- - deur te kyk na die NATUUR om jou:

As Ludwig van Beethoven is op die sestiende Desember 1770 in Bonn (in wat vandag Duitsland is) gebore. In 1792 het hy na Wenen (in Oostenryk) verhuis...
Author: Magnus Norman
16 downloads 3 Views 2MB Size
As

Ludwig van Beethoven is op die sestiende Desember 1770 in Bonn (in wat vandag Duitsland is) gebore. In 1792 het hy na Wenen (in Oostenryk) verhuis, waar hy onder die beroemde komponis, Joseph Haydn, studeer het. Vandaar het sy loopbaan in alle erns ontwikkel, en het Beethoven bekendheid verwerf as ‘n komponis van formaat. Dit was ongelukkig ook kort hierna dat Beethoven se probeme met sy gehoor begin het. ‘n Akute gesuis in sy ore het stadig maar seker toegeneem, sodat dit vir hom al moeiliker geword het om musiek te hoor en te waardeer. Teen 1801 was Beethoven reeds 60% doof. Ten einde musiek op ‘n manier tog te kan beleef, het Beethoven ‘n spesiale ysterpen gehad wat aan die klankbord van sy klavier vasgemaak was. Deur hierdie ysterpen met sy tande vas te byt, kon hy ten minste iets van die musiek wat hy skryf en speel beleef. Teen 1814 was Beethoven heeltemal doof. Hy het egter voortgegaan om musiek te komponeer. In 1817 is hy deur die Londense Philharmoniese Vereniging genader om ‘n simfonie vir hulle te skryf. Dit sou Beethoven se negende simfonie wees, en hy het dit vroeg in 1824 voltooi. Musiekkenners beweer dat ‘n mens in hierdie simfonie onder andere iets van Beethoven se worsteling met sy eie doofheid kan hoor. Veral in die inleiding tot die simfonie, wanneer die musiek die geboorte van klank verbeeld, is daar tekens van sy smagting om self ook weer klank te kan hoor. Daarna bou die simfonie op tot ‘n triomfantlike loflied, en in die vierde en laaste beweging: die beroemde "Ode to Joy." Daarin sien mense ‘n boodskap van hoop, dat ‘n mens ten spyte van swaarkry tog nog ‘n loflied vir God kan sing. In die laaste strofe van daardie aangrypende stuk musiek sing die koor: daar is ‘n liefdevolle Vader wat in die hemel woon (über'm

Sternenzelt Muss ein lieber Vater wohnen - vry vertaal). Daar word vertel dat Beethoven tydens die eerste uitvoering van hierdie simfonie op die sewende Mei 1824 ook op die verhoog was terwyl die orkes en koor dit aangebied het. Weens sy doofheid kon hy nie self meer dirigeer nie, maar het hy aan die kant van die orkes gestaan en die tempo probeer aangee. Daar word vertel dat aan die einde van die vierde beweging, toe die gehoor opspring en dawerende applous lewer, het Beethoven - wat met die tempo effens agter geraak het en nie dadelik besef het dat die orkes al klaar is nie - met sy rug na die gehoor bly staan en ritme aangegee. Een van die sangers het vorentoe gekom en Beethoven omgedraai, sodat hy die applous van die gehoor kon sien. Beethoven het blykbaar in trane uitgebars toe hy die omvang van die mense se reaksie sien. As mense worstel ons maar almal van tyd tot tyd met die vraag: "Is my lewe sinvol?" Is dit die moeite werd om hier te wees? Voeg my lewe waarde by tot die aarde, of is ek uiteindelik maar net ‘n suurstofdief? Ons vergelyk onsself mos so maklik met ander mense. Ons kry dit ook net so maklik reg om onsself te onder-waardeer. Veral wanneer ‘n mens een of ander krisis beleef, met ‘n vraagstuk in jou lewe worstel, is dit maklik om oorhoofs ‘n evaluasie van jou bydrae tot die lewe te maak, en te sê: "My lewe is nie sinvol nie, ek het nie veel waarde nie." Genadiglik het die Bybel ‘n ander siening van sake. Psalm 150 (byvoorbeeld) sê: jou lewe ís sinvol ... want jy leef. En solank as wat jy asemhaal word God deur jou lewe geloof en verheerlik. So eenvoudig soos dit. Geen maar's nie, geen uitsonderings nie, geen twyfel nie. Solank ek leef, loof ek die Here - en word God deur die bestaan van my lewe verheerlik. Daarom kan nie eers ‘n onseker tyd soos hierdie, of ‘n krisis in my eie lewe, of enigiets van buite, my lewe sy sinvolheid ontneem nie. Ek haal asem, ek lewe, en God haal groot vreugde daaruit dat ek lewe. 1 Ds Chris du Preez

Die Loerie was by die onlangse Klein Karoo Nasionale Kunstefees en het dit terdeë geniet. Hy en sy tortelduifie het agt opvoerings en drie musiekuitvoerings bygewoon.

Na die vertoning het Die Loerie die volgende in die programnota van Die Sendeling gelees: "Oudtshoorn United Congregational Church is in 1838 gestig en is dus 21 jaar ouer as Oudtshoorn dorp. Die oorspronklike kerkgebou is in 1973 weens die groepsgebiedewet platgeslaan om plek te maak vir die Headlines restaurant".

Hoewel Die Loerie in die versoeking is om oor die toneelstukke die een of ander aan julle te wil meedeel, wil hy eerder vertel oor iets wat hom diep getref het. Dit is 'n gegewe dat die KKNK 'n geweldige ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn is. Wat eintlik aangrypend is, is die gemeenskap se onselfsugtige en opofferende deelname om die geleentheid te benut ten voordeel van bepaalde instansies. Dit is van die verhuring af van jou winkel in die hoofstraat aan kunshandelaars tot oop stukke grond vir parkering en kampeerplekke ten bate van skole, sportkubs, kerke, die ACVV en noem maar self verder op. Hierbenewens bied en bedryf vele plaaslike inrigtings 'n verskeidenheid van stalletjies wat tuisgemaakte produkte verkoop om hul onderskeie organisasies finansieël by te staan. Wat opval, is dat van kinders af tot bejaardes hierdie betrokkenheid met oorgawe en geesdrif uitleef. En moenie van die vooraf voorbereiding van al die bedrywe vergeet nie. Die toegewydheid van die gemeentelede van die Oudtshoorn United Congregational Church in Welkomsrus buite Oudtshoorn op die De Rustpad, het Die Loerie getref! Hulle het die heerlikste roosterkoek in die hoofstraat verkoop met 'n verskeidenheid vulsels soos boerewors, kerriemaalvleis, kaas en tuisgemaakte konfyt teen bekostigbare pryse. Die Loerie het elke dag roosterkoek gekoop nie net oor die heerlike gebak nie, maar ook oor die gesels met die gryse dames. Boonop was hul opgewektheid aansteeklik. Ondanks die lang ure van 06:00 af tot 22:30 het hulle nie in skofte gewerk nie. 'n Nuwe span was al om die ander dag aan diens. Die laaste aand het Die Loerie die opvoering, Die Sendeling, bygewoon en was aangenaam verras toe die kerkkoor van die United Congregational Church opgetree het.

- - deur te kyk na die NATUUR om jou: Wees soos die SON - - laat jou lig skyn van vroeg tot donker, heeldag, en straal ‘warmte’ uit Wees soos die MAAN - - skyn ook in donker tye, maar onderworpe aan die groter lig Wees soos die DAG - - wat kom en gaan, ongestoord, sonder grootpraat en gespog Wees soos die VOëL - - eet,sing, drink en ‘vlieg’. Geniet die lewe met ‘vlerke’, met vreugde Wees soos ‘n VUURVLIEGIE - - wat hoe klein, hoe gering, sy lig laat skyn Wees soos ‘n BLOM - - geniet en gedy in die son, in die lig en ken en beskerm jou ‘wortels’ Wees soos ‘n goeie VRUG - - mooi van buite en gesond binne Wees soos ‘n BOOM - - wat skadu en skuiling aan andere gee Wees soos ‘n OASIS - - wat water gee aan hulle op jou pad, wat dors het Wees soos GOEIE WATER - - skoon en deursigtig Wees soos ’n RIVIER - - beweeg altyd vorentoe! Maar bo alles: Wees in jou hart en siel soos die Hemele - - ‘n plek waar God wil woon. Here, leer my om te leef soos U wil hê dat ek moet lewe want U is my Skepper. Psalm 143 v 10: “Leer my om U wil te doen, want U is my God! Laat U goeie Gees my op ‘n gelyk pad lei.” [Vertaal uit anonieme Engelse weeergawe].

Baie dankie aan ons predikante wat ons Paasfeesdienste so spesiaal gemaak het en vir die tyd en moeite wat daarin gesit was. 2

ANDREW MURRAY-PRYSE: Prof Dirkie Smit van Stellenbosch se boek ‘Geloof en openbare lewe’ is met die Andrew Murrayprys bekroon. Dit is ‘n versameling artikels oor die raakvlak van teologie en samelewing. [terloops: Prof Smit se skoonpa, wyle prof Willie Jonker, het die AM-prys twee keer gewen.] Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys is toegeken aan prof Piet Naude, vir sy boek ‘Neither calendar nor clock- perspectives on the Belhar Confession’. Volgens die beoordelaars verduidelik prof Naude op ‘n helder en verstaanbare manier die redes vir die ontstaan van die Belydenis van Belhar 30 jaar gelede en die betekenis daarvan. Hy gee met hierdie boek “nuwe aktualiteit aan dié belydenis en pas dit toe op die politiek van ons tyd.” WESTE GEVRA OM OP TE TREE TEEN LANDE WAT CHRISTENE VERVOLG: Hierdie pleidooi van ‘n Skotse kardinaal volg op ‘n verslag wat pas uitgereik is en wat aantoon dat 75% van alle mense wat wêreldwyd weens hulle geloof vervolg word, Christene is. LUTHERANE WIL SAAM MET ANGLIKANE KATOLIEKE WORD: Die Kruik het reeds voorheen verwys na die ‘toegewing’ dat Anglikane met behoud v an hul identiteit lidmate van die Katolieke Kerk kan word. ‘n Groep Lutherane in Amerika wil nou dieselfde doen en so “die misstap van Maarten Luther ongedaan maak.” Die NUWE HART-STIGTING wil mense bewus maak dat BY en MET God daar altyd ‘n hoopvolle verwagting is. Die Stigting sê dat sonder HOOP daar nie werklik oor die herstel van waardes in SA gepraat kan word nie. HOOP? Wat mense ontmoedig is “armoede, werkloosheid, onregverdige bevoordeling, korrupsie, gebrekkige dienslewering, geweld,……”. WAARDES moet egter herstel word om ‘n betekenisvolle toekoms te kan skep. Die Stigting beywer hom veral vir 4 strategiese waardes: Eerlikheid; medemenslikheid; selfbeheersing en verantwoordelikheid. Kruik: Hierdie is ‘n mondvol en vra vir GEBED. Hoe sal ek sê? “Positief bly is nie vir sissies nie.”? Maar mens moet! CUM (Christelike Uitgewersmaatskappy): In die Kerkbode verskyn ‘n onderhoud met mnr Chris Johnsen, eienaar van CUM. Hy het ook belange in die buitelandse Christelike boekebedryf. Uit die onderhoud blyk dat die bedryf in die VSA negatiewe groei toon; dat in sekere lande soos Frankryk, Nederland en Duitsland , asook in die eertydse Oosbloklande daar besliste groei is. Suid –

Afrika se mark vir Christelike boeke is egter uniek en toon steeds positiewe groei. Daar is deesdae gereeld Christelike boeke op die ‘beste-verkoperslys’. CUM het “beslis ‘n teologiese standpunt en sal nie boeke publiseer wat die leserspubliek geestelik of teologies sal verwar nie.” Hulle publiseer boeke wat mense “se verhouding met God sal verstewig en hulle Christelike wandel positief sal beinvloed.” Kruik: Hoe fantasties om dit te hoor: ‘n Besigheid met sy waardes wat uitgeleef word. ONDERHOUD in Kerkbode, met akteur Jacques Gombault, wat die rol van die rugsteker-afrigter “Blackie” in ‘Getroud met Rugby’ en die worstelaar “Andries Landman” in ‘Kruispad’ vertolk het: Geloof speel ‘n groot rol in Jacques se lewe. Hy skroom ook nie om getuienis te lewer nie. Hy is ‘n kindermens- -tree gereeld by laerskole op en is ook betrokke by die opleiding van kinderakteurs. So het hy al meer as 100 kinderakteurs gehelp om volwaardige rolle in veral TV-reekse te kry. Jacques se siening is dat probleme deel van die lewe is- -hyself ken teleurstelling- -en dat mense geneig is om nie die probleme in die oë te kyk nie maar ontvlugting in goed soos dwelms, te soek. Jacques het twee kinderflieks gemaak, met pertinente lewensboodskappe, soos in Langgras waar Dirkie geleer het dat deur God in sy lewe toe te laat, hy die ‘wilddiewe van die lewe’ kon uitoorlê. Hy probeer ook om in sy kinderflieks die rol van die pa te herstel. NUWE HOOP vir HUGENOTE-KOLLEGE: Die Kruik het onlangs verwys na hierdie langpad-kollege se opdraande stryd om oorlewing. Dalk kom daar uitkoms deur gevorderde onderhandelinge met die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT). RYK en ARM: Suid-Afrika is die land waar die gaping tussen ryk en arm die grootste is. ‘n Tweedag konferensie in Belville het hierdie sensitiewe en gevaar-kwessie ontleed en rigting probeer vind. Met sprekers soos dr Braam Hanekom (vorige moderator van die NG SuidKaap), prof Sampie Terreblanche, Moeletsi Mbeki, Tim du Plessis en ander invloedrykes, was dit ‘n byeenkoms waaroor mens eintlik meer sal wil weet. Party van hierdie sprekers is mense wat nie doekies omdraai nie. Mbeki se verdeling van die land se sosiale struktuur, in 5 groepe, is baie interessant: Die bourgeoisie of kapitaliste wat produktiewe bates en vaardige bestuur besit; die burokratiese bourgeoisie wat die politieke hef in die hand het en die staatsbates beheer en bestuur; georganiseerde arbeid/vakbonde wat die arbeidsmag beheer; die onderklas waarvan baie werkloos is maar die stemgetalle het; en onafhanklike professionele persone en instellings (soos kerke). Almal het sterk en swak punte en almal is kwesbaar. Daarom is dit belangrik dat hulle in mekaar se oë moet kyk. Dr Hanekom sê die doel moet wees om ‘n nuwe golf van sensitiwiteit in die kerk vir armes te skep. Prof Sampie T sê die sleutel is “verantwoordbaarheid”.””. 3

Om met mekaar te kommunikeer is soos eet en asemhaal, een van die mees basiese doen-dinge in die lewe. Ook iets wat sommer vanself, spontaan, kom. Daar is sekerlik vele akademiese definisies vir ‘kommunikasie’ maar ek wil eerder net ‘n paar eie gedagtes oor hierdie belangrike lewensaspek in jou midde laat, net om weer daaroor na te dink. Verseker het dit myself weer getref hoe mens belangrike dinge in die lewe nalaat en verkeerd hanteer. Kommunikasie: ‘Kommunikasie’ is immers daar om uitdrukking te gee aan’n mens se innerlike gevoel, denke en behoeftes. Dit geskied meesal deur die gesproke woord, dus praat, of deur die geskrewe woord (skryf van ‘n brief, sms, epos, ‘n artikel of boek). Maar dan is daar ook nog lyftaal wat ‘n mens se gevoelens op ‘n baie eerlike en dominante manier kan kommunikeer en daarom kan ‘n mens se lyftaal selfs dit wat jy praat, heeltemaal weerspreek. Lyftaal kan dikwels uiters subtiel wees. Verder is stilbly natuurlik ook ‘n manier om te kommunikeer, soos in die gesegde ‘stilbly is ook ‘n antwoord’. ‘Stilbly’ kan soms ‘n wrede manier van kommunikasie wees, veral teenoor ‘n geliefde, of kan meehelp om ‘n derde party wat nie teenwooordig is in ‘n gesprek nie, te na te kom. Aan die ander kant is ‘stilbly’ op die regte tyd en vir die regte rede ‘n groot bate. Soos met baie dinge in die lewe is daar ook in hierdie geval ‘n ‘wat’ en ‘n ‘hoe’. Die inhoud van jou boodskap en die wyse hoe jy dit kommunikeer kan ‘n baie groot effek hê op die een wat dit moet inneem en verwerk. Dit is iets wat ‘n mens altyd van bewus moet wees! Deur jou ‘sê’, (of ‘nie-sê-nie’) of wat jy skryf, of uit jou houding,(bv. jou lyftaal) of deur jou ‘stilbly’, beïnvloed jy, want kommunikasie is twee-rigting verkeer en het daarom gewoonlik ‘n reaksie (al is dit stilswyend) tot gevolg. Geloofwaardigheid is natuurlik essensieel- -daarsonder is ‘n boodskap futiel. En dan die liefde - - selfs die hardste hou op die kinnebak, in kommunikasie-terme, kan deur die ontvanger verwerk word as die ‘slaner’ dit in ‘n trant en gees van liefde doen. Kommunikasie verg oordeel, regte benadering en vermoëns om werklik effektief te wees in verskillende omstandighede: > In jou oordra van blote feite en kennis of vertel van ‘n storie kan dit makliker of moeiliker vir die hoorder wees om dit in te neem, afhangend van jou eie entoesiasme,

duidelikheid en orde in jou kommunikasie-patroon. Ja, goeie kommunikasie verg ‘orde’ - -mens bereik meer deur by die punt en by die relevansie van ‘n saak of storie te bly en te waak teen die versoeking om ‘sy-takke’ te neem of die kar voor die perde te span. >Om vreugde en goeie nuus aan andere oor te dra is maklik en lekker maar in gevalle waar ‘n boodskap trane en hartseer gaan bring, verg dit die ekstra dimensie van empatie en meelewing- -en genade. >‘n Boodskap wat moeilikheid en ongelukkigheid gaan meebring, verg goeie oordeel en sensitiwiteit want die hoe jy dit kommunikeer, het as resultaat meer of minder begrip aan die ontvangkant. >‘n Mens kan deur jou kommunikasie positief (of negatief) afgee aan andere. Jy kan ook iemand te ná kom of kwaad en selfs woede aan die anderkant ontketen. Met kommunikasie kan jy jouself blootstel; ‘n krater van jouself maak; jouself in die moeilikheid bring; ‘n vriendskap skade aandoen- -of bou. >Maar mens is geneig om te vergeet dat kommunikasie ook ‘n luisterkant het. Sonder die vermoë om ook goed te kan luister, kan geen kommmunikasie volledig wees nie.

Niks bou die beeld wat ander mense van jou het, seker meer as deur dit wat jy kommunikeer en hoe jy dit doen nie. Wat ‘n verantwoordelikheid teenoor jouself!! Kommunikasie is dus iets wat mens onder sekere omstandighede met sensitiwiteit en met oorleg moet doen. Die Bybel, soos in Jakobus, waarsku oor die beheersing van die tong en daar is wyse raad te vind op talle plekke in die Bybel. Langenhoven het duidelik baie hieroor nagedink en mens kan baie leer uit sy eie ‘spreuke’ hieroor. “Moenie eers skryf en dan dink nie. Dink liewer eers en skryf dan nie. Skryfwoorde is nie mondwoorde wat wegwaai nie. Of wat jy later kan oor stry nie.” ……. “Stilbly is ook ‘n woord, en daarom kan jy daarmee ook lieg.”……...“Die gefluisterde woord trek verder as die geskreeude.”……“Leen jou ore uit aan iedereen wat ‘n tong het, maar moenie jou tong uitleen aan iedereen wat ore het nie.” Langenhoven besef egter die onvolmaaktheid van die mens, want oor sy eie ‘spreuke’ hou hy die agterdeur oop: “Ek hoop die goeie rade wat ek hier gee sal meeste gelees word deur vreemde mense. My eie bure kan my strakkies die onreg aandoen om op te let of ek dit self navolg.” Ons is as mense hier op aarde geplaas vir mekaar. Om mekaar te ondersteun; mekaar te leer- -in talle opsigte; vreugde vir mekaar te verskaf; af te gee aan mekaar en sodoende mekaar te bou en te verryk. God maak veral van mense gebruik om Sy Wil te laat geskied hier op aarde en sodoende staan ons in Sy diens. Kommunikasie tussen mense speel ‘n sleutelrol hierin en dit is ook hierdie vermoë wat ons in staat stel om God te loof en om te 4 getuig.

Mag ons daarna streef om ons kommunikasie in liefde te doen tot bemoediging, tot aansporing en erkenning, tot verryking en vreugde van die mense om ons. Dis ‘n kosbare geskenk uit die hand van God. As Kommunikasie-bedieningsgroep in die Gemeente, kan ons bydrae in die totale kommunikasie-prent maar slegs ‘n klein deeltjie uitmaak. Ons hoop dat ons duidelik kan weerspieël wat ons graag wil doen, bereik en wil wees. Ons spel die doelwitte hieronder uit. Ons sal ons bes doen om waarde by te voeg tot kommunikasie in die gemeente. Wynand Harmse, namens Kommunikasie-bediening. (Steyn de Villiers, Altima Julyan, Leon Koen, Connie Peet, Netta Rosouw en ekself).

Belangrike Inligting! Webwerf-adresse Noorderkruis: www.noorderkruis.co.za Suiderkruis: www.ngplet.co.za

Facebook-adresse Suiderkruis: http://www.facebook.com/home.php?#!/p ages/Suiderkruis-GemeentePlettenbergbaai Noorderkruis: http://www.facebook.com/home.php?#!/g roup.php?gid=283001817161&v=wall

E-posadresse Ds Chris du Preez [email protected] Ds Willie Smith [email protected] Kerkkantoor [email protected] Kruik Altima [email protected] Wynand [email protected] Connie [email protected]

KOMMUNIKASIE in die GEMEENTE: Die tegnologie stel ons as Gemeente in staat om op verskillende maniere, afhanklik van die behoefte aan en die aard van inligting, met mekaar te kommunikeer. Die media wat die Kerkraad in die toekoms al meer benut sal wil sien, is: a) Die Kruik as ‘n oorkoepelende maandelikse Gemeenteblad, met die missie om by te dra tot geestelike verryking, bemoediging en inspirasie, asook om nuus en inligting te verskaf oor die breë godsdiensterrein, die NG Kerk in besonder en oor ons eie gemeente (met die 2 wyksgemeentes). Die Kruik is nou in die 5e bestaansjaar. b) afsonderlike Webwerwe vir die 2 wyksgemeentes (alhoewel sommige inligting op ‘n werf, soos bv geskiedenis en sekere finansies, noodwendig van toepasssing is op hele gemeente). Die Webwerf dien as bron van inligting (verlede en resente) oor die gemeente en die spesifieke wyksgemeente; die bestuur, finansies, strukture, asook die aktiwiteite en die mense wat die leiding daarvan neem.. >>Noorderkruis se webwerf is reeds ‘n tyd lank in gebruik. >>Suiderkruis se webwerf is sopas in werking gestel en word onder Suiderkruis-nuus bekend gestel. c) afsonderlike Facebook vir elke wyksgemeente , met die doel om sosiale en persoonlike kommunikasie tussen lidmate aan te moedig. Sosiale en ander geleenthede kan beter en meer persoonlik weerspieël word deur o.a ook die visuele van fotos. So leer ons mekaar beter ken. d) SMS en e-pos is meer een-op-een kommunikasie, selfs al word dit in ‘bulk’ gestuur. Word gebruik om ‘n spesifieke boodskap/inligting oor te dra; mense te herinner aan iets of om uit te nooi, ens. Word gebruik en geinisieer deur enige bron, soos wat omstandighede verg maar sal waarskynlik in praktyk Wyks- of Bedieningsgroep gebonde wees. Leraars maak veral hiervan gebruik. >>Lidmate word uitgenooi om hierdie media te benut om enige kwessie, saak, kommer of ongelukkigheid oor enige aspek van ons kerklike aktiwiteite, op te neem met enige van die leraars, leiers van betrokke bedieningsgroepe of die 2 wyksleiers, of stuur dit aan ons by die Kruik of na Facebook in geval jy enige inset wyer as een-op-een wil lewer. 5

2.4 FINANSIES: a) Kortliks ‘n opsomming van die posisie vir vanjaar (2011) met ‘n vergelyking met vorige jare. b)Agtergrond tot die onlangse en huidige finansiële posisie; c) Werklike syfer-detail vir vorige jaar en huidige jaar se Begroting. d)Bankbesonderhede. (Bankbesonderhede verskyn op ‘n paar plekke op web).

Suiderkruis se webwerf (wat aanvanklik bedoel was as gemeente-web en toe teruggehou is hangende die struktuurveranderinge) is nou voltooi. Ons glo dat die webwerf gebruikersvriendelik is en dat lidmate of ander belangstellendes dit maklik sal vind om gou-gou te kry wat verlang word. Dit mag lyk asof daar sekere duplikasies is. Dit is wel so maar ons wou dit juis makliker vir gebruikers maak- -deur verdere opsoekwerk en oor-en weer verwysings uit te skakel. Op Suiderkruis se webwerf is hoofsaaklik die volgende beskikbaar: 1. TUISBLAD: Eredienstye; predikante se name en skakelnommers. 2. ONS GEMEENTE: hieronder op afsonderlike skakels: 2.1 VISIE en GEMEENTEBOU: Agtergrond tot ons Visie en kenmerke uit die Gemeentebouprogram; werksaamhede van die onderskeie Bedieningsgroepe; die ontwikkelinge nả Gemeentebou in 2006, tot by die huidige struktuur. 2.2 STRUKTURE/BESTUUR: Hier kry jy die werking van die huidige struktuur van ‘n klein Sentrale Kerkraad en 2 Wykskerkrade asook die nuwe struktuur en u as lidmaat. Die kwessie van ‘Vrye Assosiasie’ word hier behandel. 2.3 GESKIEDENIS van GEMEENTE: In 5 dele nl. a) Ontstaan/Stigting en vroeë geskiedenis; b)Geboue en Strukture; c) Finansies van die vroeëre jare, insl grondskenkings; d) Die Predikante van die Gemeente sedert stigting, met kort skets van elk; e)Resente geskiedenis, wat insluit die Gemeentebouprojek en daarna, tot nou.

3. KONTAK ONS: Hier vind jy die Kerkadresse en die name en kontakbesonderhede van die 2 predikante en Gemeente-Skriba asook Suiderkruis se Orrelis, Koster , Wykskerkraadslede en Bedieningsgroepe. 4. AKTIWITEITE: Die doel en funksie van die onderskeie ‘Aktiwiteite’, met name en kontakbesonderhede van leiers daarvan, nl Pastoraal; Deernis; Leeglê; Uitreik; Bitou-Opleiding; Vroue Belangegroep; Bybelverspreiding; Kommunikasie; Jeug; Omgeegroepe . 5. JEUG: Daar is ‘n afsonderlike skakel vir JEUG geskep, sou dit nodig wees om dit verder te onderverdeel in Kategese, Jeug, Kinderkerk; Jong werkendes. Hierdie skakel sal verder ontwikkel moet word in oorleg met betrokkenes. 6. KALENDER: Datums en tye van gebeure, vergaderings, funksies, asook ad-hoc gebeure. 7. KRUIK: Die laaste 2 uitgawes van die Kruik sal altyd op die Web beskikbaar wees. Bedieningsgroepe en lidmate word vriendelik versoek om enige foute in gegewens wat u opmerk, aan Wynand of Altima deur te gee asook enige byvoegings wat verlang word. Laat ons asseblief aanvaar dat die weergawe wat nou beskikbaar is, vir die eerste 2 maande in toetsfase is, en enige kommentaar wat Bedieningsgroepe en lidmate het, bygewerk sal word. Die Web kan slegs goed en korrek wees as die mense wat direk betrokke is by aktiwiteite, dit gereeld nagaan en feite deurgee vir opdatering.

6

E-Pos bediening

Wykskerkraad Portefeulje: Diens van Barmhartigheid Die Portefeulje: Diens van Barmhartigheid word deur Marietjie Wagenaar bestuur. Onder haar leiding is ‘n kospakkie-projek geskep. ‘n Standaard lys items, waarvan die waarde omtrent R100 beloop, word weekliks aan gesinne in nood verskaf. Indien u wil, kan u u bydrae by die Kerkkantoor ingee – en vra dat dit vir die Noorderkruis kospakkie-projek aangewend word. U kan ook self ‘n kospakkie saamstel. Kry net die nodige inligting by Marietjie (082 355 4929) en reël dan om die kospakkie by haar af te lewer. Soms is dit ook nodig om finansiële bystand aan mense in nood te verskaf. Dit is dus belangrik dat daar fondse vir dié doel beskikbaar sal wees. Bydraes kan op die bankrekening van die NG Kerk Plettenbergbaai inbetaal word.

Het jy geweet dat ons ‘n e-posbediening het, waar Sondag se preek op ‘n Donderdag uitgestuur word? Teken jouself of ‘n familielid (gratis) hierop in deur ‘n e-pos te stuur aan [email protected] Ons stuur tans e-posse aan oud-lidmate en kinders van lidmate regoor die wêreld!

Noorderkruisblad-kontak Netta Rossouw Tel/Faks: 044 535 9549 E-pos: [email protected] Artikels en idees welkom. Indien jy nie toegang tot ‘n rekenaar het nie, kontak Netta. Sy sal jou bydrae kom afhaal.

Takkode: 210514

‘n Interessante koerantartikel aan die einde van verlede jaar (The Daily Mail, 22.11.2010), het beweer dat die gemiddelde volwasse persoon agt minute vyf-en-veertig sekondes per dag aan kla spandeer. Om die waarheid te sê: die navorsing agter hierdie bewering het bevind dat die gemiddelde persoon ‘n ongelooflike 1,300 keer per jaar kla! Indien ‘n mens die agt minute vyfen-veertig sekondes per dag vermenigvuldig, beteken dit dat ons ongeveer 53 uur per jaar in ‘n omgekrapte staat verkeer.

Watter voorreg, watter wonderlike seën om Sondag, 24 April deel te kon wees van Noorderkruis se Paasfeesviering…

Blykbaar is die mees algemene onderwerpe van klagte: hoe duur dinge is, hoe min daar op televisie is om na te kyk, die weer, huishoudelike take, ons finansies en - natuurlik - die regering. In plaas daarvan dat ons skouer aan die wiel sit om ons probleme aan te spreek, spandeer ons eerder ons tyd om te grom en kla, aldus die studie deur die tandepaste vervaardiger, Sendodyne. ‘n Derde van die mense wat aan die studie deelgeneem het, het erken dat hulle eerder maar met hul ontevredenhede sal saamleef (terwyl hulle daaroor kla), as wat hulle iets daaraan sal doen. Verder het ‘n vyfde van die respondente beweer dat hulle nie genoeg tyd het om hul ongelukkighede aan te spreek nie.

Bank: Eerste Nasionale Bank Rekeningnommer: 53371029209 Verwysing: Noorderkruis.

In lieflike sonskyn en kleurvol getooi het die gemeente blomme en loof uit hul tuine gebring om by te dra tot die gesamentlike Paasfeesrangskikking voor die kansel. Die kerse en die wit-gedrapeerde kruis het die gewyde maar blye boodskap reeds voor die aanvang van die diens al uitgedra: “Die Here het opgestaan; die Here het waarlik opgestaan!” Daar was inderdaad ‘n driedubbele bevestiging van God se onbeskryflike liefde en genade: Die gemeente kon Jesus se opstanding herdenk en ook getuies wees by die doop van tweelingdogtertjies, Chanel en Nia du Plessis. Hierdie Paasfeesdiens het die gemeente opnuut opgeroep om, anders as die dissipels in die teksvers (Joh. 20:10), nie net huis toe te gaan nie, maar om uit te gaan en te vertel: “Die Here het opgestaan; die Here het jou lief; die Here het ‘n plan; die Here is in beheer.” Dankie, ds. Chris, dat jy dit jou werk maak om ons elkeen – tot klein Luca van Johannesburg! – persoonlik te betrek en opnuut op te roep tot die diens van die Here. – Marlene van Schalkwyk

Die meeste kla vind aan die begin van die werksweek plaas, met ‘n derde van die 4,000 deelnemers wat aangedui het dat hulle die meeste irritasies op ‘n Maandag beleef. Soos die naweek egter nader kom, smelt baie van die griewe weg. Die spotprent in die koerant het die situasie nogal mooi opgesom: 'You've only been up ten minutes and you're already over your quota'

7

Spesiale Zero verjaarsdae Mei

01/05 07/05 23/05

Geluk aan die volgende ouers wat ‘n nuweling in hulle huise verwelkom het die afgelope tyd. Neville & Tracey Botes met die geboorte van Donay.

Elsie Kritzinger Arno Schonken Melanie Potgieter

Johann & Anel vd Schyff met die geboorte van Mieke. Juan & Sulet Wiese met die geboorte van Ilanie. Hoop julle sal net vreugde ondervind met jul dogtertjies in julle lewens. Wys net weereens hoe groot ons God is.

Voorbidding Hou asseblief die volgende persone en hulle families voortdurend in julle gebede. Hulle het daaglikse uitdagings wat oorbrug moet word: Saskia – Riaan & Lucy se dogtertjie (Pikkie & Thea Lombaard se kleindogter) Nia Bester – Benita & Christoff se dogtertjie (Bennett & Anette v Rensburg se kleindogter) Lidmate wat siek is of familie het wat siek is, julle is in ons gebede: Herman – Herman & René van Zyl se seuntjie wat tans in die hospitaal is. Ons bid vir die families wat geliefdes aan die dood afgestaan het. Ons gebede is met julle in hierdie moeilike tyd.

Suiderkruis: teks vir die maand Deut 8:10-14 Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet deurdat jy nie gehoorsaam is aan sy gebooie en bepalings en voorskrifte wat ek jou vandag gee nie. As jy nie gehoorsaam is nie, kan dit gebeur dat jy genoeg eet en mooi huise bou en rustig woon, dat jou grootvee en jou kleinvee baie word, dat jou wilwer en goud Vermeer en jou besittings al hoe meer word, en dat jy dan hoogmoeding word en die Here jou God vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Handelinge 4:32-33 Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir himself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, die genade van God was groot oor hulle almal.

Totsiens & Welkom Tania Niewoudt was vir 13 jaar in ons Gemeente se diens as Skriba. Tania het die pos met onderskeiding beklee. Haar vriendelikheid en behulpsaamheid staan uit wanneer mens aan haar in die Kerkkantoor terugdink. BAIE DANKIE!! Tania het ‘n pos by die Laerskool aanvaar. Baie welkom aan ons nuwe skriba, Zelda Kruger. Hoop jy sal gelukkig wees by ons. 08 Mei – Moedersdag 14 Mei – Pleister vir die siel (Suiderkruis) 02 Junie – HEMELVAART Hemelvaartdienste: 18:30 Plettenbergbaai 18:30 Wittedrift 03 Junie – Teme-ete (Suiderkruis)

Vir meer inligting oor Pleister vir die Siel deur Rickert Botha (RSG) kontak asb vir Marlize Jacobs op 083 432 3186. Dit word gehou by Harkerville Forest Lodge (044-5327777), hulle kan gekontak word vir akkommodasie. 8

Suggest Documents