7

Kinde Vanaf 1883... Jaarverslag 2006/7 Visie Ons lewer met die hulp van God se liefde professionele- en ondersteuningsdienste aan sorgbehoewende k...
59 downloads 4 Views 453KB Size
Kinde

Vanaf 1883...

Jaarverslag 2006/7

Visie Ons lewer met die hulp van God se liefde professionele- en ondersteuningsdienste aan sorgbehoewende kinders en hul ouers om hulle weer in gesonde gesinsverband te herenig. Missie Ons, die Durbanville Kinderhuis, dien die belange van die sorgbehoewende kind en sy ouer deur die: - daarstelling van 'n veilige, terapeutiese omgewing, - aanwending van goed opgeleide personeel en toegewyde vrywilligers - vorming van vennootskappe met die sakesektor, gemeenskapsorganisasies en staatsdepartemente, - toepassing van gesonde besigheidsbeginsels om gehaltediens te verseker, - toepassing van alle beginsels soos vervat in ons nasionale grondwet en om deur 'n Christelik gefundeerde etos die emosionele, psigo-opvoedkundige en sosiale behoeftes van alle kinders te ondervang. Slagspreuk Alle kinders het vlerke, ons leer hulle om te vlieg

Dcp logo

Dankie aan Durbanville Commercial Printers wat hierdie jaarverslag se drukwerk geborg het. Kontak Allan op 021 946 4074 of epos [email protected]

Geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk (Registrasienommer NPO 011-891) Durbanville Kinderhuis is 'n program van BADISA – 'n Gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes- en Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland) Registered non profit organisation (Registration nr. NPO 011-891) Durbanville Children's Home is a program of BADISA – A joint ministry of the DR Church (Western and Southern Cape) and URCSA (Cape)

Voorwoord deur ons Voorsitter 1. Inleidende opmerkings Dit is vir my aangenaam om u namens die beheerraad, bestuur, personeel en kinders van die Durbanville Kinderhuis oor die werksaamhede van die afgelope jaar in te lig. Ons by die Kinderhuis is terdeë bewus daarvan dat die breë gemeenskap, sakelui en talle donateurs groot belang by ons werksaamhede het. Ons erken u bydrae tot die suksesvolle bedryf, instandhouding en die voortgesette ontwikkeling van die Durbanville Kinderhuis. Ons jaarverslag is daarom 'n belangrike middel om alle belanghebbendes op hoogte te bring van die wel en wee van die Kinderhuis. Die beheerraad plaas 'n geweldige hoë premie op doeltreffende bestuur wat op gesonde besigheidsbeginsels geskoei is en wat kan aanleiding gee tot 'n praktyk waar die behoeftes van alle kinders optimaal aangespreek kan word. Die bestuur, personeel en alle vrywilligers word geloof vir puik diens wat hulle lewer te midde van uitdagings rondom uiteenlopende kontekste en diversiteit waarmee hulle op 'n daaglikse basis gekonfronteer word. Ek lig graag 'n paar sake uit wat die afgelope jaar uitgestaan het (sommige het in die media neerslag gevind) en wat u meer insae ten opsigte van ons vernaamste werksaamhede behoort te gee: 2. Die verkiesing van die nuwe beheerraad Ons moes in 2006 afskeid neem van verskeie beheerraadslede en die voorsitter van die beheerraad. Ons wil ons opregte dank en waardering uitspreek vir opofferende diens onder die bekwame leierskap van die voorsitter, Mnr Pieter Conradie. Die nuwe verkose beheerraad vir die volgende termyn is soos volg: • Mnr GW Davids - voorsitter • Mnr HCA de Villiers - voorsitter van Geboue- en Eiendomskomitee • Adv JA le Roux - voorsitter van Personeelkomitee • Mev HR Juries - lid van Vakkundige Komitee • Mnr RJ Johannisen - lid van Finansiële Komitee • Mnr AB Bastiaan - voorsitter van Ontwikkelingskomitee • Mev L Lennox - lid van Vakkundige Komitee • Mnr GE Reed - lid van Vakkundige Komitee • Mnr PAvZ Conradie - lid van Finansiële Komitee • Ds AA Verster - lid van Personeelkomitee • Mev C Andrag - lid van Vakkundige Komitee • Mev A Bezuidenhout - hoof van die Kinderhuis 3. Kwaliteitsondersoek deur BADISA Aan die begin van 2007 het BADISA 'n kwaliteitsondersoek by die Kinderhuis gedoen. Die doel van die ondersoek was om die effektiwiteit van dienslewering, die vlakke van opleiding en toegewydheid van die personeel te analiseer. Die resultaat van hierdie kritiese ondersoek het getoon dat die bestuur en personeel oor die algemeen goeie werk doen en daarna streef om standaarde so hoog as moontlik te hou. Daar is weliswaar enkele areas geïdentifiseer waar verdere ondersteuning en ontwikkeling vereis word. Die beheerraad en bestuur van die Kinderhuis verwelkom hierdie kritiese ondersoek en glo dat hierdie tipe ingryping net kan help om voortreflike diens te lewer en om van die Kinderhuis 'n plek van uitnemendheid te maak. 4. Huis Kannabas Dis met groot hartseer en verlies dat ons moet aankondig dat Huis Kannabas teen die einde van September 2007 noodgedwonge sy deure sal moet sluit. Dit is weens finansiële oorwegings wat grootliks te wyte is aan die onvoldoende subsidie wat deur die Departement van Gesondheid aan die eenheid toegeken is. Alle konsultasies met en vertoë tot die Departement was vrugteloos en ons is uiteindelik daarvan verwittig dat laasgenoemde nie oor die nodige fondse beskik om tot die eenheid se redding te kom nie. 5. Fondsinsameling In 2006 is altesaam R3,333,274.00 ingesamel. Hierdie prestasie was te danke aan die puik organisasie en werkywer van die bestuur, personeel en alle vrywillige werkers. Die ontwikkelingskomitee, tesame met alle vrywilliges verdien spesiale lof vir hulle kundigheid, opoffering en vasberadenheid om die sukses van die fondsinsamelingspogings te verseker. Alle dank ook aan al die vele donateurs en sakelui wat ons jaarliks ondersteun. Die fondse wat geïn is, maak 'n groot deel van ons begroting uit en help om te verseker dat ons op volgehoue wyse gehaltediens kan lewer. 6. Satelliethuis Durbanville Kinderhuis het geskiedenis gemaak deur 'n satelliethuis in Kraaifontein te bekom. Hierdie huis sal 'n verlengstuk van die Kinderhuis wees en sal dienste nader aan die gemeenskappe in nood lewer. Terselfdertyd sal dit help om sommige van die druk van die Kinderhuis te verlig. Hierdie huis is moontlik gemaak deur 'n ruim skenking deur die Andrag Familiefonds. Aan hulle is ons ewige dank verskuldig. ...Vervolg bo aan bl. 2

1

(...Vervolg van bl. 1) 7. Diensgelykheidsforum Die Kinderhuis het 'n diensgelykheidsverslag ingedien volgens die vereistes van die Wet op Diensgelykheid. 'n Diensgelykheidsforum is verkies wat 'n spreekbuis is vir die personeel en betrokke is by die saamstel van 'n diensgelykheidsplan vir die toekoms. 8. Liefde en dissipline Die dienslewering aan die kind in 'n kinderhuis bestaan uit baie fasette, maar die belangrikste is liefde en dissipline. Jaarliks word die reëls en dagprogram met die kinders onderhandel ten einde 'n gestruktureerde en gerespekteerde omgewing vir almal te skep. Die grondslag vir dissipline bly egter om onvoorwaardelike liefde aan elke kind te bewys en dit kan soms 'n groot uitdaging vir personeel en vrywilligers wees. Ons kan werklik met trots terugkyk na ons resultate die afgelope jaar. Slotwoord Dit is ons bede dat u sal voortgaan om die Kinderhuis as gemeenskapsorganisasie te ondersteun sodat ons van krag tot krag sal gaan om langs die weg van Christelike beginsels voortreflike diens te kan lewer om die behoeftes van kinders in nood aan te spreek. Die bestuur en personeel van die Kinderhuis tesame met alle subkomitees van die beheerraad, word bedank vir hul volgehoue verbintenis tot gehaltediens. Sterkte met u uitdagende taak en bemoeienis met die belange van ons kinders.

Gerald W. Davids Voorsitter van die beheerraad 31 Julie 2007

Ons sê baie-baie dankie! Ons wil graag al die skole wat ons kinders onderrig bedank vir die wyse waarop ons kan saamwerk om vir sorgbehoewende kinders ‘n kans te gee. Elke kind word geassesseer en in ‘n skool geplaas volgens individuele behoeftes. Skool en opvoeding vorm ‘n groot deel van ‘n kind se dag en totale ontwikkeling. Die skole moet ook baie keer instaan vir die gebrek aan geld, middele of mannekrag van die Kinderhuis. Daarom wil ons dankie sê aan die hoofde, personeel en ouers wat ons so wonderlik bystaan. Die kinders het geweldige skolastiese agterstande as gevolg van hul agtergrondomstandighede en ons is ook dankbaar vir OBOS en al ons vrywilligers wat ons help. Die Kinderhuis het ‘n biblioteek en ‘n rekenaarsentrum om die kinders verder te help. Ons het elke dag 4 bussies op die pad om ons kinders na die skole te vervoer.

2

Die skole wat die verskil maak aan ons kinders: Alpha Primêr, Durbanville Alta du Toit, Kuilsrivier Athlone Skool, Bellville-Suid Atlantis Vaardigheidskool, Atlantis Aninke , Durbanville Attie van Wyk, Durbanville Bet-El Skool, Kuilsrivier Blue Mountains Primêr, Durbanville Chere Botha, Bellville De Grendel Skool, Milnerton Durbanville Voorbereidingskool, Durbanville Filia Skool, Goodwood Hoërskool Bellville, Bellville Hoërskool De Kuilen, Kuilsrivier Hoërskool Durbanville, Durbanville Hoërskool Fairmont, Durbanville Hoërskool Scottsville, Kraaifontein Irista Primêr, Kuilsrivier Jan Kriel Skool, Kuilsrivier Laerskool Aristea, Kraaifontein Laerskool Durbanville, Durbanville Laerskool Simonsberg, Kraaifontein Parow Voorbereidingskool, Parow The Valley Primêr, Durbanville Westcliff Skool, Bellville Woelwater Dagsorgsentrum, Durbanville Fanie Theron Laerskool, Kraaifontein

Familiedag 2007 Ouers, oupas, oumas, ooms, tannies, buddies, vrywilligers... Hier by die Kinderhuis skep ons ons eie families en ons koester ons familiebande. Elke jaar hou ons familiedag waar elke kind sy ‘familie’ uitnooi. Ons kinders spog dan met hul talente en hul entrepreneurskapvaardighede. Ons sing en dans en speel en almal smul aan heerlike lekkernye. Hierdie dag is ‘n hoogtepunt op die kinders se kalender, maar soms ook ‘n laagtepunt as hul geliefdes nie opdaag nie. Matriekafskeid 2006 Ons skoolverlaters is met die hulp van donateurs en vrywilligers uitgedos vir die skool se afskeidsfunksie. Hier staan vlnr Jeanette, JP, Basil, Tertia en Claudie vir oulaas saam. Die Kinderhuis bied ook studiebeurse vir kinders wat verder wil studeer. Petrus is vanjaar een so ‘n student en studeer aan die teologiese skool in Sarepta, Kuilsrivier en hy word wonderlik ondersteun deur die AGS Kerk, Durbanville. Kersfees 2006 Dit is elke kind se droom om ‘n Kersfees te geniet. By die Kinderhuis sorg die gemeenskap dat hierdie droom jaarliks ‘n werklikheid word. Kersfees 2006 sal onthou word vir RSG se groot Kersparty in samewerking met Die Boer en Pick & Pay en ons gemeenskap se groot harte. Kunstenaars het gratis opgetree en die kinders is heerlik bederf met eetgoed en pragtige geskenke. Die res van die kersvakansie was ook groot pret en bederf met gereelde uitstappies, wonderlike eetgoed en geskenke.

3

Stoei Danksy die Genesis Stoei Akademie het ons kinders die geleentheid om te ontwikkel tot stoeikampioene. Ons kinders se liggaam en gees word ontwikkel en hulle kan ook die aggressie van die swaarkry in hul lewens op ‘n gesonde wyse uitwoed.Die Stoei Akademie gebruik ook ons aktiwiteitsentrum vir die afrigting van stoei vir ander kinders in die gemeenskap. Nadia is gedurende Julie 2007 na Randburg vir die SA kampioenskappe. Die Kinderhuis is ook geaffilieer by die Desiree Ellis Sokkerliga, ‘n inisiatief wat met die hulp van internasionale vrywilligers in Khayalitsha ontstaan het. Daar is ook spansporte wat aangebied word op die terrein, onder andere netbal vir die dogters en sokker vir die seuns. Ons sokkerspan speel elke week ‘n wedstryd teen ander kinderhuisspanne in die skiereiland en hierdie jaar blyk ons onoorwonne te wees! Sportdag Die rooi span het in Maart hierdie jaar by ons Kinderhuis Kleure Atletiekbyeenkoms geseëvier! En die opwinding loop steeds hoog met atlete wat hard oefen, want in September is dit die groot dag waar ons meeding teen 13 ander kinderhuise. Die dag staan bekend as ‘Future Champions’ en die inisiatief het vanuit kinderversorgersgeledere gekom by die Durbanville Kinderhuis. Busse vol kinders word aangery vanaf Pofadder, Tulbach, Kaapstad, Malmesbury, Kamieskroon, Houtbaai, ens. Kinders, personeel, vrywilligers en borge pak die stadion by Bellville vol. Die atmosfeer is aksie-belaai en die kinders loop trots onder die onderskeie vlae en vaandels... Dit is ‘n byeenbring van kinderhuise, donateurs en vrywilligers om ons kinders die geleentheid te gee om te kompeteer, maar ook om te sosialiseer. Die beker van die 2006 byeenkoms staan met trots by die Durbanville Kinderhuis en dit is moeilik om te sê wie se oë die meeste blink oor hierdie prestasie - die kinders of die personeel?! Nietemin, ons is reg vir die groot dag in September!

4

Speeltyd! Soms is dit lekker om net te speel. Hier is ‘n groep kinders in die Kinderhuis se speelparkie. Wanneer ons kinders die Kinderhuis verlaat is die meeste se opmerking ‘Ek gaan my vriende mis’ - hier word jarelange vriendskappe gesluit. En van vriendskap gepraat, party van ons kinders kuier graag saam. Ander wil alleen speel en ander weer wil heeltyd aksie hê. Oor die algemeen is die kinders baie aktief en moet die personeel gereeld aktiwiteite aanbied om ledigheid te voorkom.

Ons satelliethuis Ons is baie opgewonde oor die eerste satelliethuis in Kraaifontein, geskenk deur die Andrag Familie Trust, met deure wat in September 2007 offisieel open. Ons is reeds baie dankbaar vir die Kraaifontein gemeenskap wat op die huiskomitee dien en saam met ons opgewonde is oor hierdie nuwe dimensie van dienslewering. Die 10 kinders wat in hierdie huis saam met ‘huisouers’ gaan woon, gaan die geleentheid kry om in hul onmiddellike omgewing skool te gaan en in die toekoms nader wees aan hul families en vriende.

Ons 125ste verjaarsdag in 2008 As een van die oudste kinderhuise in Suid Afrika is ons almal baie opgewonde oor hierdie groot verjaarsdag. Aan die een kant is dit hartseer dat daar deur al die jare ‘n behoefte was aan dienste vir kinders in nood. Maar aan die ander kant gee dit gemoedsrus om te weet dat daar deur die jare ‘n heenkome was vir kinders wat dit nodig gehad het.

5

Funksies Elke jaar pak 'n span personeel en vrywilligers die uitdaging aan om funksies ten bate van die Kinderhuis te organiseer. Die doel van hierdie funksies is nie net om baie nodige fondse te werf nie, maar ook om ons getroue ondersteuners in persoon te ontmoet en nuwe mense te betrek. In Oktober elke jaar geniet oud en nuwe ondersteuners ons gholfdag en elke keer is ons verbaas & dankbaar oor die verhoogde totaal wat hierdie dag op die golfbaan inbring. 'n Klomp manne (en 'n paar dames!) met baie talente en groot harte! Die glansgeleentheid van die jaar is definitief die bal, waar almal spoggerig uitgevat 'n heerlike aand saam met vriende geniet op die dansvloer met 'n wonderlike orkes. Die gourmet ete en heerlike wyn is gewoonlik ook nie juis te versmaai nie. Ons 'Day at the Races' funksie is ook besig om 'n jaarlikse instelling te word: nog 'n geleentheid vir spoggerig aantrek, lekker eet en kuier op 'n dag by die perderesiesbaan. Gewilde glanspersoonlikhede rond die affêre af met 'n prettige stokperd-resies, alles om fondse in te samel vir ons kinders. Glanspersoonlikhede Ons geniet regdeur die jaar die ondersteuning van so baie wonderlike mense, en is gelukkig om 'n paar bekendes onder hulle te tel. Buiten dat almal graag 'n foto saam met George of Minki wil neem, en dat die algemene publiek dit baie waardeer om 'n funksie saam met 'n TV-held of 'n talentvolle sanger, beteken hierdie ondersteuning seker die heel meeste vir ons kinders. Daar is vir ons kinders geen groter eer as om op 'n foto saam met 'n TV persoonlikheid of 'n bekende sanger te wees nie, of om saam met 'Big Brother' Ferdi te leer brood bak nie! Die waarde van hierdie interaksie en wat dit vir van die kinders se selfbeeld doen kan nooit in finansiële terme beskryf word nie.

6

Vrywilligers Vrywilligers lewer baie belangrike insette en dienste op alle vlakke by die Kinderhuis, naamlik bestuur, versorging, projekte, fondswerwing en onderhoud. Die Kinderhuis het 'n gestruktureerde vrywilligersprogram wat die nodige persone plaaslik en internasionaal uitnooi, uitsoek, oplei en monitor. Ons het tans 60 Suid Afrikaanse en 16 Internasionale vrywilligers wat deel is van ons program. In die afgelope jaar het hier persone van Amerika, Skotland, Engeland, België, Switzerland, Denemarke, Bavaria, Duitsland en Pole gewerk. Die internasionale vrywilligers speel 'n belangrike rol in die kulturele ontwikkeling van ons kinders en stel hulle bloot aan die wye wêreld. Die Kinderhuis het selfs in Duitsland deur ‘n fondsinsamelingsprojek in die koerant beland! Al ons vrywilligers maak 'n merkbare verskil aan ons kinders en personeel en ons is regtig dankbaar vir hul toegewydheid en harde werk in alle opsigte. Die vrywilligers laat ook 'n positiewe, blywende indruk op ons kinders en sonder hul hulp, liefde en ondersteuning sou ons werk nie moontlik gewees het nie. Hier is 'n paar dinge wat van ons kinders oor die vrywilligers te sê het: “Ons geniet dit, is mal daaroor, wanneer die vrywilligers kom kuier” “Ek is gelukkig want hulle help my met my probleme” “Hulle is ons vriende en ons leer baie by hulle” “Ons het baie pret saam en hulle is baie gaaf” “Ek wil graag hê vrywillgers moet ons help met ons huiswerk en vir ons liefde gee”

Kannabas Ons eenheid vir 25 hawelose kinders met erge gestremdhede het in 2001 geopen. Hierdie kinders het by ons 'n tuiste gevind en diep in ons harte ingekruip. Ons het deurgaans gepoog om ons kinders se lewenskwaliteit te verhoog deur goeie versorging, mediese dienste en terapie. Die Kinderhuis is egter genoodsaak om hierdie gespesialiseerde eenheid te sluit agv hoë bedryfskoste en klein persentasie subsidie van die Departement van Gesondheid. Die gemeenskap het uitgereik en ons ondersteun om die deure oop te probeer hou. Vir elkeen sê ons dankie (daar is selfs ‘n Everest basiskamp bergklim onderneem, sien foto regs) Ons gebede gaan saam met hierdie 25 kinders en ons wens hulle ‘n veilige nuwe tuiste en mense wat vir hulle sal lief wees en versorg met dieselfde deernis as wat ons personeel dit die afgelope 7 jaar gedoen het! Ons gaan beide die personeel en kinders se gesiggies en glimlagte mis...

7

8

9

10