hulle na donker aandgodsdiens gehou en die Gelofte herhaal. Hulle lanterns was aangesteek en hulle wagte uitgeplaas, terwyl die res in antisipasie van ‘n naderende geveg gepoog het om bietjie slaap in te kry. Dit was ‘n mistige, donkermaan nag.

Aan Zoeloekant het krygers in die loop van die nag in doodse stilte die laer uit die suidooste genader. Dit was ‘n ou gebruik dat hulle nie in die nag aangeval het nie, aangesien hulle dan moontlik per ongeluk mekaar kon uitwis.48 Gevolglik het hulle tot dagbreek gewag, met die vaste voorneme om dan aan te val. Die Zoeloegebruik was om hulle ouderdomsgroepregimente (amabutho) soos die kop en horings van ‘n bul op te stel. Die regimente wat die twee horings gevorm het, was gewoonlik die jonger amabutho wat die vyand moes omvleuel om te verhoed dat hulle ontvlug. Die ouer, meer ervare amabutho was in die middel en moes die vyand se hoofmag aanval. Elke regiment het sy eie induna (hoofman) gehad wat in die geveg die leiding gegee het. By Bloedrivier het die linkerhoring, wat uit sowat 3 000 krygers bestaan het en onder andere die uDlambedlu-amabutho ingesluit het, voor dagbreek die Ncomerivier suid van die laer oorgesteek en tot aan die westekant daarvan beweeg. Kort voor dagbreek het hulle hulle aanvalsposisie ingeneem. Hulle het ‘n falanks van sowat 200 meter diep gevorm en die naastes het omtrent maar 160 meter van die laer af in gehurkte posisie 44

Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag, p 49. Laband, J., Rope of Sand, p 99. 46 Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 346. 47 Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal, p 37. 45

15

die aanvang van die geveg afgewag. Volgens oorlewering was hulle hoogs gemotiveerd, honger vir glorie en uiters goed gedissiplineerd onder bevel van hulle aanvoerders.49

Die Zoeloe aanval

Die Slag van Bloedrivier het omstreeks 06:30 op 16 Desember begin toe die mis skielik gelig en ‘n wolklose, windlose hemel gelaat het. Vir sommige Afrikaanse historici was die feit dat die mis gelig het ‘n wonderwerk. H.B. Thom het dit toegeskryf aan die “Voorsienigheid.”50 Die amabutho van die linkerhoring het op daardie stadium, voordat die res van die Zoeloemag in posisie was, aangeval. Die Voortrekkers was gereed vir hulle en het teruggeskiet. Sommige aanvallers het tot tien meter van die laer af gevorder, maar hulle kon nie, ten spyte van onverskrokke vasberadenheid, ‘n bres in die verdediging slaan nie. ‘n Swart wolk van kruitrook het spoedig oor die noordweste van die laer gehang soos die verdedigers met voorlaaier en kanon geskiet het. Na verskeie opeenvolgende aanvalle het die linkerhoring teruggeval. Honderde krygers was dood en tientalle het gedemoraliseerd onder hulle skilde probeer skuil of in die donga ingespring om dekking te vind.51

In

‘n

onlangse

taamlik

geromantiseerde

en

eensydige

beskrywing

van

die

Bloedriviergebeure het die skrywer V.E. d'Assonville vertel dat die Zoeloes verder gedemoraliseer is deur die Voortrekker se kanonvuur: En die ander kanon? Dit word heeltemal uit die laer uitgetrek en op die sentrum van uMhlela (Ndlela) se leermag oorkant die Ncombe (Ncomerivier) gestel. En toe begin die bomme feitlik gelyktydig op die swartskilde en witskilde val. Die effek was oorweldigend: In Tambuza (Dambuza) se agterhoede is daar konsternasie en onder uMhlela se manne is dit asof 'n stok in 'n byenes gesteek word. Hier is meteens 'n grenslose woede

48

Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 61. Laband, J., Rope of Sand, p 99. 50 Thom, H.B., Die Geloftekerk en ander studies oor die Groot Trek. (Nasionale Pers, Kaapstad, 1949), p . 51 Laband, J., Rope of Sand, p 100. 49

16

ontketen, veral toe twee van die Zoeloeprinse, halfbroers van Dingane dadelik gesterf het.52

Pretorius het naderhand bemerk dat sy opponente nou kwesbaar was en ‘n teenaanval beveel. ‘n Perdekommando het die laer verlaat en die amabutho aangeval, wat spoedig skaamteloos gevlug het – sommige terug oor die Ncomerivier en ander na die rante in die suidweste, wat later deur die Boere Vegkop genoem is. Die agtervolging is egter teen 08:00 gestaak toe Pretorius bemerk het dat die Zoeloe-hoofmag, wat op daardie stadium nog steeds oos van die rivier was, gereed gemaak het om aan te val. Na skatting het daar toe reeds sowat 500 Zoeloe-krygers gesneuwel.53

Vir die Zoeloe-aanvoerders was die posisie van die Voortrekkerlaer ‘n groot kopseer. Die feit dat die linkerhoring se aanval afgeslaan is, het sake nie vergemaklik nie. Die regterhoring, bestaande uit die umKulutshane- en iziGulutshane-amabutho het nou ‘n omvleuelingsbeweging noordoos om die laer probeer uitvoer. Pretorius wou dit verhoed en het ‘n berede kommando gestuur om noord van die laer, van die wesoewer van die Ncomerivier af op die amabutho aan die oorkant te skiet. Dit het laasgenoemde ontwrig en aangesien daar nie ‘n geskikte drif was nie, het hulle toe weer suidwaarts beweeg en die rivier op dieselfde plek oorgesteek as waar die linkerhoring voor dagbreek deur is. Die amabutho van die hoofmag het kort daarna op dieselfde plek die rivier begin oorsteek. Van die tradisionele kop-en-horings aanvalstrategie was daar nou geen sprake meer nie. Inderdaad was die Zoeloe-aanval gereduseer tot ‘n ongekoördineerde warboel voordat hulle nog enige werklike bedreiging vir die laer was. Die regterhoring het, soos die linkerhoring voor hulle, die laer uit die noordweste aangeval. Die hoofmag, bestaande uit die beroemde uDlangezwa- en iziNyosi-amabutho, het hulle ondersteun. Daar bestaan geen twyfel nie dat die krygers onverskrokke, met matelose dapperheid op die laer afgestorm het. J.H. Malan het in 1918 gewag gemaak van die Zoeloes se “trotse, fanatieke doodsveragting” by Bloedrivier.54 Die verdedigers, nou weer almal terug in die laer, het egter die een aanval na die ander met voorlaaier- en kanonvuur 52

D'Assonville, V.E., Bloedrivier (Welteverdenpark, 2000), p 53. Laband, J., Rope of Sand, p 100. 54 Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 347. 53

17

afgeslaan. Die aanvallers was in toenemende chaos saamgebondel en het in die proses ideale teikens vir die Voortrekkers gevorm. Teen 11:00 die oggend het die amabutho se dissipline meegegee en het die aanvallers, wat nou geheel-en-al gedemoraliseerd was, in wanorde begin terugval.55

Pretorius het op daardie stadium besef dat hy deur kragdadige maar wyse optrede die oorwinning kon behaal. Hyself het nou aan die hoof van sowat 160 perderuiters uit die laer beweeg en ‘n teenaanval gelei. Hierdie teenaanval was die keerpunt in die geveg. J.H. Malan het in 1918 geskryf dat dit “die slag ongetwijfeld beslis het.”56 Die Zoeloe het later hieroor vertel dat die berede Voortrekkers hulle soos ‘n swerm perdebye geteister het. Dit het die onttrekking van die Zoeloemag binne minute in ‘n desperate vlugtog verander. Dit was nou ‘n kwessie van elke kryger vir homself. In die proses het die Zoeloemag in twee groepe verdeel, met een wat noordoos langs die Ncomerivier op en die ander groep wat soos die linkerhoring vroeër die oggend, na Vegkop gevlug het. Die berede Voortrekkers het beide groepe agternagesit. In die noorde is die vlugtende Zoeloes tot teen die rivier gedryf. Hulle het in die riete probeer skuil en sommige het selfs in die seekoeigat gespring en probeer deurswem. Die Trekkers het hulle een vir een doodgeskiet. Later het hulle vertel dat die seekoeigat naderhand soos ‘n poel bloed gelyk het – vandaar die naam Bloedrivier.57

Die berede Voortrekkers het ook die ander groep vlugtende Zoeloes asook die agterhoede, wat uit ‘n jong amabutho, die uKhokhoti, wat net met knopkieries bewapen was, agternagesit en verwoesting onder hulle gesaai. In die proses is nog dosyne Zoeloes doodgeskiet. Sarel Cilliers het op sy oudag in sy Joernaal geskryf dat die Zoeloes se lyke “bijna zoals pampoenen op de land die wel gedragen hebben” verstrooi gelê het.58 Een groep berede Voortrekkers het selfs die Ncomerivier oorgesteek op dieselfde plek waar die Zoeloes vroeër oor is en die vlugtende amabutho suidooswaarts agtervolg. So ‘n groot aantal krygers het daar gesneuwel dat die Zoeloe later van

55

Laband, J., Rope of Sand, pp 100-101. Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 349. 57 Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag, p 54; Laband, J., Rope of Sand, p 101. 58 Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag, p 54. 56

18

daardie gebied gepraat het as die vlakte van beendere. Die agtervolging het ‘n paar uur aangehou voordat die agtervolgers se ammunisie begin opraak het en hulle, nou self uitgeput, na die laer teruggekeer het. Daarmee het die geveg teen twaalfuur die middag geëindig.59

Die Zoeloehistorikus Mphalala ontken dat die Voortrekkers uit die laer beweeg en die Zoeloes buite die laer aangeval het. Volgens hom het Ndlela en Dambuza bloot die aanval op die laer gestaak toe hulle besef het dat ‘n bestorming daarvan vrugteloos sou wees.60

Die Voortrekkers het die aand na die geveg ‘n dankdiens gehou terwyl Zoeloeboodskappers die slegte tyding van hulle verpletterende nederlaag na Dingane geneem het. Die volgende oggend het Pretorius weer ‘n berede kommando uitgestuur om die Zoeloe-impi te agtervolg. Hulle kon nie die vlugtende amabutho vind nie. Die pad het egter nou vir die Voortrekkers oopgelê na Umgungundhlovu. Toe die Wenkommando, soos Pretorius se mag na hulle oorwinning op 16 Desember genoem is, ‘n paar dae later daar opgedaag het, het hulle die stat verlate en afgebrand aangetref. Voortrekkerbronne en Zoeloe-oorlewering verskil oor wie vir die afbrand verantwoordelik was. Volgens eersgenoemde het die vernietiging in opdrag van Dingane, wat nou self ‘n voortvlugtige was, plaasgevind. Maphalala beweer weer die Voortrekkers het die stat afgebrand.61 Die Engelstalige historikus John Laband stel dit kategories dat Umgungundhlovu op Dingane se bevel afgebrand is.62 Hierdie geskiedenis is egter nie in hierdie referaat ter sprake nie.

Verklarings vir die Voortrekkeroorwinning by Bloedrivier

Talle Voortrekkers en tydgenote van Voortrekkers in Afrikanergeledere asook later Afrikaanse historici het die Voortrekkeroorwinning by Bloedrivier direk aan God

59

Laband, J., Rope of Sand, p 101. Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, pp 61-62. 61 Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, p 62. 62 Laband, J., Rope of Sand, p 100. 60

19

toegeskrywe. In 1890 het president Paul Kruger in sy feesrede met die onthulling van die Paardekraalmonument in Krugersdorp oor die Slag van Bloedrivier verklaar: “En God gaf de overwinning over die duizenden van vijanden, en daarin werd weder Gods hand gezien.”63 Die Transvaalse historikus N.J. Hofmeyr het in 1896 die Slag van Bloedrivier as “een onvergankelijk monument der Boeren dapperheid” beskryf. Hy het bygevoeg dat die verslag van die Wenkommando se segetog lees soos ‘n hoofstuk in die Bybelboek Rigters, met Pretorius aan die voorpunt “als een Gideon met zijn klein leger van uitverkorenen – de geheele schare Boeren, gelijk de geduchten ‘Ironsides van Cromwell’, kan even goed bidden als vechten.”64 Die historikus H.B. Thom het meer as ‘n half eeu later, in 1949, oor die Bloedriviergebeure geskryf dat ’n klompie manne, diep onder die besef van hulle menslike swakhede en tekortkomings, maar ewe bewus van die erns van hulle taak, en vas vertrouend op die almag van die God van hul vadere, in die uur van hul bangste nood tot die Here geroep het; dat hulle met die Here ‘n plegtige verbond gemaak het; dat Hy hulle smeekstem gehoor, hulle wonderbaarlik gered en hulle ‘n groot oorwinning oor die enorme oormag van hulle vyande gegee het.65 Dit stem ooreen met die historikus A.N. Pelzer se uitspraak in 1975 dat die oorwinning by Bloedrivier ‘n “wonderwerk” was. Dit was na sy mening “nie verdienste nie – dit was louter genade, ‘n bestiering, ‘n beskikking.”66 Schalk Jacobsz het geskryf dat daar vroeër dae by die Hoër Seunsskool Helpmekaar in Johannesburg ‘n skildery was wat ‘n wolk bokant die laer wys met witgeklede ruiters op wit perde [waarmee hy kennelik hemelwesens bedoel] wat op die Zoeloemagte vuur. Daar is oorlewerings onder sommige Zoeloestamme dat hulle nie so bang was vir die Boere wat uit die laer op hulle gevuur het as vir die Boere met die wit klere wat uit die wolk bokant die laer op hulle geskiet het nie.67

63

Aangehaal in Van Oordt, J.F., Paul Kruger en de Opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek. (Hollandsch Afrikaansche Uitgevers-Maatschappij, Amsterdam, c1898), p 557. 64 Hofmeyr, N.J., De Afrikaner-Boer en de Jameson-Inval (Jacques Dusseau & Co, Kaapstad & Amsterdam, 1896), p 58. 65 Thom, H.B., Die Geloftekerk en ander studies oor die Groot Trek. (Nasionale Pers, Kaapstad, 1949), p 107. 66 Aangehaal in Van Jaarsveld, F.A., Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle, p 54.

20

‘n Latere geslag Afrikaanse historici kon hulle nie met hierdie opvattings vereenselwig nie. Ben Liebenberg, skrywer van die gesaghebbende studie Andries Pretorius in Natal, se standpunt was dat die historikus nie die hand van God by Bloedrivier kan inbring nie, maar na ander, menslik-verklaarbare redes vir die Voortrekkers se oorwinning moet soek. Volgens Liebenberg is geen historikus in staat om die hand van God in die gebeure in die verlede te bepaal nie.68 Feit is dat geskiedenis bloot ‘n verslag is van die verlede-werklikheid. Geen historikus is sy sout werd as hy nie in sy verklaring van gebeure alle moontlike getuienis oorweeg om ‘n billike gevolgtrekking te maak nie. Hy kan nie in moeilike gevalle bloot aanvoer dat goddelike ingryping tot ‘n sekere uitslag gelei het nie. Ook wat Bloedrivier betref is Liebenberg korrek – geen historikus kan met oortuiging verklaar dat die hand van God hier duidelik sigbaar is nie. Terselfdertyd egter kan geen historikus ontken dat die hand van God moontlik wel teenwoordig was nie. Talle van die Voortrekkers wat op 16 Desember 1838 by Bloedrivier geveg het, was onder meer onder besieling van die gelofte daar oortuig van dat God aan hulle kant was. Daardie geloof het hulle vlakke van vasberadenheid en selfvertroue tot so ‘n mate verhoog dat dit as een van die belangrikste redes vir die Voortrekkeroorwinning beskou kan word.

Liebenberg gee die volgende redes vir die Voortrekkeroorwinning aan, naamlik die oormag van die vuurwapen bo die assegaai, die beskerming wat die versterkte laer aan die verdedigers gebied het, die gunstige ligging van die walaer, wat so geplaas was dat dit net uit twee rigtings onbelemmerd aangeval kon word, die mooi sonskyndag wat beteken het dat die Voortrekkers nie met klam kruit sou moes sukkel nie en die vasberadenheid van die Voortrekkers.69 F.A. van Jaarsveld het nog twee rede bygevoeg, naamlik “die bekwaamheid en die besieling van ‘n eersteklas militêre aanvoerder, Andries Pretorius, en sielkundige redes, naamlik die motivering deur die gelofte en selfvertroue.”70

67

Jacobsz, S.W., Die Verbond van Bloedrivier, p 41. Van Jaarsveld, F.A., Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle, pp 54-55. 69 Aangehaal in Van Jaarsveld, F.A., Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle, p 54. 70 Van Jaarsveld, F.A., Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle, p 54. 68

21

Afrikaanse skrywers het in hulle ontledings ‘n hele aantal flaters in die Zoeloe se optrede wat tot hulle nederlaag by Bloedrivier aanleiding gegee het, gewys. Het die Zoeloes byvoorbeeld ‘n fatale fout gemaak deur Pretorius se kommando juis by Bloedrivier aan te val? J.H. Malan, was hierdie mening toegedaan. Na sy mening moes die Zoeloes gewag het totdat die verdere planne van die Voortrekkers ontwikkel het en hulle ‘n beter plek kon kies waar hulle dan tot die aanval kon oorgaan. Wat by Bloedrivier gebeur het was dat die Zoeloes by die Voortrekkers se keuse van slagveld ingeval het. Malan spekuleer dat hulle miskien nie genoeg voedsel gehad om die aanvang van die geveg onbepaald uit te stel nie. Of miskien het die Zoeloe-aanvoerders se geduld bloot opgeraak. Feit is dat hulle ‘n onherstelbare flater begaan het om die Voortrekkerlaer by Bloedrivier aan te val. Dit was volgens Malan hulle ondergang.71

Volgens A.N. Pelzer het die Zoeloes drie foute gemaak wat aan hulle die nederlaag besorg het. Eerstens het hulle nie hulle tradisionele krygstaktiek van die ‘oskopformasie’ toegepas nie. Tweedens het hulle die laer in sarsies bestorm en nie in een groot massa aangeval en bly aanval nie. En derdens het hulle nie in die donker, maanlose nag wat die geveg voorafgegaan het aangeval nie, maar gewag totdat dit helder lig was en die Voortrekkers dus kon sien om raak te skiet.72

Die oorlogsongevalle aan weerskante

Oor die verliese wat die Voortrekkers by Bloedrivier gely het, kan daar nie twyfel bestaan nie. Niemand is gedood nie. Drie man, naamlik Philip Fourie, Gert Raath en Andries Pretorius self, is lig gewond maar het herstel. Die kommandant-generaal was te perd by die agtervolging betrokke toe ‘n Zoeloekryger op hom afgestorm en ‘n assegaailem deur sy linkerhand gesteek het. Wat die Zoeloe betref, het hulle aanmerklike verliese gely. Die Voortrekkers het in opdrag van Pretorius probeer tel hoeveel Zoeloes gesneuwel het. Hulle skatting was meer as 3000.73 Dit is vanselfsprekend nie ‘n absoluut betroubare berekening nie, maar is deur heelparty 71

Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 345. Aangehaal in Van Jaarsveld, F.A., Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle, p 54. 73 Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal, p 39. 72

22

Afrikaanse skrywers aanvaar.74 J.H. Malan het in 1918 geskryf dat daar tussen 3000 en 3500 Zoeloes langs die rivier gesneuwel het, benewens ‘n groot aantal tydens die agtervolging.75 Nasionalistiese Zoeloe-historici soos J.S.M. Maphalala glo veel minder krygers is in die Slag van Bloedrivier dood.76 Hoeveel Zoeloes later aan hulle wonde dood is, weet ons glad nie.

Maphalala ontken ook dat die water van die Ncomerivier ‘n rooi skynsel van al die bloed van gestorwe Zoeloekrygers kon hê en maak dit as ‘n mite af. Hy ontken terselfdertyd dat enige deel van die geveg by die water van die rivier plaasgevind het. Volgens hom is hierdie mite geskep ten einde die Voortrekkers as ‘leeus en vreeslose vegters’ te kan uitbeeld.77

Nabetragting Toe die nuus van die Wenkommando se oorwinning op Kersdag 1838 die laers langs die bolope van die Tugelarivier naby die huidige Colenso bereik het, was die Voortrekkers daar aanvanklik huiwerig om die berig te glo. Maar op 3 Januarie 1839 is alle twyfel uit die weg geruim toe ‘n skriftelike verslag van Andries Pretorius self oor die verloop van die geveg die laers bereik het. Eerwaarde Erasmus Smit het onmiddelik ‘n afskrif van die verslag in sy dagboek gemaak en bygevoeg: “’t Gehele leger is verheugd (en zo ik hoop ook dankbaar aan God), over al deze goede tydingen van de voorspoed der … legermacht.”78

Volgens Smit se biograaf, Fanie de Jongh, was daar by die

Eerwaarde geen twyfel nie dat die oorwinning by Bloedrivier beteken het dat die Voortrekkers Natal met die swaard van Dingane ontneem het omdat dit God se wil was.79

74

Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag, p 54. Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 351. 76 Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, pp 61-62. 77 Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, pp 62-63. 78 Smit, E., Joernaal van ‘n trek. Uit die dagboek van Erasmus Smit. (Geredigeer deur G.S. Preller, ingelei en versorg deur Merwe Scholtz. Tafelberg, Kaapstad, 1988), pp 175-182. 79 De Jongh, P.S., Die Lewe van Erasmus Smit. HAUM, Kaapstad, 1977, p 163. 75

23

‘n Volgende kwessie oor die Slag van Bloedrivier is die beweringe van sommige historici dat die krygsmag van die Zoeloe daar verbreek is. Dit is vanselfsprekend nie so nie. Die Voortrekkers het dit self besef. Dit was eers in 1879, met die Slag van Ulundi, wat die Britte die Zoeloemag verbreek het. By Bloedrivier egter is Dingane se mag verbreek. Die betekenis van Bloedrivier is eintlik drieledig van groot belang:

-

militêr, omdat Dingane se mag verbreek is. Dingane was volgens Zoeloeoorlewering nooit ‘n gewilde vors nie – moontlik omdat hy by die moord op koning Tsjaka

betrokke

was.

Die

nederlaag

by

Bloedrivier

het

spoedig

middelpuntvliedende kragte ontketen wat gedreig het om die Zoeloeryk uitmekaar te skeur. Inderdaad het Dingane se halfbroer, Mpande, in 1839 met ‘n groot gevolg van die koninkryk weggebreek en in Januarie 1840 die leeue-aandeel in die finale vernietiging van Dingane se mag in die Slag van die Makonko-koppe gehad. Mpande, wat die Voortrekkers goedgesind was, het vervolgens die Zoeloe-koning geword het, en die “Afrikaner” en die Zoeloe het eintlik nooit weer teen mekaar geveg nie; -

polities, omdat die Groot Trek in die oë van die Trekkers self daardeur gered is. Mens kan maar net dink wat die gevolg sou wees as Pretorius se kommando by Bloedrivier oorwin en uitgewis was. Maar die nuus van die Voortrekkeroorwinning het spoedig die Kaapkolonie bereik en nog enkele duisende agternatrekkers geinspireer om die Kaapkolonie te verlaat by die Voortrekkers aan te sluit en so tot die uiteindelike sukses, na nog vele terugslae wat nie hier ter sprake is nie, van die Groot Trek by te dra;

-

godsdienstig, omdat die Gelofte en herdenkingsgeleenthede, alhoewel soms omstrede, mettertyd deel van die Afrikanerkultuur geword het.

Vroeë Afrikaanse skrywers het in hulle interpretasie van die betekenis van die Slag van Bloedrivier nog ‘n element bygetrek. J. H. Malan het byvoorbeeld in 1918 geskryf dat daar by Bloedrivier bepaal is wie die oorhand in die ganse Suid-Afrika sou kry: “barbaarse dierlikheid” of “die witman sij beskawing, menslikheid, karakter en edele

24

trekke.”80 G.B.A. Gerdener was ‘n soortgelyke mening toegedaan: Bloedrivier was merkwaardig “omdat in daardie oorwinning die waarborg gegee is van die suprioriteit van reg oor mag, van waarheid en regvaardigheid oor valsheid en verraad.” Vir Gerdener was dit meer as ‘n veldslag tussen Afrikaner en Zoeloe: dit was ‘n botsing “tussen Vrijheid en Verdrukking” en het die bedreiging van ‘n “barbaarse oorheersing” oor Suid-Afrika verwyder.81 Ds J.D. Kestell het dit só gestel: met Dingane se nederlaag by Bloedrivier “het ook die despotisme van die barbaredom in hierdie land te gronde gegaan.”82 Hierdie outydse, blanksentriese interpretasie word vanselfsprekend vandag nie meer deur erkende historici in Afrikanergeledere gehuldig nie.

Zoeloe-interpretasie van die betekenis van die Slag van Bloedrivier

Die Zoeloe-historikus J.S.M. Maphalala beskou die Slag van Bloedrivier as maar net een van die menigte botsings wat die inwoners van Afrika teen invallers uit Europa moes veg. Dit was na sy mening ‘n direkte uitvloeisel van die inval van die Hollanders in die Kaap in 1652, gevolg deur die inval van die Britte in 1806. Die Groot Trek was ‘n integrale onderdeel van die oorkoepelende skema van Europese kolonialisme en imperialisme wat in 1652 in Suid-Afrika ‘n aanvang geneem het, maar vroeër reeds elders in Afrika.83

Slotopmerkings

Oor die werklike gebeure in verband met die aanloop tot en verloop van die Slag van Bloedrivier is daar weinig meningsverkil tussen Afrikanerhistorici. Die klaarblyklike rede vir hierdie stand van sake is dat daar sedert ongeveer 1930 weinig nuwe, onbenutte bronne oor die gebeure na vore gekom het. Die dispuut of nimmereindigende gesprek oor Bloedrivier ggan oor interpretasie. Daar is veral twee groot verskille tussen hoofsaaklik ouere en meer resente Afrikanerhistorici se interpretasies: 80

Malan, J.H., Boer en Barbaar, p 347. Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag, p 55. 82 Kestell, J.D., Die Voortrekkers. ‘n Kort Geskiedverhaal (J.H. de Bussy, Pretoria & Amsterdam, Tweede Uitgawe, 1920), p 103. 81

25



Die oueres is geneig om koning Dingane van die Zoeloes as ‘n sluwe barbaar te beskrywe, maar meer resente historici soos Liebenberg en Van Aswegen het reletief heelwat meer empatie met Dingane as ‘n Zoeloenasionalis wat in ‘n hoek gedryf was.



Die hele kwessie van goddelike ingryping. Ouer historici was geneig om die Voortrekkeroorwinning aan die ingryping van God toe te skryf, terwyl resente historici glo daar is oorgenoeg redes waarom die Voortrekkers bykans vanselfsprekend die oorwinning by Bloedrivier behaal het.

Wat Zoeloe-intrepretasies betref is die situasie dat daar nog geen indringende studie van die Slag van Bloedrivier deur ‘n Zoeloe-historikus die lig gesien het nie. Maphalala word in sy interpretasie tot ‘n mate deur sy Zoeloe-patriotisme en vyandigheid teenoor die “Boere” verblind. Nuwe interpretasies oor die Slag van Bloedrivier sal kom en gaan en die diskussie sal voortgaan. In die bedryf van Geskiedenis beskik niemand ooit oor die finale antwoord nie. -----------------

83

Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, pp 54-55.

26

BRONNE BENUT D'Assonville, V.E., Bloedrivier (Welteverdenpark, 2000). De Jongh, P.S., Die Lewe van Erasmus Smit. (HAUM, Kaapstad, 1977). Gerdener, G.B.A., Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag. Lewenskets van die Grote Voortrekker. (Samuel Griffiths, Kaapstad, 1919). Hofmeyr, N.J., De Afrikaner-Boer en de Jameson-Inval (Jacques Dusseau & Co, Kaapstad & Amsterdam, 1896). Jacobsz, S.W., Die Verbond van Bloedrivier. (Libanon-uitgewers). Kestell, J.D., Die Voortrekkers. ‘n Kort Geskiedverhaal (J.H. de Bussy, Pretoria & Amsterdam, Tweede Uitgawe, 1920). Laband, J., Rope of Sand. The rise and fall of the Zulu Kingdom in the Nineteenth Century (Jonathan Ball Publishers, Johannesburg, 1995). Laband, J., “The Military Significance of the Battle of Blood River/Ncome”, in Department of Arts, Culture, Science and Technology, The Re-interpretation of the Battle of Blood River/Ncome. One day seminar held on 31 October 1998, University of Natal, Kwa-Dlangezwa, pp 24-29. Liebenberg, B.J., Andries Pretorius in Natal (Academica, Pretoria & Kaapstad, 1977). Liebenberg, B.J., “Pretorius, Andries Wilhelmus Jacobus”, in W.J. de Kock en D.W. Krüger (reds), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Deel II (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria, 1972), pp 573-581. Malan, J.H., Boer en Barbaar, of die Geskiedenis van die Voortrekkers tussen die jare 1835-1840 en verder van die Kaffernasies met wie hulle in aanraking gekom het. (De Nationale Pers, Beperkt, Bloemfontein, 1918). Maphalala, J.S.M, “The re-interpretation of the war of Ncome, 16 December 1838”, in Department of Arts, Culture, Science and Technology, The Re-interpretation of the Battle of Blood River/Ncome. One day seminar held on 31 October 1998, University of Natal, Kwa-Dlangezwa, pp 54-63. Owen, F., The Diary of the Rev. Francis Owen, M.A. Missionary with Dingaan in 183738. Together with extracts from the writings of the interpreters in Zulu, Messrs Hulley and Kirkman. (Edited by Sir Geo E. Cory. Cape Town, The Van Riebeeck Society, 1926).

27

Preller, G.S., Andries Pretorius. Lewensbeskrywing van die Voortrekker KommandantGeneraal. (Tweede, Verbeterde en Vermeerderde Uitgaaf, Die Afrikaanse Pers Beperk, Johannesburg, 1940). Smit, E., Joernaal van ‘n trek. Uit die dagboek van Erasmus Smit. (Geredigeer deur G.S. Preller, ingelei en versorg deur Merwe Scholtz. Tafelberg, Kaapstad, 1988). Thom, H.B., Die Geloftekerk en ander studies oor die Groot Trek. (Nasionale Pers, Kaapstad, 1949). Van der Merwe, P.J., Die Matebeles en die Voortrekkers. (Argiefjaarboek vir SuidAfrikaanse Geskiedenis 49, deel II, Staatsdrukker, Pretoria, 1986). Van Jaarsveld, F.A., Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle. (Tafelberg, Kaapstad, 1979). Van Oordt, J.F., Paul Kruger en de Opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek. (Hollandsch Afrikaansche Uitgevers-Maatschappij, Amsterdam, c1898). -----

28

Suggest Documents